Skip to the content

Tommy Truscott as finansiële direkteur aangestel

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) is trots om aan te kondig dat Tommy Truscott met ingang 1 April 2019 as die finansiële direkteur van die ATKV-groep aangestel is.

Tommy, ’n Vrystater in murg in been, is reeds sedert Augustus 2018 by die ATKV en het as die uitvoerende hoof: finansies diens gedoen.

“Ek sien baie uit na die nuwe uitdaging en om die pad saam met die ATKV se personeel en sy takke te stap.”

Tommy sê hy wil aanvanklik veral op prosesse fokus en het ten doel om die ATKV te help om nog verder van krag tot krag te gaan. Hy sien sy taak as ’n doelwagter sodat die maatskappy besluite kan neem met inligting wat tydig en akkuraat is.

Dié geoktrooieerde rekenmeester het in 1986 sy B.Compt.-graad in Rekeningkunde aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat behaal. Hy het sy B.Compt.-honneursgraad in 1988 by Unisa voltooi en is in 1990 as ’n geoktrooieerde rekenmeester by die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) geregistreer.

Tommy spog met 28 jaar se ondervinding en hy het onder meer by die Imperial Groep, GNLD Internasionaal en Hall Longmore gewerk.

Die ATKV-groep bestaan uit ATKV-MSW en ATKV-Sake.

Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW, sê sy en haar span sien uit om verder saam met Tommy te werk.

“Hy is hardwerkend en iemand op wie ’n mens kan staatmaak. Ek is oortuig dat hy ’n waardevolle bydrae sal lewer.”

Schalk Cilliers, besturende direkteur: ATKV-Sake, beaam Sonél se woorde. “Ons het die afgelope tyd baie saamgewerk en Tommy se finansiële kundigheid sal vir seker waarde tot die ATKV se finansiële struktuur toevoeg.”

Tommy lees graag spanningsverhale in sy vrye tyd en jy sal hom ook van tyd tot tyd op die Irene-gholfbaan raakloop.