Skip to the content

Koop ’n kalender om vrouwees te vier

Jy kan nou 365 dae van die jaar die fasette van vrouwees vier.

Die ATKV-Gemeenskapsteatertak het besluit om ’n verjaardagkalender bekend te stel met verhale oor vroue wat deel was van die kunsuitstalling, Fasette van Vrouwees.

Vroue kon met hulle stories inskryf, waarna die kunstenaar en kunsonderwyseres, Stephanie Kilian, portrette van die vroue op grond van hulle verhale geskilder het.

Die kunswerke is reeds twee keer in Bloemfontein uitgestal.

Volgens Gertjan Holtzhausen, streeksbestuurder van die ATKV, was die verjaardagkalender die volgende logiese stap.

“Ons het sedert Februarie ’n magdom inskrywings ontvang. Oor die 30 vroue het hulle verhale met ons gedeel en ons het gevoel vroue wie se stories nie uitgestal is nie, se verhale moet ook gedeel word,” sê hy.

Dié kalender kan jaarin en jaaruit gebruik word.

“Die doel van die kalender was om hoop verder te neem as net Bloemfontein en maak deel uit van die #Weesdieverskil-veldtog.”

Dié veldtog poog om ATKV-takke aan te spoor om ’n verskil in hulle onmiddellike omgewing te maak.

Hy sê daar is ’n groot behoefte waar veral vroue voel hulle stories word nie gehoor nie en dat hulle die stryd op hulle eie moet voer.

“Met die projek het vroue begin agterkom dat iemand na hulle luister en dat daar nog mense is wat soortgelyke stories as hulle het.”

Elke maand van die kalender bevat ’n ander portret van een van die vroue asook die verhaal daaragter.

Die kalender word aan sakeondernemings en ATKV-takke beskikbaar gestel om aan te koop en dit dan teen ’n wins te verkoop.

“Met die opbrengs van die Gemeenskapsteater sal ons die Fasette van Vrouwees-uitstalling voortsit en die geld gebruik om ander produksies te befonds,” sê Gertjan.

Die Fasette van Vrouwees-kalender kan direk by Gertjan bestel word by 082 563 4457 of per e-pos by gertjanh@atkv.org.za.