Skip to the content

Kom kuier saam met die ATKV by die Upington Expo

Simon Witbooi (Hemelbesem).
Simon Witbooi (Hemelbesem).

Besoekers aan die Upington Expo, vanaf 2 tot 4 Mei, kan vanjaar uitsien na verskeie aktiwiteite wat met trots deur die ATKV aangebied word.

Danksy ’n borgskap deur die ATKV gaan Nama-dansers die geleentheid kry om besoekers met hul hokmeisiesdans te bederf. Die dansers is deel van die Khomananah Kunsgroep en word deur Maggie Allie van Rosedale opgelei. Maggie se opleidingsprogram het ten doel om leerders oor hul Nama-erfenis en taal te leer. Drie optredes van 15 minute elk sal op Saterdag 4 Mei om 10:00, 12:00 en 13:30 op die hoofverhoog plaasvind.

Dan bring die ATKV die bekende skrywer en rymkletskunstenaar Simon Witbooi (Hemelbesem) na die expo om ’n liedjieslypskool vir tien uitgesoekte talentvolle sangers/liedjieskrywers aan te bied. Die liedjieslypskool word Saterdag om 09:00 by die Voorbereidingskool Fanie Malan aangebied.

Simon se boek, God Praat Afrikaans (LAPA Uitgewers), word ook deur ’n paneel van ses plaaslike lesers deeglik onder oë geneem en hulle sal op 4 Mei om 18:00 op die hoofverhoog oor die boek gesels. Die paneelbespreking word deur Anzil Kulsen gelei en die ATKV se Karien Brits, bestuurder: taal, gaan gesels oor sekere taalaspekte waarna daar in die boek verwys word. Simon se boek sal by Bargain Books se stalletjie te koop wees en hy sal ook ná die gesprek boeke teken.

Vir meer inligting oor die ATKV se betrokkenheid by die Upington Expo kontak vir Morne van Staden by 074 363 3879.