Skip to the content

Uitslae in 2019

Hoërskool Noordheuwel wen die ATKV-Tienertoneelkompetisie vir die eerste keer!

Maande van harde werk is verby vir die agtien groepe hoërskoolleerders wat sake uitgespook het om as wenner van die ATKV-Tienertoneel 2019 aangewys te word. Die finaal het plaasgevind by die Adam Small-teater in Stellenbosch.

Die wenproduksie is Waterbrief, ʼn eenvroustuk van Hoërskool Noordheuwel (Krugersdorp). Hulle ontvang R30 000, die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee en ’n speelvak tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 2020. Minke Marais ontvang die toekenning as beste aktrise vir haar spel in Waterbrief.

Die naaswenner is In die duister en deurmekaar van Hoërskool Tygerberg (Kaapstad). Hulle ontvang R20 000 prysgeld. Dié produksie het ook die toekenning ontvang vir die beste hantering van algehele tegniese aspekte en die beste ensemblewerk. Frans Hamman is as die beste regisseur aangewys vir In die duister en deurmekaar.

Die produksie in die derde plek is Sonder van Hoërskool Zwartkop (Centurion) en die geselskap ontvang R10 000. Corné Landsberg is aangewys as die beste klankoperateur vir Sonder.  Hierdie produksie is ook die wenner van die afdeling vir slegs leerders, dus ontvang die skool nog R10 000 prysgeld. Drie produksies waarvan al die aspekte (regie, skryf van die teks, spel én tegniese aspekte) deur die leerders self behartig is het deurgedring na die finaal.

Die ATKV het vanjaar twee nuwe toekennings daargestel om kreatiwiteit van die produksiespan te beloon – in die vorm van kostuums en grimering. Die toekenning vir die beste grimering word gedeel deur Hoërskool Noordheuwel vir Waterbrief én die slegs leerders-produksie van Hoërskool Parel Vallei – Bruwelik.

Die beste verhoogbestuurder is Leoné Smith, en die beste beligtingsoperateur is Wéan Bekker – albei van Hoërskool Eldoraigne se Lentelus. Hoërskool Eldoraigne ontvang ook die toekenning vir die beste kostuums.

Die mees belowende spel in ’n rol deur ’n seun is Styris Cupido as Franky in Bernadino Heights High School se Hoekpark.

Die mees belowende spel in ’n rol deur ’n meisie is Thina Gabavana vir verskeie rolle in Hoër Meisieskool Bloemhof se Uhm …

Die beste akteur in ’n ondersteunende rol is Themelios Demas as Tristan September én Tyrone Apolles in Die Meisie met Môre in haar oë van Hoërskool Tygerberg.

Die beste aktrise in ’n ondersteunende rol is Nina Smith as Lallie in Hoërskool Noordheuwel se ’n Brug na die sterre.

Twee spelers is geïdentifiseer as die beste akteur in ’n hoofrol tydens vanjaar se finaal: Reinhardt Prinsloo as Ruben in Aksie! van die Afrikaanse Hoër Seunskool en Gerlo Theron as Melchior Gabor in Lentelus van Hoërskool Eldoraigne.

Die ATKV-Tienertoneelkompetisie is al vir 55 jaar ’n platform vir talent- en teaterontwikkeling. Hierdie projek bied aan hoërskoolleerders die geleentheid om betrokke te raak by alle aspekte van teater, soos toneelspel, regie, skryf van tekste, kostuums, grimering, dekor, klank, beligting, verhoogbestuur en choreografie.

Ongeveer 4 000 hoërskoolleerders het vanjaar deelgeneem aan die 213 produksies wat tydens 12 ATKV-Tienertoneelstreeksfeeste landswyd en in Namibië opgevoer is. Jong voornemende teatermakers het die verhoë warm gespeel, gehore vermaak, ontroer en bekoor en uiteindelik is die beste produksies na die finaal genooi.

Drie skole – Hoërskool Tygerberg, Hoërskool Zwartkop en Hoërskool Noordheuwel – het elkeen twee produksies in die finaal gehad. Hulle het meegeding teen Hoërskool Stellenbosch, Afrikaanse Hoër Seunskool, C&N Sekondêre Meisieskool Oranje, Helpmekaar Kollege, Bernadino Heights High School, Hoërskool Parel Vallei, Hoërskool Menlopark, Hoërskool Hugenote, Hoërskool Florida, Hoërskool Eldoraigne, Hoërskool Parel Vallei en Hoër Meisieskool Bloemhof.

Vanjaar se beoordelaars was Craig Morris, Esther von Waltsleben, Ilse Oppelt, Ismail Mahomed, Jacques Bessenger en Tertius Kapp.

“Dis vir my wonderlik hoe ongelooflik kreatief daar met teaterelemente omgegaan word. Dis esteties mooi en raak ’n mens se hart aan, en boonop is die stories wat vertel word, uiters relevant en nodig vir die samelewing om te hoor. Kwessies soos geweld teen vroue, tieners se daaglikse lewe, vriendskappe, tienerseksualiteit, die dood en die liefde kom onder die loep. Tienertoneel is mooi en opreg en sonder pretensie!”, sê Lizané Basson, projekorganiseerder.

Die doel van die Tienertoneelteksprys is die daarstelling van goeie nuwe opvoerbare eenbedrywe vir skole. Al die nuutgeskrewe tekste wat ingeskryf word vir ATKV-Tienertoneel kom ook in aanmerking vir die prys vir die beste nuutgeskrewe Tienertoneelteks van die volgende jaar. Wim Vorster, Mercy Kannemeyer en Jannes Erasmus het 107 nuutgeskrewe tekste van 2018 deur die loop van 2019 lees en beoordeel. In die derde plek is Dr. André Gerber vir tot stof l tot stilte – ’n paniekreaksie. Hy ontvang ’n brons ATKV-erepenning en R1 000 prysgeld. Die naaswenner is Alma Nel vir 90/10 en sy ontvang ’n silwer ATKV-erepenning en R3 000 prysgeld. En die beste nuutgeskrewe Tienertoneelteks word hierdie jaar toegeken aan Jo Stemmet vir As dit donker word. Sy ontvang R5 000 en ’n goue ATKV-erepenning. Hierdie teks is verlede jaar deur Selborne College van Oos-Londen aangebied.

Die volledige lys van nominasies en toekennings volg hier:

Die nominasies vir die beste hantering van tegniese aspekte:

  • Hoërskool Eldoraigne met Lentelus
  • C&N Sekondêre Meisieskool Oranje met saam
  • Hoërskool Parel Vallei met (V)LUG
  • Hoërskool Tygerberg met In die duister en deurmekaar

Wenner: Hoërskool Tygerberg vir In die duister en deurmekaar

Die nominasies vir beste verhoogbestuurder is:

  • Diandra Slabbert van Hoërskool Zwartkop vir Vrinne
  • Dillen Breytenbach van Hoërskool Noordheuwel vir Waterbrief
  • Leoné Smith van Hoërskool Eldoraigne vir Lentelus
  • Thys van den Heever van die Afrikaanse Hoër Seunskool vir Aksie!
  • Vianey Spamers en Ruben Barnard van Helpmekaar Kollege vir Forte F:Har(t)d

Wenner: Leoné Smith van Hoërskool Eldoraigne vir Lentelus

Die nominasies vir beste klankoperateur is:

  • Caitlin Gordon vir (V)LUG van Hoërskool Parel Vallei
  • Corné Landsberg vir Sonder van Hoërskool Zwartkop
  • Jean-Minique White vir Lentelus van Hoërskool Eldoraigne
  • Liané van Vuuren vir Uhm … van die Hoër Meisieskool Bloemhof

Wenner: Corné Landsberg vir Sonder van Hoërskool Zwartkop

Die nominasies vir beste beligtingsoperateur is:

  • Ané Conradie vir die Hoër Meisieskool Bloemhof se Uhm …
  • Morné Swanepoel vir Hoërskool Noordheuwel se Waterbrief
  • Twané Brits vir Hoërskool Tygerberg se In die duister en deurmekaar
  • Wéan Bekker vir Hoërskool Eldoraigne se Lentelus

Wenner: Wéan Bekker vir Hoërskool Eldoraigne se Lentelus

Die nominasies vir die beste grimering is:

  • Hoërskool Parel Vallei met Bruwelik
  • Hoërskool Hugenote met Skryf (gebaseer op ’n absolute nie-ware verhaal)
  • Hoërskool Noordheuwel met Waterbrief

Hierdie toekenning word vanjaar gedeel: Hoërskool Noordheuwel vir Waterbrief én die slegs leerders-produksie van Hoërskool Parel Vallei – Bruwelik

Die nominasies vir die beste kostuums is:

  • Die Afrikaanse Hoër Seunskool met Aksie!
  • Hoërskool Eldoraigne met Lentelus
  • Hoërskool Parel Vallei met (V)LUG

Wenner: Hoërskool Eldoraigne met Lentelus

Die nominasies vir die beste ensemblewerk is:

  • Aksie! van die Afrikaanse Hoër Seunskool
  • Hoekpark van Bernadino Heights High School
  • In die duister en deurmekaar van Hoërskool Tygerberg
  • Patriarchy van Hoërskool Florida
  • saam van die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje
  • Uhm … van die Hoër Meisieskool Bloemhof
  • Vrinne van Hoërskool Zwartkop

Die wenensemble van 2019 is: In die duister en deurmekaar van Hoërskool Tygerberg

Die nominasies vir mees belowende spel in ’n rol deur ’n seun is:

  • Dylan Lee as Bobby in Afrikaanse Hoër Seunskool se Aksie!
  • Jan-Daniël Naudé as Johan in die Afrikaanse Hoër Seunskool se Aksie!
  • Kyle Norman as Simphiwe Kwela in Hoërskool Tygerberg se Die Meisie met Môre in haar oë
  • Styris Cupido as Franky in Bernadino Heights High School se Hoekpark
  • Vaughan McLea as Miguel Westwood in Helpmekaar Kollege se Forte F:Har(t)d

Wenner: Styris Cupido as Franky in Bernadino Heights High School se Hoekpark

Die nominasies vir mees belowende spel in ’n rol deur ’n meisie is:

  • Zamar Shabalala vir haar spel in Hoërskool Florida se Patriarchy
  • Thina Gabavana vir verskeie rolle in Hoër Meisieskool Bloemhof se Uhm …
  • Lara Botha as Sonja in Die Hoërskool Menlopark se BRO(O)S
  • Kaylin de Lange as Hillary in Hoërskool Hugenote se Skryf (’n absolute nie-ware verhaal)
  • Jeanne-Marié Koekemoer as Ané in Hoërskool Stellenbosch se Donkievel
  • Greteli Fincham as Debora Credit in Hoërskool Stellenbsoch se Donkievel
  • Diandra Slabbert as die crew member in Hoërskool Zwartkop se Vrinne
  • Ané Radley as Dalene in Hoërskool Hugenote se Skryf (’n absolute nie-ware verhaal)

Wenner: Thina Gabavana vir verskeie rolle in Hoër Meisieskool Bloemhof se Uhm …

Die nominasies vir beste akteur in ’n ondersteunende rol is:

  • Dylan Roets as Johnny in Hoekpark van Bernadino Heights High School
  • Hano Groenewald vir sy spel in In die die duister en deurmekaar van Hoërskool Tygerberg
  • Junaid Koopman as Slab in Hoekpark van Bernadino Heights High School
  • Luan Swart as Moritz Stiefel in Lentelus van Hoërskool Eldoraigne
  • Luciano Fredericks as Jayden Carelse in Die Meisie met Môre in haar oë van Hoërskool Tygerberg
  • Themelios Demas as Tristan September én Tyrone Apolles in Die Meisie met Môre in haar oë van Hoërskool Tygerberg
  • Tiaan de Bod vir sy spel in In die duister en deurmekaar van Hoërskool Tygerberg

Wenner: Themelios Demas as Tristan September én Tyrone Apolles in Die Meisie met Môre in haar oë van Hoërskool Tygerberg

Die nominasies vir beste aktrise in ’n ondersteunende rol is:

  • Cleo Saal as Maria September in Hoërskool Tygerberg se Die Meisie met Môre in haar oë
  • Lenay Rossouw as Martha Bessel in Hoërskool Eldoraigne se Lentelus
  • Marzaan Grundlingh vir haar spel in Hoërskool Tygerberg se In die duister en deurmekaar
  • Nichola Viviers vir verskeie rolle in die Hoër Meisieskool Bloemhof se Uhm …
  • Nina Smith as Lallie in Hoërskool Noordheuwel se ’n Brug na die sterre
  • Zara van der Westhuizen vir verskeie rolle in die Hoër Meisieskool Bloemhof se Uhm …

Wenner: Nina Smith as Lallie in Hoërskool Noordheuwel se ’n Brug na die sterre

Die nominasies vir die beste akteur in ’n hoofrol is:

  • Craig Kleingeld as Heinrich in Aksie! van die Afrikaanse Hoër Seunskool
  • Gerlo Theron as Melchior Gabor in Lentelus van Hoërskool Eldoraigne
  • Jaden Philander as Shaun in Hoekpark van Bernadino Heights high School
  • Juandré Scholtz as Smittie in Vrinne van Hoërskool Zwartkop
  • Reinhardt Prinsloo as Ruben in Aksie! van die Afrikaanse Hoër Seunskool

Die toekenning gaan aan twee spelers:

Reinhardt Prinsloo as Ruben in Aksie! van die Afrikaanse Hoër Seunskool en Gerlo Theron as Melchior Gabor in Lentelus van Hoërskool Eldoraigne

Die nominasies vir beste aktrise in ’n hoofrol is:

  • Anaïs Lotz as Wendla Bergmann in Lentelus van Hoërskool Eldoraigne
  • Donné Boshoff as Anke du Toit in Sonder van Hoërskool Zwartkop
  • Emma van der Walt as Anke du Toit in Sonder van Hoërskool Zwartkop
  • Katya van Drimmelen as Adelene in Bruwelik van Hoërskool Parel Vallei
  • Minke Marais as Nina in Waterbrief van Hoërskool Noordheuwel

Die beste aktrise vir 2019 is Minke Marais as Nina in Waterbrief van Hoërskool Noordheuwel.

Die nominasies vir beste regisseur is:

  • Darryl Spijkers vir (V)LUG van Hoërskool Parel Vallei
  • Èmil Haarhoff en Barend Mynhardt vir Lentelus van Hoërskool Eldoraigne
  • Frans Hamman vir In die duister en deurmekaar van Hoërskool Tygerberg
  • Mariki de Villiers-Knop vir Waterbrief van Hoërskool Noordheuwel
  • Nichola Viviers en Ané Conradie vir Uhm … van die Hoër Meisieskool Bloemhof

Die beste regisseur is: Frans Hamman vir In die duister en deurmekaar van Hoërskool Tygerberg

Vir meer inligting kontak Lizané Basson by 084 789 1477 of e-pos lizaneb@atkv.org.za.