Skip to the content

ATKV ondersteun NWU-kampusdebat

Van links is Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV, Jaco van der Walt (NWU Kunste), Arno Hollander (KSR: Kunste), Mieke Hofmeyr (beste Afrikaanse spreker), Dalena d'Assonville (KSR: Voorsitter) en Ruan Jacobs (beste Afrikaanse spreker).

Tersiêre instellings bied die ideale teelgrond vir talent, karakter bou en die ontwikkeling van vaardighede.

Daarom het die ATKV onlangs die kampusdebatfinaal by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus ondersteun.

“Vir die ATKV is dit van onskatbare waarde om studente se talente en vaardighede te ontwikkel en te ontgin,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV.

“Die kuns en kultuur is van kardinale belang vir die groei en ontwikkeling van ’n student.

“Nie net leer ’n betrokke student hoe om te debatteer nie, maar word daar ook vriendskappe deur ons projekte gesmee.”

Altesaam 96 spanne het aan die kampusdebatfinaal deelgeneem.

Vergeet-My-Nie-dameskoshuis en die Veritas-manskoshuis het onderskeidelik die Afrikaanse afdelings gewen.

Mieke Hofmeyr van Vergeet-My-Nie en Ruan Jacobs van Veritas is as die beste Afrikaanssprekers aangewys.

“Dit is geleenthede soos die kampusdebat wat die ATKV as belangrik ag, en ons wil graag voortgaan om deur ons projekte ons voetspoor op kampusse te vergroot,” sê Gerrie.