Skip to the content

Boekwurms staan nader – hier is ’n boekklub vir jou!

Is jy moeg daarvoor om eensaam in die aande onder ’n flou bedlampie daardie spanningsbelaaide misdaadfiksie te lees? Gee jou wederhelfte meer om oor die rugby wat oor naweke op die kassie wys as die onweerstaanbare speurder in jou boek wat so diep in jou hart ingekruip het?

Dan is dit tyd dat jy jou eie boekklub stig!

Maar waar begin ʼn mens en hoe besluit jy watter boek om te lees? Hoe bespreek mens in elk geval so ’n boek in ’n groep sonder dat jou buurvrou aan die slaap raak of wens sy het liewers die nuwe breipatroon in die nuutste vrouetydskrif in haar hand?

Dit is waar die ATKV tot jou redding kom. Die ATKV-Boekklubs bied vir jou ’n trommel propvol lekker leesstof sowel as al die riglyne om hierdie boeke te bespreek.  

“Die ATKV-Boekklubs gee mense die geleentheid om van die nuutste en bekendste boeke te lees. Dit stel lesers ook bloot aan nuwe genres,” vertel Mandie Ehlers, projekorganiseerder by die ATKV.

’n Boekklub bestaan uit ʼn maksimum van 10 lede en daar is ses titels in elke trommel − 10 boeke per titel.

Boektrommels word elke ses maande geroteer om te verseker dat jy en jou mede- boekwurms altyd vars leesstof het om te verslind en te bespreek.

Die lede van die boekklubs besluit self watter titels hulle wil bespreek en hoe hulle dit wil doen, maar riglyne vir boekbesprekings word ook verskaf.

“Enigeen met ʼn liefde vir Afrikaanse boeke kan aansluit. Selfs tieners kan hul eie boekklub begin. Die doel van die boekklubs is om lees toeganklik en lekker te maak,” sê Mandie.

Die koste beloop R50 per lid per maand − dus R600 per jaar. Dit is die klub se keuse of hulle halfjaarliks of jaarliks wil betaal.

Die ATKV koop elke drie maande die nuutste titels vir die trommels aan. Jy kan dus uitsien na boeke van topskrywers soos Deon Meyer, Martin Steyn, Chanette Paul, Eben Venter, Johan Jack Smith, Kristel Loots, Irma Joubert, Carla van der Spuy en ander.

“Lees strek verder as die bladsye van ʼn boek. Ons lees vir ontspanning, ons lees omdat dit terapeuties is, en ons lees omdat ons graag onsself in ander se skoene wil plaas.

“Boeke open vir ons nuwe wêrelde en die ATKV-Boekklubs is die platform om hierdie wêrelde met mekaar te deel. Deur saam te lees en te gesels, word lewenslange vriendskappe gebou,” sê Mandie.

Vir enige navrae kontak Mandie Ehlers by mandiee@atkv.org.za of 011 919 9018.