
Is jy ’n aspirantliedjieskrywer? Het jy woorde en wysies wat jy die wêreld wil laat hoor, of wil jy in die voetspore van legendes soos Anneli van Rooyen of Jodi Jantjies volg? Kom word dan deel van die ATKV-Crescendofamilie.
Inskrywings vir vanjaar se ATKV-Crescendo is van 1 Augustus af oop en jy kan inskryf per e-pos of deur een van ons oudisiegeleenthede, aangebied in samewerking met Expression Session, by te woon. Ons wil graag iets van alles hoor – as jy rap-, jazz-, R&B-, soul-, funk-, country- of klassieke liedjies skryf en sing, stuur dit vir ons!
Oudisies tydens Expression Sessions gaan van September tot November in Worcester (laaste Donderdag van die maand by die Kleinteater) en Kuilsrivier (laaste Sondag van die maand by DNA Café) gehou word. Laai die inskrywingsvorm af, voltooi en stuur na crescendo01@atkv.org.za en dui aan watter Expression Session jy wil bywoon.
Besoek ook ons sosialemediaplatforms vir inspirasie – geniet musiek, produksies en opleidingsinhoud deur ons finaliste en mentors.
ATKV-Crescendo word in trotse samewerking met die Wes-Kaapse departement van sport, kuns en kultuur en Expression Session aangebied.
Stuur ’n e-pos na crescendo01@atkv.org.za vir meer inligting of laai die inskrywingsvorm HIER af.
Die 12 finaliste wat tydens die Mentorskapprogram in Maart gekies is, word op 8 Oktober 2022 tydens die Crescendokonsert bekend gestel.
Kom beleef die beste van Suid-Afrika se nuutste talent!
Die Daisy Jones-teater sal op die dag ’n mini-fees aanbied met ’n verskeidenheid stalletjies – van eetgoed tot craft gin, bier en whiskey.
Jou kaartjie gee jou toegang tot die konsert, wat ook bekendes sal insluit, en vroeë besprekings kry afslag op toegang en by sekere stalletjies.
Mentorskap word HIER geleef!
Crescendo gaan oor veel meer as net liriek, wysies en note. Mentorskap is kernbelangrik en die Crescendo-mentors word gereeld genooi om hul wysheid met finaliste en die publiek te deel.
Crescendo se Plat-formsessie
ATKV-Crescendo gee aan kunstenaars die geleentheid om ongeag musiekgenre en roem hul musiek op die Platformsessies te deel.
Die Platformsessies bestaan uit drie episodes wat op digitale kanale gepubliseer sal word. ’n Beperkte aantal kaartjies is per opname beskikbaar.
In 2022 stel ons die Platformsessies-lojaliteitsklub bekend – as jy al drie Platformsessies bywoon, ontvang jy met jou derde bywoning ’n gratis glas wyn en afslag op Platformsessiesprodukte soos T-hemde en wynglase. En natuurlik afslag op kaartjies vir alle ATKV-Crescendoproduksies!
Die ATKV-Crescendo-orkes sal tydens elke episode gaskunstenaars – ATKV-Crescendofinaliste en ’n bekende in die musiekbedryf – verwelkom. Die Platformsessies bied aan kunstenaars die geleentheid om hul kuns ten toon te stel, ongeag hul gekose musiekgenre en of hulle al bekendheid verwerf het.
“Musiek is ’n universele taal wat mense bymekaarbring. Met die Platformsessies wil ons vreugde, vrede en samehorigheid bewerkstellig,” sê Robin Fourie, ATKV-Crescendo-ambassadeur en mentor.
Die Platformsessies word in trotse samewerking met Daisy Jones in Stellenbosch aangebied.
Die datums vir vanjaar se sessies is Vrydag 20 Mei om 19:00, Vrydag 22 Julie om 19:00 en Vrydag 18 November om 19:00. Kaartjies kos R150 per persoon en kan gekoop word op Quicket.
Vir meer inligting kontak Morne van Staden by mornev@atkv.org.za.
Crescendokunstenaars
Wil jy graag een van die Crescendokunstenaars soos Jodi Jantjies of Whaden Johannes bespreek, of dalk ’n Platformsessie bespreek vir jou fees, teater of korporatiewe geleentheid? Stuur ’n e-pos aan Morne van Staden by mornev@atkv.org.za met jou versoek.
Besoek ATKV-Crescendo se YouTube-kanaal om na musiekvideo’s of Platformsessies te kyk of na ons kunstenaars se albums en enkelsnitte te luister.