Skip to the content

Skryf nou in vir ATKV-Tienertoneelslypskool in Durban

’n Toneel uit die Hoërskool Noordheuwel se "Anna-Maria Davidtz van Dik-Daan van Diepgezet" tydens die finaal van ATKV-Tienertoneel 2018. Foto: Annemarie Wichmann
’n Toneel uit die Hoërskool Noordheuwel se "Anna-Maria Davidtz van Dik-Daan van Diepgezet" tydens die finaal van ATKV-Tienertoneel 2018. Foto: Annemarie Wichmann

Om ’n toneelstuk uit niks op te tower klink dalk soos ’n onbegonne taak. Waar begin jy? Hoe ontwikkel ’n mens ’n idee in iets opvoerbaar? Gelukkig is daar hulp in die vorm van die ATKV-Tienertoneelslypskole waartydens aspirant-toneelgeselskappe touwys gemaak word in die fynere kunsies van wenproduksies.

Natallers kan hulle nou inskryf vir ’n slypskool wat van 23 tot 25 Mei by die Kuswag Skool in Amanzimtoti plaasvind. Hierdie drie dae sal gebruik word om in-diepte op regie, spelleiding en spel te fokus. Die kursus sal deelnemers toerus met al die vaardighede wat nodig is om ’n gehoor na hul asems te laat snak. Dit word aangebied deur die bekende teaterregisseur, ontwerper en dramaturg, Marí Borstlap, en die aktrise en ou bekende in ATKV-Tienertoneelkringe, Ira Blanckenberg.

Hierdie twee kenners sal hul jare lange ervaring en teaterkennis met deelnemers rondom ’n verskeidenheid onderwerpe deel. Deur middel van interaktiewe lesings en praktiese aktiwiteite sal jy gelei word om ’n dieper begrip te kry oor die belangrikheid van spelleiding, ’n essensiële komponent van regie.

Deelnemers sal raad kry oor hoe om spelers by te staan om volronde karakters te skep, ritme, vloei, invalle en klimakse te verstaan en teksanalise te doen. Advies oor hoe om karakterenergie en spraakritme te behou, asook oor die boublokke van regie (die keuse van tekste, rolverdeling en styl), is ook op die slypskool se agenda.

Die slypskool sal afgesluit word met ’n dag van praktiese lesse waartydens spelers gelei sal word om karakterisering, stemgebruik, lyftaal, energie, tempo en ritme te verstaan en op die verhoog toe te pas. 

Volwassenes, leerders en aspirant-regisseurs word aangemoedig om hierdie kursus by te woon.

Koste beloop R300 per persoon per dag, wat kursusmateriaal, middagete en ligte verversings insluit. Jy kan kies hoeveel dae van die slypskool jy wil bywoon.  Elke kursusganger ontvang ’n ATKV-sertifikaat van bywoning.

Die sluitingsdatum vir registrasie is 10 Mei. Kontak gerus vir Lizané Basson by 011 919 9078 of LizaneB@atkv.org.za om jou plek te bespreek. Nog inligting is hier beskikbaar.