Skip to the content

#Weesdieverskil-veldtog kry ’n poëtiese aanslag en jy kan só deelneem

Vir die afgelope 22 jaar spoor die ATKV-tak Durbanville jong digters aan om met hulle talente te woeker, en vanjaar is #Weesdieverskil die tema van dié tak se gedigtekompetisie.

Met hierdie veldtog word ATKV-taklede aangemoedig om ’n verskil in hulle onmiddellike omgewings te maak deur projekte aan te pak wat die gemeenskap sal bevoordeel.

“Dit gaan interessant wees om te sien hoe die kinders hierdie tema vir die kompetisie gaan aanpak,” sê Ronel Fourie, koördineerder van die gedigtekompetisie en lid van die ATKV-tak Durbanville.

Laerskoolleerders tussen graad 3 en 7 neem jaarliks deel aan die Afrikaanse gedigtekompetisie om groot kontant- en boekpryse los te slaan.

“Met hierdie jaar se tema wil ons die fokus verskuif van ‘hulle moet iets doen’ na ‘wat kan ek doen om ’n verskil te maak?’”

“Selfs iets kleins kan ’n verskil maak,” sê Ronel.

“Of dit nou is om vir ’n vreemdeling in die winkel te glimlag, ’n bejaarde te help om sy/haar pakkies te dra of selfs die kraan toe te draai as jy tande borsel, die moontlikhede vir vanjaar se gedigte is eindeloos.”  

Ronel sê dat hulle graag hierdie jaar die top-10-gedigte in elke kategorie in ’n digbundel wil saamstel om sodoende meer blootstelling aan die leerders te gee.

“Daarvoor het ons wel nog borge nodig om ons finansieel te ondersteun, maar ons is hoopvol dat dit sal realiseer.”

Die drie kategorieë waarin die leerders kan inskryf, is:

  • Graad 3
  • Graad 4 en 5
  • Graad 6 en 7

Die inskrywingsfooi beloop R20 per gedig en ’n maksimum van drie gedigte per leerder word aanvaar.

Elke leerder ontvang ’n ATKV-sertifikaat vir deelname en die pryse is soos volg:

  • Eerste prys: R1 000 kontant en ’n boekprys
  • Tweede prys: R600 kontant en ’n boekprys
  • Derde prys: R300 kontant en ’n boekprys

Die skool met die meeste inskrywings ontvang ’n wisseltrofee.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 9 September 2019.

Kontak asseblief vir Ronel Fourie vir meer inligting by 084 784 0105 of Ronel.fourie2@sita.co.za