Skip to the content

Lily Mtsweni se merkwaardige pad na bo

Martha Mtsweni, Ena van den Berg, Lily Mtsweni en Lené van den Berg. Foto: Izak de Vries
Van links na regs: Martha Mtsweni, Ena van den Berg, Lily Mtsweni en Lené van den Berg. Foto: Izak de Vries

In Afrika is daar ’n bekende sêding: Dit neem ’n gemeenskap om ’n kind groot te maak.

Lily Mtsweni is ’n sprekende voorbeeld daarvan.

Dié merkwaardige storie begin met Lily se ma, Martha Mtsweni, wat ’n ernstige gesprek met haar werkgewer kon hê oor haar ongemak om die baba wat sy verwag het gewoon na die ouma te stuur om groot te maak. Dit is iets wat té gereeld gebeur omdat daar geen ander ondersteuningsnetwerke vir werkende ma’s is nie.

Martha én Lily se pa was op daardie stadium in diens van Ena van den Berg van Middelburg (Mpumalanga). Martha was die huishulp in die Van den Berg-gesin se huis.

Ena het gesê: "Kom ons maak ’n plan."

Ena onthou die dag toe Lily gebore is: Martha is dieselfde dag nog ontslaan en die piepklein bondeltjie het dus haar eerste lewensnag in die Van den Berg-huis deurgebring. Sy is steeds daar. Ena is vandag soos ’n tweede ma vir haar, en die Van den Bergs se dogter, Lené, het daardie dag ’n sussie ryker geword.

’n Baie spesiale band tussen Lily en Lené het ontstaan – een wat ’n enorme impak sou hê op die gebeure tydens ATKV-Redenaars se eindronde by die ATKV-Goudini Spa op Donderdag 1 Augustus 2019.

Maar eers terug na die gemeenskap van Middelburg: Toe Martha weer begin diens doen, het sy Lily in ’n appelboks al agter haar aangesleep en die oulike baba het diep in almal se harte ingekruip.

Gou-gou het dit ook duidelik geword dat dié bietjiemensie ’n ysere wil het om soos haar sussie te wees; Lené se pad, van Mpumalanga na die modewêreld van Europa, is self merkwaardig.

Lené het ná skool vir ’n hele aantal jaar namens ICE Model Management dwarsoor die wêreld op loopplanke opgetree, veral in Europa. Lené is egter nie net mooi nie, sy het ook gestudeer en spog vandag met ’n BCom (Honneurs).

Lily wou ook die beste wees, soos haar sussie.

Die Middelburg gemeenskap het dit raakgesien, want Ena sê daar is min mense wat so vasberade is as Lily Mtsweni. ’n Weldoener het besluit om Lily se skoolgeld te borg en so kon sy inskryf by die Laerskool Staatspresident CR Swart.

Haar passie en vasbytvermoë laat haar dáár ook laat uitstaan. Hierdie jaar is sy die onderhoofmeisie van die Laerskool Staatspresident CR Swart.

As redenaar het sy gou uitgeblink. Verlede jaar het Lily reeds die eindronde gehaal van die ATKV-Redenaarskompetisie en toe het sy besluit: Sy gaan ATKV-Redenaars wen in 2019.

Wen of nie, om in die finaal te kom, is reeds ’n groot eer én ’n grootse gemeenskapspoging. Lily se uitgebreide gesin was bankvas agter haar. Selfs Lily se toespraak het dit gewys. Sy het op 1 Augustus vir die gehoor vertel hoeveel sy haar sussie, Lené, bewonder. Lené was in die gehoor. So ook Lily se ma, Martha en haar ander ma, Ena; die Lily-ondersteunersnetwerk het opgeruk na die geleentheid by die ATKV-Goudini Spa.

Kort vóór die prysuitdeling het Martha Mtsweni bitter trots langs haar meisiekind gestaan. Selfs in daardie baie benoude oomblikke het die jong Lily se oë geflonker toe sy vertel hoekom haar toespraak oor haar sussie was.

Hoekom dan so gespanne?

"Lily het regtig gekom om te wen," vertel Ena toe.

Hulle weet die opposisie is geweldig goed, maar daardie ysere wil van die, steeds klein, mensie is nog altyd daar. Sy wóú vanjaar wen.

Kort ná die gesin vir ’n foto geposeer het, is die deure oopgemaak en al die deelnemers kon hulle plekke inneem.

Verskeie pryse in verskeie kategorieë is toegeken.

Toe kom die aankondiging: Beste Taalgebruiker in die ATKV-Redenaars se eindronde vir Laerskool Graad 6 – 7, Addisionele Taal gaan aan Simpiwe Lily Mtsweni, Laerskool Staatspresident CR Swart.

Lily was trots, dit kon ’n mens sien, maar sy het gewag vir die ander aankondigings.

Derde plek: Pabalelo Pabi Kgolane, Laerskool Julian Muller.

Twee plek: Sisamkele Cekiso, Laerskool Staat.

En toe, die wenner van die ATKV-Redenaars se eindronde vir Laerskool Graad 6 – 7, Addisionele Taal: Simpiwe Lily Mtsweni, Laerskool Staatspresident CR Swart.

Presies hoe groot die netwerk om Lily is, kon ’n mens ná die tyd sien. Vir meer as ’n halfuur het sy en die res van die uitgebreide gesin vanaf die ATKV-Goudini Spa oproepe gemaak na verskeie mense verbonde aan die Laerskool Staatspresident CR Swart en na die res van die gemeenskap. Dit was immers ’n spanpoging.

Een van die oproepe was van Ena na Lily se wiskunde-onnie. Wat was die wiskunde-onnie se kommentaar toe Ena haar vertel? "Dis baie goeie nuus, maar sê asseblief vir Lily ek weet sy dink reeds aan die wiskundehuiswerk wat sy nog nie vandag kon doen nie. Sy moenie. Sy moet vanaand eers ontspan."