Skip to the content

Die eerste ATKV-Inkstories vir 2019 is onlangs in Sterlings by die Brooklyn-winkelsentrum in Pretoria aangebied en het weer ’n kreatiewe ruimte en platform vir gesprekke oor Afrikaanse letterkunde geskep.

Andre Velts, akteur en regisseur, het gesels oor die uitdagings om ’n boek in ’n rolprent om te skep. Hy het voorbeelde uit twee van sy onlangse rolprente, Raaiselkind en Die Pro, gebruik. Andre het uitgewei oor die verskeie uitdagings vanuit sy perspektief as regisseur, maar het ook ’n breër prentjie van Suid-Afrikaanse flieks en meer spesifiek Afrikaanse rolprente geskets. 

“Afrikaanse rolprente maak nie noodwendig geld nie. Wanneer ons aan hierdie flieks werk, waag ons baie en ons hoop is dat dit ’n verskil in iemand se lewe gaan maak.”

Volgens Andre genereer ’n rolprent baie minder geld wanneer dit ophou om in rolprentteaters te draai. Dit is daarom belangrik dat Suid-Afrikaners moeite doen om Afrikaanse flieks in die teater te gaan kyk.

“Ek dink ons kan weer ’n kultuur skep om rolprente in teaters te gaan kyk. Ons het ’n opvoedingstaak en mense moet ingelig word en verstaan waarom hul ondersteuning van die Afrikaanse rolprentindustrie so belangrik is.”

Andre meen dat die sleutel tot die suksesvolle omskakeling van ’n boek na ’n rolprent emosie is.

“Die boek moet eerstens in ’n draaiboek gekondenseer word waarna die draaiboek verder gesny moet word. As jy die draaiboek sny, sny jy emosie en die gevolg is eendimensionele karakters, ” vertel Andre. Hy verduidelik dat dit om hierdie rede belangrik is om soveel as moontlik emosie te stimuleer binne die beperkte ruimte van fliek. Deur emosie word volronde karakters geskep en word die diepte van die verhaal behou.

“Omdat ’n boek soveel konteks en detail gee, is dit belangrik om in ’n rolprent verskillende kombinasies te gebruik om dieselfde gevoel te skep,” sê hy.

Hy vertel dat hy van kleure, vorms en kamerahoeke gebruik maak om sekere emosies te stimuleer. “Rooi kan gebruik word om gevaar aan te dui terwyl vorms ook emosies kan stimuleer. Skerp hoeke dui byvoorbeeld ook op gevaar terwyl ronde vorms op vriendelikheid kan dui. ’n Skewe kamerahoek skep die gevoel dat iets nie pluis is nie.”

Volgens Hennie Koortzen, uitvoerende hoof van Pretoria FM, mediavennoot van ATKV-Inkstories, sentreer die ATKV se Inkstories en Pretoria FM se Klankstories juis om stóries. Ons wil stories gebruik om ons gedeelde droom te bereik om ’n liefde vir lees en letterkunde te kweek.

Exclusive Books is ook vanaf 2019 ’n vennoot van ATKV-Inkstories. Lee Jackman, bemarkingsbestuurder van Exclusive Books, sê dat die boekhandelaar saam met die ATKV wil bou aan ’n leeskultuur in Suid-Afrika en Afrikaanse letterkunde wil bevorder. 

Daar word nog vier Inkstories-geleenthede vir 2019 beplan waartydens interessante en kontroversiële temas in Suid-Afrikaanse letterkunde bespreek sal word. Hou die ATKV, Pretoria FM en Exclusive Books se sosialemediaplatforms dop vir inligting oor die volgende geleentheid. Kontak Mandie Ehlers by 011 919 9018 of stuur ’n e-pos aan mandiee@atkv.org.za vir meer inligting. – Rozeldi Trollip