Skip to the content

Nuwe boekefees vir Jakarandastad

Die Jakarandastad spog eersdaags met hulle eie Boekefees. Dit word moontlik gemaak deur organisasies wat lief is vir taal en boeke.  Vanaf 12 tot 14 September bied Pretoria FM, met die ATKV as een van die vennote, hul eerste Boekefees in Pretoria by Loftus Park aan. Die ATKV is baie opgewonde oor die nuwe vennootskap met Pretoria FM omdat hulle dit eens is dat lees nuwe wêrelde vir mense oopmaak.

Die Boekefees gee vir Gautengers die geleentheid om boekgesprekke, paneelbesprekings en ander boekverwante gesprekke by te woon. En dit alles in Afrikaans! Die tema van hierdie jaar se Boekefees is, ontgin jou taal! En op watter beter manier as deur boeke. Deur die skryf, publisering en lees van Afrikaanse boeke ontgin jy nuwe dele van jou taal.

Kom loer daarom by die Boekefees in vanaf 12-14 September by Loftus Park. Daar is ’n propvol program vir oud en jonk. Op die kinderverhoog gaan Ronnie die Renoster die kleinspan vermaak en ook vir hulle die waarde van boeke leer. Op die ATKV-Inkstorieverhoog kan almal uitsien na interessante boekgesprekke en paneelbesprekings. Tydens dié fees bied die Vriende van Afrikaans, ’n divisie van die ATKV, ’n gratis leeskonferensie vir ouers, grootouers en onderwysers aan.

Volg die skakel om na die program te kyk.

Vir meer inligting oor ATKV-Inkstories en die VVA-werkswinkels, skakel vir Mandie Ehlers by mandiee@atkv.org.za