Skip to the content

Uitslae in 2018

ATKV-Handevat: Affies se Kombuis ’n ligpunt in dié kinders se lewe

Dis ’n see van glimlaggende gesiggies wat jou by die Laerskool Genl. Nicolaas Smit in Pretoria begroet. Uitgevat in hul beste klere vir Valentynsdag wag hulle in die ry vir wat waarskynlik hul enigste bord kos vir die dag sal wees.

“Tannie, tannie, dit voel of ek by ’n restaurant eet,” kom spog ’n klein gr. 4-meisietjie oor haar bord kerrie-en-rys.

Die vennootskap tussen die Afrikaanse Hoër Seunskool en die skool van mnr. Chris Sealie is een wat ’n reuse-verskil maak en dit is duidelik waarom hulle as die wenners van ATKV-Handevat gekroon is.

Dit was in 2014 toe mnr. Sealie vir dr. Pierre Edwards na die skool genooi het en hul behoefte vir ’n voedingskema uitgespreek het. Daar was net te veel kinders wat honger deur die skooldag moes kom. “Die kinders kon nie konsentreer nie, was permanent moeg en dikwels afwesig,” vertel mnr. Sealie.

Sedertdien gee Affies elke dag tydens eerste pouse ’n gebalanseerde bord kos vir 360 kinders. Dit het egter nie net hierby gebly nie. Aanvanklik het Affies se koshuispersoneel die kos gemaak en dan afgelewer. Gerrie Kriel, voedseldiensbestuurder van Affies se skoolkoshuis, het egter werklose mammas in die gemeenskap opgelei om kos keurig voor te berei en dan pouses uit te deel. Affies se Kombuis is in 2016 op die terrein van dié Claremont-skool geopen en spog nou met drie permanente personeellede. 

Dit kos sowat R7000 ’n week om die voedingskema aan die gang te hou. Kospakkies word ook elke maand aan 100 gesinne uitgedeel.

“My hart breek elke dag as ek sien in watse omstandighede van die kinders leef en daarom kan ek nie uitgepraat raak oor wat Affies vir ons beteken nie. Ek wil vir Pierre Edwards alle eer gee dat hy gehoorsaam was aan God se stem. En dan natuurlik ook vir die kinders en ouers van Affies,” sê ’n opgewonde mnr. Sealie.

Volgens JJ van Niekerk, een van die beoordelaars van die ATKV-Handevatkompetisie, word die projek puik deur mnr. Sealie en sy personeel gekoördineer en dit is hul hooffokus om ’n verskil in die lewens van kinders teweeg te bring.

“Ek wil jul aanmoedig om jul sukses te verpak en te deel met jul buurskole sodat dit soos ’n veldbrand kan versprei om ons mooi land spoedig te verander.”

Dr. Edwards glo deur Affies se betrokkenheid by die Laerskool Genl. Nicolaas Smit kan hy vir die seuns van sy skool die belewenis gee van wat dit is om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak.

“Die kinders van Genl. Nicolaas Smit het aan die einde van 2016 briefies geskryf wat ons hier by die skool opgeplak en sommige geraam het sodat die seuns dit elke dag kan sien.”

Van die briefies lui:

“Elke oggend kan ek nie wag om by die skool te kom en te kan weet ek het die lekkerste broodjies by die skool nie en dan 1ste pouse kry ek ook nog ’n lekker bord kos. Dit gaan nie altyd so lekker by die huis nie. Maar ek weet ek word darm (sic) versorg elke dag en nag.”

“Al is daar nie altyd geldjies by die huis nie bly ek lief vir die kossies by die skool. Dankie tannies dat julle vir ons almal by die skool elke dag kos maak en vir ons sorg. As ek by die huis kom vertel ek vir my ma en pa wat ek by die skool geëet het.”

Die Laerskool Genl. Nicolaas Smit en Affies sal elkeen R30 000 ontvang as wenners van ATKV-Handevat. Dr. Edwards het reeds gesê dat sy skool se prysgeld net so aan sy vennoot in die projek oorgedra sal word.

Die Hoërskool Vaalharts en die Laerskool Hartsvaal in Jan Kempdorp is as die tweedeplekwenners aangewys. Hulle maak opvoedkundige hulpmiddels uit herwinbare materiaal.

Die Hoërskool Hugenote in Springs in vennootskap met Kids Haven is derde vir hul groentetuin wat hulle by dié kinderhuis op die been gebring het.

Die kriteria waarvolgens die ATKV-Handevatprojekte beoordeel word, is soos volg:
•    Albei skole moet verantwoordelik wees, help met die beplanning en ook betrokke wees by die uitvoer van die projek.
•    Die projek moet in die minder bevoorregte gemeenskap uitgevoer word.
•    Die projek moet tot voordeel van die hele minder bevoorregte gemeenskap wees, en nie net voordelig wees vir ’n gefokusde groepie nie.
•    Dit moet ’n volhoubare projek wees.