Skip to the content

Uittreksel: Zola deur Johan Jack Smith

Zola Johan Jack Smith

Zola is Johan Jack Smith se debuut. Die hel is los in Johannesburg se strate. Iemand is besig om jong meisies wreed af te maai en die bloedspoor wat hy agterlaat, sê: “Reeksmoorde”. Die stapel slagoffers raak kaptein David Majola en adjudant Jason Basson se gemors.

Sy longe brand en sy knie keil hom op. Sy linkerbeen begin effens sleep. Dit moet van die adrenalien wees wat nou besig is om uit te werk. Hy staan eers stil en skep asem. Dan beur hy voort met die liggaam oor sy regterskouer. Dooie gewig. Dat so ’n ou fyn dingetjie so swaar kan wees. Die meisie se kop stamp teen sy blaaie, hy voel haar hand teen sy laerug tik met elke tree wat hy gee. Hy verbeel hom hy kan die klamheid van haar onderlyf deur sy jas voel. Sy is moeilik om te dra. Meer ongemaklik as die ander wat hy net neergelê het. Dis nie meer ver nie.
Hier en daar is ligte van motors wat die systrate van die stad deurkruis. Gelukkig is die afdraai redelik donker, en iemand wat hierdie tyd van die oggend rondry, is óf dronk óf self besig met iets wat nie in daglig hoort nie. Dit is net voor vieruur.
Hy kom by die plek wat hy van onder af geïdentifiseer het. Dis die plek waar hy haar sal los. Hy kyk weer rond, lig die meisie versigtig van sy skouer af en
sit haar op haar boude neer, haar rug teen die reling. Hy haal die blou-en-wit nylontou agter by sy broek uit. Hy sal vinnig moet werk.
Dan hoor hy ’n motor op die m1 agter hom. Die motor ry vinnig. Hy vries. Roerloos. Hy hurk langs die liggaam toe hy die motor hoor spoed verminder om moontlik na Smitstraat af te draai. Sy rug is na die pad en die aankomende voertuig. Die motorligte se refleksie word deur sy swart jas ingesuig. Die motor ry verby sonder om hom op te merk.
Hy werk vinnig, draai die tou onder haar borste om haar lyf vas. Die knoop maak hy voor, net bo haar naeltjie, om nie die snye op haar rug te beskadig nie. Anders was al die moeite verniet gewees.
Die lang punt van die tou maak hy aan een van die kort houtpale van die reling vas. Hy is al aan die wit plastiekhandskoene gewoond, sy hande is nie meer dom soos aan die begin nie. Dan lig hy haar stadig oor die reling. Met ’n effense ruk hang die liggaam slap van die paal af. Die meisie se kop hang op haar bors, haar arms slap langs haar lyf. Sy wieg stadig van links na regs, draai effens na die linkerkant toe. Hy trek vir oulaas aan die tou om seker te maak die knoop gaan hou. Die tou span oor die snye tussen haar blaaie en dit bekommer hom. Maar dis te laat om nou iets daaromtrent te doen. Dan kyk hy of hy nie iets agtergelaat het nie, vryf met sy skoen oor die los gruis en stap met die afrit terug na onder, waar hy weer oor die kort reling klim, tot op die oprit wat parallel daarmee loop.
Sy knie gaan môre styf wees. Onder kyk hy terug na sy handewerk. Dit lyk of daar iets onder die meisie in die straat lê. Hy skreef sy oë. Maar hy verbeel hom seker.
Hy moet in elk geval spore maak. Hy is tevrede. Dit sal nie lank wees voor iemand haar sien nie. As hulle hierdie een mis, weet hy regtig nie meer nie. Hy kon nie sy geluk glo toe hy haar toestand sien nie. As dit nie gaan aandag trek nie, sal niks nie. Hy het al die stukke gegee, nou moet hulle net die legkaart bou.

Zola is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar of op Penguin Random House.