Skip to the content

Uittreksel: Medusa

In Medusa boor Rudie van Rensburg ’n nuwe, donkerder aar oop vir ons geliefde speurder kaptein Kassie Kasselman. Daar is mensehandel en psigopatie om mee handgemeen te raak – en kinderlewens op die spel. Hier is ’n uittreksel uit sy nuutste boek.

Proloog

Moira verstyf toe die solder se deur oopgaan. ’n Koue angssweet slaan op haar voorkop uit en haar liggaam begin onbeheers bewe.

Sy moet hard konsentreer om beheer oor haarself te kry. Sy wil nie haar vrees so ooglopend wys nie en neem diep asemteue om die bewerigheid uit haar lyf te dryf.

Eers kyk sy nie na hom nie, haar oë op die plafon gerig. Maar ná ’n tydjie raak die stilte te veel en draai sy haar kop na hom.

Die seun het dieselfde klere as gister aan: die gekreukelde rooi- en-blou blokkieshemp waarvan die onderste twee knope ontbreek, uitgewaste jeans vol kolle en vlekke, ’n lang winkelhaak op die een bobeen.

Hy tree vorentoe en streel liggies met sy benerige vingers oor haar linkerbors, pluk aan die tepel.

Sy krimp ineen.

Dan ruk hy sy hand weg asof hy oortree het en staan terug. Sy gelaat is bleek, die donker hangkuif skuins oor sy voorkop. Swart oë wat te na aan mekaar sit, gluur na haar. ’n Grynslag verskyn op sy gesig en ontbloot sy onversorgde tande.

Sy staal haar teen dit wat gaan kom, maar hy bly op ’n afstand en staar net na haar kaal lyf. Nie soos gister toe hy haar soos ’n uitgehongerde dier bespring het en drie keer verkrag het nie, sy vullisdromasem in haar gesig, sy sweterige hande oral op haar lyf. “My kinders . . .” Sy sukkel die woorde uit deur droë lippe en met ’n tong wat aan haar verhemelte kleef. “Waar’s my kinders?” Haar stem is skor.

Sy oë verhard, maar die grynslag is steeds op sy gesig.

’n Rilling trek deur haar. Eers wil sy wegkyk, maar besluit met groot wilskrag om sy blik te hou. Hy kan niks ouer as sestien wees nie.

Sy skraal gestalte met die knopperige skouers en lang, seningrige arms laat hom in die dynserige lig amper weerloos lyk. Asof hy ondervoed is, of tuishoort in ’n hospitaal vir ernstig siekes.

Dis presies hoe sy hom opgesom het toe sy gisteroggend haar huis se voordeur in Durbanville vir hom oopgemaak het. Hy het skaam geglimlag, onder sy kuif deur na haar geloer en met vuil vingers aan ’n hempsknoop gevroetel.

“Is Danie hier, tannie?”

“Is jy sy Facebook-vriend met die goedkoop speelgoed?”

Sy was effe ontsteld oor haar dertienjarige seun so maklik met ’n wildvreemde ’n kubervriendskap kon aanknoop. Boonop so ’n verwaarloosde skepsel.

Maar toe was Danie en Altatjie al by die deur, sedert die vorige aand bruisend opgewonde oor die goedkoop speelgoed en sporttoerusting wat hulle kan koop.

Die seun het na die groot wit paneelwa in die oprit gewys. “Alles is daarin. Julle kan kom kyk.”

Moira was dadelik agterdogtig, want sy kon nie ’n bestuurder agter die paneelwa se getinte ruite sien nie.

Maar Danie en Altatjie was al op pad soontoe.

“Tannie moet ook kom kyk,” het die seun haar nader gewink. Dit het haar gerusgestel en sy het saamgestap.

Hy het die skuifdeur oopgemaak en opsy gestaan sodat sy en die kinders kon inklim. Binne het die paneelwa soos ’n Toys R Us-winkel gelyk.

Altatjie het opgewonde na die Barbiepoppe gewys. “Dit kos net vyftig rand, Mamma!” Op agt is poppryse haar enigste finansiële verwysingsraamwerk.

Danie het die krieketkolwe stormgeloop en een opgetel. “ ’n Gray-Nicolls soos ek nog altyd wou hê!”

Sy het nader gestaan om na die kolf te kyk. Met ’n prysetiket van net tweehonderd-en-vyftig rand moet dit ’n namaaksel wees, het sy gedink.

Toe klap die skuifdeur agter hulle toe.

Moira het die deur probeer oopmaak, maar dit was gesluit. Hulle was vasgekeer in die donker binneruim.

Haar gehamer teen die metaal het geen reaksie ontlok nie. Daar was net die ligte vibrasie en dreuning van die paneelwa se enjin wat aangesluit word.

Altatjie het histeries begin huil.

Moira het die speelgoed van die rakke agter die bestuurskajuit gestroop in die hoop om ’n ruit te vind, maar daar was niks. Hulle het vreesbevange saamgebondel, haar arms vertroostend om haar kinders toe die voertuig wegtrek.

Sy het probeer kophou waarheen hulle op pad was, maar het ná die vierde draaislag rigting verloor. Hulle was skielik op ’n oop stuk pad, want die bestuurder het heelwat vinniger gery.

Dit het soos ’n ewigheid gevoel, maar die reis was seker nie veel langer as ’n halfuur nie. Toe die paneelwa tot stilstand kom, het hulle voetstappe gehoor, en kort daarna stemme.

Die skuifdeur het oopgegaan. Hulle was in ’n motorhuis.

Langs die seun was ’n jong man, seker in sy middeltwintigs, met ’n rewolwer in die hand. Duidelik broers, het sy gedink. Dieselfde prominente kake, klein ogies en breë monde.

“Jy moet uitklim,” het die seun beveel. “Die kinders moet agterbly.”

Altatjie het snikkend aan haar rok geklou.

“Watse nonsens is dit?” het Moira haar braaf probeer hou. “My man sou nou al agtergekom het ons is weg. Hy sou die polisie gebel het. Hy sou die paneelwa in ons oprit gesien het en . . .”

Die seun het gelag. “Jou man is nie by die huis nie. Hy’s mos dié naweek op ’n gholftrip Weskus toe.”

Dit het haar onkant betrap. Hoe het hy geweet? “Klim uit,” het die ouer een gesê.

“Ek gaan nêrens sonder my kinders nie!” het sy gegil.

Danie het sy arms beskermend om haar middellyf geslaan.

Die seun het onverwags in die paneelwa gespring, Danie aan die nek beetgekry en hom eenkant geslinger. Toe vir Altatjie weggestamp en Moira aan die arm gegryp en uitgepluk. Sy broer het die deur vinnig toegeskuif.

Sy het haar probeer teësit, maar die seun was verbasend sterk. Hy het haar teen die voertuig vasgepen terwyl sy broer die rewolwer teen haar wang druk.

“Los nou jou kak en maak soos ons sê!” het dié geblaf. “Dan sal niemand seerkry nie.”

Moira het onwillig saam met hulle gestap, Altatjie se wanhopige “Mamma, Mamma!” en ’n gedoef-doef uit die paneelwa in haar ore.

Sy is hardhandig by die agterdeur van die huis ingestamp. Die donker kombuis het na verrotte kos geruik.

Hulle het haar teen die trappe op geboelie en by die solder in gedwing, saam ingegaan en die deur toegetrek. ’n Vertrek met ’n klein venstertjie, toegetrekte blinding en ’n dowwe dakliggie, die enigste meubelstuk ’n enkelbed met ’n vuil, gevlekte matras.

“Trek jou klere uit,” het die seun gesê.

“Waarom . . . wat . . . gaan julle doen?” Haar hart het in haar keel geklop. Sy moes haar onderlip vasbyt om die trane te keer.

“Maak presies soos ons sê, anders gaan jou kinders aftjop,” het hy gedreig.

Sy het haar rok stadig uitgetrek. “Trek alles uit.”

Sy het versteen bly staan.

Die broer het die rewolwer in haar ribbes gestamp. “Jy’t gehoor wat Festus sê!”

Festus. Hy’t hom op sy naam genoem, wat beteken hy gee nie om dat sy dit ken nie. Dis nie ’n goeie teken nie, het sy angstig gedink.

“Toe, toe!” het die seun geskree.

Sy het haar bra en broekie langs haar rok en skoene op die stowwerige plankvloer gesit.

Die seun het na die bed beduie. “Gaan lê op jou rug.”

Toe sy gehoorsaam, het die ouer een die rewolwer teen haar voorkop gedruk. “Gedra jou nou.”

Die seun het haar polse met kabelbinders aan die bed se raamwerk vasgemaak.  Sy moes haar bene wyd oopmaak sodat hy haar enkels ook kon vasbind.

Hulle het haar so kaal en oopgespalk daar gelos.

Later was die seun alleen terug. Hy het sy klere met koorsagtige haas uitgepluk en op haar gespring, haar van kop tot toon betas en haar heeltyd “my hoer” genoem. Toe het die verkragtings begin.

Sy het haar oë toegeknyp, haar brein met die grootste inspanning probeer manipuleer om aan ander dinge te dink, haar te distansieer van die foltering wat haar willose liggaam deurmaak.

Maar die fisieke pyn, die brutale skending van haar privaatheid, Festus se hortende, stink asem in haar gesig en sy ekstatiese uitroepe tydens elkeen van sy orgasmes, het dit onmoontlik gemaak. Ek word verniel . . . verrinneweer . . . verkrag, was al besef wat deur haar kop geëggo het.

Dit het gevoel of dit nooit gaan ophou nie.

Hy het uitgeloop met sy klere saamgebondel onder die arm. Sy het verwag sy broer gaan volgende wees, maar dié het genadiglik nie opgedaag nie.

Haar nag was hel. Sy was seer, dors en boweal angsbevange oor die lot van haar kinders. Sy het gebid, gehuil, geskree en naar geword, amper in haar braaksel verstik.

Nou is die seun terug. En hy staar net grynslaggend na haar. Sy verwag dat hy sy klere enige oomblik gaan uittrek.

Dalk moet sy ’n ander benadering volg? Hom op sy naam noem. Op sy gevoel probeer speel.

“Asseblief, Festus, moenie iets aan my kinders doen nie. Ek smeek jou! Hulle is nog so jonk en onskuldig. Hulle verdien nie om seer te kry nie. Ek sweer ek sal nie polisie toe gaan as jy ons vrylaat nie. En ek sal jou betaal! Daar’s baie kontant in ons kluis by die huis,” lieg sy.

“Jou kinders is lankal nie meer hier nie.” “Waar . . . waar’s hulle?” Haar keel trek toe. Hy antwoord nie.

Sy kan die trane nie keer nie. “Asseblief, Festus . . .”

Sy gesig ondergaan ’n metamorfose. Die grynslag is skielik weg. Sy oë vernou, ’n spiertjie spring in sy wang, sy lippe trek weg van sy tande soos ’n roofdier wat wil aanval.

Hy buk onder die bed in.

Daar is ’n gebreekte bierbottel in sy hand toe hy orent kom.

Die skerp glas glinster onder die skynsel van die dakliggie toe hy dit oplig.

 

DEEL I

1

September 1987

Lila luister aandagtig na meneer Groenewald, die standerdvyfs se klasonderwyser. Hy begin altyd sy geskiedenisles met “ ’n historiese moment uit die verlede”.

“Op 5 September 1972, presies vyftien jaar gelede,” sê hy afgemete, “het daar iets gebeur wat aangeteken sal staan as een van die skokkendste en verfoeilikste dade van die twintigste eeu . . . Dit het in my laaste jaar op onderwyskollege gebeur, ek onthou dit soos gister.”

Hy stut sy hande op die lessenaar. “Elf Israeliese atlete is in ’n terreuraanval by die Olimpiese Spele in München doodgemaak. ’n Ekstremistiese splintergroep van die Palestynse Bevrydingsorgani- sasie was daarvoor verantwoordelik. Hulle het bekend gestaan as die Swart September-organisasie en het . . .”

Iemand stamp Lila liggies van agter. Dis Naomi wat vir haar ’n briefie aangee.

Sy vou die velletjie oop en lees.

Lelike Lila, het jou ma al weer vergeet om vir jou toebroodjies in te pak?

Lila kyk af na haar skooltas langs die lessenaar. Die flap is oop. Die toebroodjies wat sy vanoggend self in waspapier toegedraai het, is weg. Soos elke dag bêre sy dit vir ná skool wanneer sy vir die bus wag. Dis die tweede agtereenvolgende dag dat iemand dit steel.

Sy kyk om.

Quinton, skuins agter haar, se kieste staan bol. ’n Krummel brood kleef aan sy ken. Van sy maats kyk grynslaggend na haar, maar Quinton staar onskuldig voor hom uit.

“Jou gemors,” fluister sy.

“Lila Liebenberg, sal jy asseblief aandag gee!” sê meneer Groenewald streng.

Iemand agter in die klas proeslag.

Sy kyk verleë voor haar. “Jammer, meneer.”

Hy knik nors. “Soos ek gesê het, daardie September het later wêreldwyd bekend gestaan as Swart September, natuurlik verwysend na die terreurdaad en die terroriste-organisasie se naam. Maar genoeg daarvan.”

Hy blaai die handboek voor hom oop. “Kom ons keer terug na die negentiende eeu. Maak julle boeke oop by die eerste hoofstuk oor die Groot Trek.”

Lila slaan haar boek oop, maar sy luister nie verder nie.

Haar oë word vol trane. Die briefie vra of haar ma vergeet het om toebroodjies in te pak. Almal weet haar ma is laas jaar dood. En Naomi se skindertong het seker gemaak die hele klas weet sy’t haar dood gedrínk.

Twee weke gelede het iemand gedurende pouse ’n leë brande- wynbottel in Lila se tas gedruk. Toe sy haar tas oopmaak, het die bottel uitgeval en tot voor meneer Groenewald se voete gerol. Quinton en sy vriende het geskaterlag. Naomi het gegiggel.

“Wat doen dit in jou tas?” wou meneer Groenewald fronsend weet.

“Sy’t dieselfde probleem as haar ma,” het Quinton gefluister, hard genoeg vir Lila om te hoor.

Sy staar na haar geskiedenisboek, maar doof die onderwyser se stem uit, haar gedagtes ver weg van Andries Pretorius se trekroete.

Dis ’n verligting toe die klok die einde van die skooldag aankondig. Sy wag geduldig tot die stormloop na die deur verby is, pak dan haar boeke en skryfgoed tydsaam in en stap laaste uit.

Op pad na die bushalte koggel ’n klomp kleintjies haar. “Lelike Lila Liebenberg, Lelike Lila Liebenberg!”

Terwyl sy op die bankie sit en wag, kyk sy hoe die ander kinders deur hulle ma’s in spoggerige blink karre opgelaai word. Haar pa sê altyd die kinders in Durbanville het baie ryk ouers.

Ná ’n uur daag die bus op. Soos gewoonlik gaan sit sy voor.

Die bus ry stop-stop deur die dorp. ’n Koerantplakkaat teen ’n lamppaal in Wellingtonstraat verklaar: Dié September kan warmste in 50 jaar wees. Dit herinner haar aan meneer Groenewald se storie oor Swart September.

Sy laat rus haar kop teen die ruit toe hulle op die grondpad is. Die vibrasie laat haar oë toeval, maar sy weet sy sal nie vandag aan die slaap raak nie. Daarvoor is haar gedagtes te donker.

Die bus laai haar voor die plaashek af. Sy slof met die kronkelende stofpad aan, soek eers lafenis in die koelte van die laning bloekoms voor sy verder stap.

By die huis gooi sy haar tas in haar kamer neer. In die kombuis maak sy vir haar ’n toebroodjie en sluk dit met ’n glas melk af. Haar pa en die werkers is seker nog in die wingerde besig.

Sy is bekommerd oor haar pa. Sy gehoes snags klink nie goed nie. Dis oor daai pyp wat permanent in sy mond is.

Sy het al ’n paar keer gesê hy moet dokter toe gaan.

“Ai, my kindjie, ’n plaasbestuurder kan nie sommer ’n middag af vat en dokter toe gaan nie,” het hy walgegooi. “Meneer Knoetze aanvaar mos nie ’n doktersertifikaat as verskoning nie.”

Ou Knoetze is ’n vark. Hy behandel haar pa soos vuilgoed.

Sy staan vir ’n rukkie broeiend in die kombuis. Dan haal sy ’n paar keer diep asem voor sy doelgerig na die stoorkamertjie agter die huis stap.

Die plek is deurmekaar en sy moet houers en bokse wegskuif om die rottegif te kry. Sy skep ’n klomp pille in ’n leë blikkie uit. Haar pa sê drie tot vyf pille sal ’n mens soos ’n os laat neerslaan.

Terug in die kombuis gooi sy die pille in ’n bord en tel hulle. Negentien. Sy druk hulle met ’n rondepuntmes fyn. Dan gaan haal sy die bottel druiwekonfyt en skep vyf dessertlepels oor die hopie poeier. Met die mespunt meng sy die poeier in die konfyt in.

Môre sal sy nie twee nie maar vier toebroodjies skool toe vat. En sy sal haar tas se flap ooplos sodat hulle dit maklik kan steel.

Vir Quinton en sy maats sal dit ook ’n Swart September wees.

 

2

Maart 1989

Hoekom kan mens nie groot gebore word nie? wonder Lila terwyl sy haar gesig in die badkamerspieël bekyk. Behalwe dat sy kinders haat, haat sy dit om sélf ’n kind te wees.

Haar slegte vel maak haar naar. Die puisies slaan deesdae soos onkruid op haar gesig uit. Knopperig en rooi, met walglike geel punte.

En hoekom moes juis sý haar pa se breë neus en haar ma se pap mond en groot ore erf ? Haar ouer suster, wat lankal uit die huis en getroud is, kan nie as ’n skoonheid beskryf word nie, maar mense kyk haar darem nie skeef aan nie.

Sy probeer haar kuif platdruk, maar dit rys net weer soos klapperhaar op haar kop.

Lelike Lila Liebenberg.

Dié naam het haar van die laerskool na die hoërskool gevolg. Die hele standerdvyf klas, Quinton en Wessel uitgesluit, is na dieselfde hoërskool, dus het haar bynaam bly voortleef. Sy is gedoem om hierdie kruis vir die res van haar skoollewe te dra.

Sy stap sleepvoet na haar kamer, gaan sit op die bed. Broeiend en effens bang vir wat sy beplan.

Naomi met haar gif bek moet ook boet. Eers dán sal Lila voel die lewe is regverdig.

Maar sy sal hierdie keer versigtiger wees as met Quinton en Wessel. Met hulle was sy baie gelukkig, het sy eers later besef.

Sy het daardie oggend die vroeë bus gevat om lank voor die ander by die skool te wees. Sy het klas toe gegaan en haar tas op haar lessenaar neergesit, met die flap oop sodat die toebroodjies sigbaar was. Want sy het geweet dis Quinton se gewoonte om voor skool sy tas in die klas te gaan sit.

Op ’n veilige afstand het sy gesien hoe Quinton en Wessel by die klas ingaan en ’n rukkie later laggend uitkom, Quinton met haar toebroodjies in die hand. Hulle het koers gekies na die skool se agterste pakkamer waar hulle altyd skelm rook. Sy het teruggesluip klas toe, hulle tasse gevat en dit in die onderwyser se hoekkas gesit.

Aan die begin van die eerste periode, toe meneer Groenewald die klasregister neem, was Quinton en Wessel afwesig. Hy het dit nie vreemd gevind nie, want dié twee was die klas se probleemkinders en bekend vir hulle stokkiesdraaiery.

Eers tydens die laaste periode het die skoolopsigter op Quinton en Wessel afgekom in die lang gras agter die pakkamer. Blykbaar het Quinton nog asemgehaal, maar hy is dood voor die ambulans opgedaag het.

Later het dit bekend geword dat hulle dood is weens rottegif. Die opsigter het erken dat hy net die vorige dag gif rondom die pakkamer gestrooi het teen die knaende rotplaag. Die seuns moes daarvan geëet het, was die verklaring. Die feit dat hulle tasse in die klas weggesteek was, is daaraan toegeskryf dat hulle ’n paar periodes wou misloop.

’n Standerdvierseun  wat die twee gesien het voor die ambulans opgedaag het, het vertel daar het wit skuimbolle om hulle monde gestaan. Daardie beeld koester Lila vandag nog. Sy glimlag elke keer as sy daaraan dink. Dit was niks anders as hulle verdiende loon nie.

Die hele skool moes die begrafnis bywoon. Lila het nie die treurende ouers jammer gekry nie. As hulle hul kinders beter grootgemaak het, het dit nooit gebeur nie.

Sy sak agteroor op die bed, vou haar hande agter haar kop. Hoewel Naomi ook verdien om te vrek, beplan sy iets anders vir haar. Sy wil hê daai gif bek moet behoorlik ly. Dalk ’n lelike letsel op haar mooi gesiggie? Dit sal die seuns wat pouses so om haar saambondel vir altyd afskrik.

Lelike Naomi Lategan.

Dié gedagte laat Lila glimlag.

Naomi verdien net die slegste. Soos ’n regte tweegatjakkals bedel sy altyd voor skool Lila se huiswerk om af te skryf. Dan is dit Lilatjie voor en agter en kan suiker nie in haar mond smelt nie. Net om daarna nare stories oor Lila by haar skinderkringetjie te vertel.

Naomi was die enigste kind in die skool wat van haar ma se suipery geweet het, want haar ouers is bevriend met ou Knoetze. En toe het sy dit haar werk gemaak om almal daarvan te vertel.

Op ’n keer het Naomi “ewe onskuldig” voor die klas gevra of Lila-hulle in daardie “verpotte bywonershuisie bly op pad na oom Willem Knoetze se grênd huis”.

Van die kinders in die klas het hulle koggelrympie aangepas na “Lelike Lila Liebenberg, die arm bywonertjie”.

Lila staar peinsend na die plafon.

Sy weet sy kan nie weer op geluk staatmaak soos met Quinton-hulle nie. Dié keer sal sy behoorlik moet beplan. Sy moet haar tyd vat en alle moontlikhede deeglik oorweeg voor sy toeslaan.

Medusa is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar of op http://bit.ly/2FO11q0.