ATKV-tak Gemeenskapsteater se 'Hanna' gaan ontroer
Die ATKV-tak Gemeenskapsteater in Bloemfontein gaan vanjaar wéér teaterliefhebbers betower met nog ’n produksie van puik gehalte. Martin Schwella van Schink Photography het die foto's geneem.
Hanna is gegrond op die gelyknamige roman deur Maretha Maartens en handel oor die Bybelkarakter Hanna se wroeging omdat sy nie ’n seun vir haar man, Elkana, kon baar nie. Ná ’n kinderlose huwelik van tien jaar trou Elkana met Peninna, wat geboorte aan die een kind ná die ander skenk.
Die bekende aktrise Susan Coetzer sal die hoofrol – dié van die volwasse Hanna – vertolk. Sy was onlangs as Mercia in die kykNET-sepie Binnelanders te sien.
Volgens haar sal oud en jonk by dié produksie aanklank vind.
“Dit is ’n gebalanseerde teks met talle moderne elemente,” sê sy.
“Sekere van die emosies wat deel is van Hanna se lewe, is tydloos.”
Saam met Susan is daar ook ongeveer 75 akteurs, dansers en orkeslede wat deel van die geselskap uitmaak.
Van Louis Brittz, bekende gospelkunstenaar en liedjieskrywer, se musiek sal in Hanna gehoor word.
“Gemeenskapsteater is ’n wonderlike bymekaarkomplek vir professionele en amateurdansers, -musikante en -akteurs. Dit is vet pret en hulle leer baie bymekaar,” sê hy.
“Dit is vir my ’n groot voorreg dat my musiek vir die produksie gekies is.”
Sowat tien van Louis se liedere waarvan baie Psalmryme is, sal in die produksie voorkom.
Volgens Maretha, skrywer van die gelyknamige roman, is sy baie beïndruk met die verwerking van haar boek.
“Hanna is die verhaal van gewone mense en nie van heiliges nie. Dit is die verhaal van waarom verhoor God nie gebede nie, en is Hanna se kinderloosheid dalk die gevolg van iets wat sy in haar jong dae gedoen het? ’n Mens sien wat dit dalk moontlik kon wees in die produksie.”
Die produksie is 12 en 13 April by die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein te sien.
Kaartjies vir die produksie is teen R100 op Pacofs se webtuiste beskikbaar.