Skip to the content

Uittreksel: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey is die digter Charl-Pierre Naudé se debuutroman. Hy is voorheen bekroon met die Ingrid Jonker-debuutprys vir poësie en het ook die UJ-prys in 2019 gewen vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Dié boek vertel die verhaal van verskeie karakters wat meer as een lewensweergawe van hulself beleef.

Sy het onder die bushalte se afdak gestaan, in blou jeans en met ’n ligte oopgeknoopte trui oor haar moulose bloes, haar een been skamerig na binne gedraai soos Venus wat uit haar skulp klim. In daardie ou skildery.

Ek trek voor die afdakkie in tot amper teen die randsteen, en leun oor die passasiersitplek om die kardeur by sy knippie vir haar oop te maak. Koelkop, asof ek dit elke dag vir ’n ander vrou doen.

So in die oorleun het ek my kop opgelig om oor die rand van die karvenster te loer. Met krokodiloë, vir Anna. By haar voete was die twee tassies, ’n hardetas, waarskynlik met werkpakkie, nagklere en skoene in, en die kleiner, silwer smuktassie.

’n Spesiale, hipermodieuse tassie was dit, hoor. Dis iets wat net ’n paar keer in my lewe met my gebeur het: daardie smuktassie kon die tyd laat stilstaan. Die silwer beslag was asemrowend, en ek was naby genoeg om die omringende omgewing volmaak daarin weerspieël te sien, beter as in die beste spieël ter wêreld.

Ek kon die dorpsilo’s duidelik daarin weerspieël sien, styf langs mekaar. En wat was die langwerpige, buisagtige voorwerp? O ja, dit was die rooi-en-wit tenkwa wat die petrol bring, op daardie moment aan die einde van die lang reguit dorpstraat geparkeer.

Die dorp se tweelingkoppies, in die middelverte regs voor my, skoon en wit gebrand in die middaglig, het ook hul miniatuurweergawes in die silwer beslag gevind. So ook die skerp omlynde wolke, ver, ver in die verbleikte blou lug.

Toe beweeg alles weer, so onverwags as wat dit verstil het. Een oomblik nog het sy bewegingloos gestaan. Toe gryp Anna haar haredos vas soos in ’n film wat begin beweeg en sy wip die blonde mantel selfversekerd oor haar linkerskouer. Met ’n knik van die knieë reik sy met albei arms na haar bagasie en kom op ’n drafstappie aan, op my afgepyl, die tassies  al swaaiende.

“Góéi-e-míd-dag, me-néér Ver-dómp!” Sy het haar woorde oordrewe beklemtoon ter wille van sjarmantheid. Haar hare het liggies saam met die beklemtoonde klanke geskud.

Sy klap die kardeur toe. Haar blinknat meisietong flikker in haar breë glimlag. En sy kyk my met haar diepblou oë aan, tot binne in my siel. Leun wraggies oor en gee my ’n piksoentjie.

“Ek is so bly jy het nog nie verdamp nie, me-néér Ver-dómp!” (Die aaklige skoolmeisiehumor! En sy kon tog so uitbundig vir haarself lag.)

“Nee wat, toffie verdamp nie. Ek’s te taai,” sê ek maar.

Met twee agteroor swaaihale van haar regterarm beland die tassies een na die ander op die agtersitplek.

En dit was tóé dat ek deur die raaisel sien, die smuktassieraaisel. Daai was my double take, soos die Engelsman sal sê. En ek kyk en kyk: na die silwerblink smuktas, terwyl dit nog in die lug hang, net voordat dit met ’n wip op die agtersitplek beland. ’n Eindelose oomblik. Tyd het nog ’n keer vir my stilgestaan.

Ek het besef die smuktas is deursigtig. Volkome deursigtigheid en vlekkelose weerkaatsing het presies dieselfde glans. Dieselfde diepte, dieselfde oppervlakkigheid.

Toe Anna sien ek kyk, toe sy weet ek wéét, gooi sy haar kop agteroor van die lekker lag. Sy vlerk haar arms om haar dik harebos in twee welige pante vorentoe oor haar skouers te lig sodat dit nie tussen haar en die rugleuning vasknyp nie. Ek sien die blink vlekke van haar  oksels flits.

“Wat?” sê sy met ’n skelmpiegeid. “Wat!?” Maar sy was eintlik heel ingenome daarmee dat ek haar tassie se geheim raakgesien het.

“Dis ’n gewaagde tassie,” merk ek gelate op. Hoe kan dit wat buite en binne is só volkome ooreenkom? Dit het my aan die wonder gesit. Wat kom eerste, die buite of die binne? Dis ’n geskommelde raaisel.

Ek moes wéér omdraai, om weer na die tassie te kyk waar dit nou so onskuldig soos ’n eier op die agtersitplek lê. Daarbinne, agter die deursigtige Perspex, was kledingstukkies van verskillende strepe en kolle …

Die netjies gevoude broekie, ’n stuitigheid van Ackermanns, had inderdaad ’n blou-en-wit wolkiespatroon op. Die buustelyfie, van die stywe soort, het teen die plastiekdeksel gedruk soos twee witgeskrikte heuweltjies. En die tenkwa was al die tyd ’n rooi-en-wit tandepastabuisie!

Oor die silo’s wil ek nie praat nie. Drie van hulle, saamgekluister, vir dáárdie tyd van die maand, in ’n toeritssakkie van ewe deursigtige sagteplastiek …

“Mooi, nè?” sê Anna, kop vraend gekantel. “Dis so mod. Dis orals die rage. My penvriendin in Parys het dit vir my gekoop.”

“Parys?”

“Ja, ek was self nog nie daar nie. Nie die een in die Volkekundeboek nie. Die ander een, langs die Vaalrivier,” sê Anna.

Die Ongelooflike Onskuld van Dirkie Verwey is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar of op NB-uitgewers.