Skip to the content

Verryk jou wêreld met Koop-’n-Afrikaanse-boekdag

Hoeveel keer het jy nie al in ’n boekwinkel gestaan met die nuutste Deon Meyer of Ingrid Winterbach boek en gewik en geweeg of jy hom moet koop nie? Wanneer jy die groot sprong maak en jou weg vind na die kassier, begin jou gewete aan jou knaag. Moet jy nie maar wag tot die boek op uitverkoping is nie? Betaaldag is nog vêr en jou finansies lyk maar beroerd.

Op 14 Augustus met Koop-’n-Afrikaanse-boekdag kan jy gerus daai lastige stemmetjie sus en daai speurverhaal of kinderboek vir die rakkers koop.

Dié dag is toegewy aan die Afrikaanse geskrewe woord. Die projek is deur Vriende van Afrikaans (VVA), ’n filiaal van die ATKV, van stapel gestuur.

“Ons wil op hierdie dag die publiek aanmoedig om ’n Afrikaanse boek te koop,” sê Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA.

“Dit is ook die ideale tyd om ’n boek te koop, want baie boekwinkels gaan op die dag afslag op hulle boeke aanbied.

“Ons moedig almal wat Afrikaans praat en ’n liefde vir die taal het om op die dag vir hulself ’n boek te koop. En diegene wat dit enigsins kan bekostig, word ook gevra om ook ’n Afrikaanse boek te skenk aan iemand wat dit nie self kan bekostig nie.”

Volgens haar wil hulle ook op hierdie dag skrywers en die Afrikaanse boekbedryf ondersteun. 

“Op hierdie dag moet ons ons ondersteuning aan die boekbedryf wys. Skrywers en uitgewers kan slegs nog literêre werke skep as die publiek hulle ondersteun.”

Verder meen sy dit is ook belangrik dat die liefde vir lees van vroeg af by kinders gekweek word.

“Vir dit om moontlik te wees, moet ouers self ook lees. Jy as ouer moet self ’n liefde vir boeke en lees hê om dit aan jou kind oor te dra.

“Deur kinders in ’n woordryke omgewing groot te maak, word hulle toekomsgereed gemaak.”

Die volgende boekwinkels bied op 14 Augustus afslag aan:

CUM Boeke: Alle takke 15%-afslag
PNA: Strand Square, Somerset Mall, Somerset Square, Eikestad Mall, The Sanctuary, Whale Coast & Gordons Bay Mall 25%-afslag
Protea Boekwinkels 20%-afslag
Exclusive Books 20%-afslag op alle Afrikaanse boeke
Aneljo Boekwinkel: Mariental, Namibiё 20%-afslag