Skip to the content

ATKV-tak Cum Laude maak ’n verskil

Die finaliste vir Mnr. en Mej. Rassie, Zian van Deventer en Alissa Welman, was op 21 Augustus gaste van Pretoria FM en hulle het meer vertel oor die Renoster F-projek waarby hulle  betrokke geraak het. Hulle het ook sommer vir  Luandri Reynders (Chanelle van 7de Laan) ontmoet.  Hulle het reeds saam met die bekende akteur, Kaz McFadden, in ’n kort video verskyn wat gemaak is oor hierdie renosterprojek. ’n Kort video saam met die bekende Luan Jacobs volg later.

Bewusmaking van renosterstropery geniet baie aandag by skole en die jaarlikse kalenderkompetisie van die ATKV-tak Cum Laude dra by tot hierdie bewusmaking. Leerders van graad 1 tot graad 12 van alle skole kan deelneem deur ’n renoster op ’n A4-grootte papier te teken. Die skool se embleem, straatadres en telefoonnommer word saam met die betrokke leerder se naam, van en graad by elke skets aangebring. Die sketse word deur die twee bekende skilders in Pretoria, Corné van Eck en Elisca du Toit, beoordeel. Die 12 beste sketse word gebruik vir ’n 2020-kalender wat by die skole verkoop sal word teen R60 per kalender. Alle fondse gaan direk aan die Limpopo Renoster Bewaringsgroep.

Die gelukkige wenners van die kalenderkompetisie kan groot pryse wen wat deur die ATKV-tak Cum Laude verkry is. Daar is een groot prys wat 20 leerders en 14 onderwysers insluit wat ’n naweek op ’n werkende renosterplaas kan deurbring. Etes en verblyf is ingesluit terwyl hulle eerstehandse ervaring opdoen wat baie min mense beskore is.

Dan is daar ’n naweekprys vir ’n onderwyser en ’n metgesel by ’n 5-sterlodge met ’n lekker spa-bederf en verblyf en etes ingesluit.

Verder is daar ’n ongelooflike naweekprys vir vier persone by ’n private renosterplaas waar hulle lekker bederf gaan word, asook ander pryse waarmee jy uit die stad kan kom na ’n asemrowende omgewing sonder selfoonopvangs. Net jy en die pragtige natuurskoon.

Tien plaaseienaars is betrokke by die Limpopo Renoster Bewaringsgroep. Al die plaaseienaars en hulle personeel veg saam teen die aaklige misdaad van renosterstropery. Hulle het die hulp ingeroep van die SAPD-taakspan en persone van omgewingsake, nasionale vervolging en intelligensie om saam te werk tydens noodgevalle en  stropingspogings. Hulle is ook ’n Whatsapp-groep om mekaar 24 uur lank op hoogte te hou.

Die Limpopo Renoster Bewaringsgroep is ’n Artikel 21-maatskappy. Hulle maak staat op skenkings van die publiek en maatskappye omdat geen fondse toegeken word vir die geweldig hoë onkoste om renosters te beskerm nie. In 2014 was 18 private plaaseienaars betrokke. Maar die stropery het erger geword, die kostes meer en nou is daar net 10 private eienaars oor in hierdie groep. Die ander eienaars het tou opgegooi weens die hoë sekuriteitsrisiko en die kostes wat nie meer gedra kan word nie. Volgens statistieke het ons land reeds een derde van sy private eienaars en plase verloor omdat hulle net nie meer kans sien nie.

’n Gala-aand word elke tweede jaar in Polokwane gehou deur die Limpopo Renoster Bewaringsgroep om geld in te samel sodat elke plaas voorsien kan word van voer en noodkostes tydens stropingsgevalle. En in droogtetye word voer aangekoop vir plase wat baie swaar kry. Voer is ’n geweldige uitgawe om hierdie diere aan die lewe te hou. Daar is ook kostes wat gedek moet word wanneer helikopters en veeartse benodig word. Geen hulp kom van die staatskas nie alhoewel hierdie plase ook bewaringsplase is.  

Bogenoemde plaaseienaars besit sowat 5% van die ongeveer 19 000 renosters wat tans in Suid-Afrika is. Hulle voorsien opleiding in teenrenosterstropery, voet- en voertuigpatrollies, opleiding vir spoorsnyhonde en hulpmiddels soos boskameras en termiese verkykers. Hommeltuie word ook ingespan om oortreders vas te trek en informante word betaal wat inligting verskaf oor verdagtes.

Nagtoerusting is noodsaaklik om stropers in die veld op te spoor. In volmaantye word ’n  Bat Hawk gehuur om die grensdrade van die plase te beveilig. Dit is ’n goeie afskrikmiddel, maar is baie duur.

Die ATKV-tak Cum Laude het ’n tweede projek om geld in te samel. Pillehouertjies word gratis aan leerders gegee en kan gevul word met R5-muntstukke.

Leerders en skole wat betrokke wil raak en/of inskrywingsvorms vir die kalenderkompetisie wil hê, kan 081 311 9068 skakel of ons Facebook-blad besoek by Renoster F.