Skip to the content

Laudium-onnies vereer vir halwe eeu se bydrae

Ons almal het daardie een onderwyser wat ’n blywende indruk op ons gelaat het. Die soort slypsteen wat ons toegerus het om die lewe met selfvertroue aan te pak.

Skoolhoof Nazir Ahmed Dawood en Afrikaans-onderwyser Anver “Haffie” Mahomed van die Pretoria Muslim Trust Sunni-skool is dié soort onderwysers en nadat albei sowat ’n halwe eeu passie vir Afrikaans onder hul leerders gekweek het, is hulle nou deur die ATKV vereer.

Hulle is elk met ’n “Mnr. Afrikaans”-skouerband deur die voorsitter van die ATKV-tak Centurion, Sakkie Kotze, en dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur van korporatiewe aangeleenthede, vereer.

Dié onderwysers is op 5 Desember tydens ’n spesiale geleentheid vir hul enorme bydrae tot die Afrikaanse taal en die onderwys vereer.

Nazir sê hy het elke dag as onderwyser met ywer en passie skoolgehou.

“Kinders kom agter as jy nie van jou werk hou nie,” sê hy.

“Wanneer jy ’n positiewe houding het, gaan jou leerders ook een hê.”

Hy tree af as skoolhoof en gee al vir die afgelope 44 jaar skool in Afrikaans, terwyl Anver vanjaar 50 jaar lank skoolhou.

Anver sê verskeie kinders het al voor hom op die skoolbanke gesit wat vandag gerespekteerde beroepsmense in die samelewing is.

“Ek loop nou nog van my oudleerders in die dorp raak. Vandag is hulle dokters, ouditeurs en prokureurs, maar hulle spreek my steeds as meneer aan,” sê hy.

Anver kyk met verwondering terug na sy vyf dekades in die onderwys.

“Dit is vir my ’n eer om die toekenning te ontvang. Onderwysers kry nie altyd die erkenning wat hulle toekom nie, maar ek sal my loopbaan in die onderwys vir niks verruil nie.”

Anver het ook geen planne om af te tree nie en het aansoek gedoen om volgende jaar weer by Pretoria Muslim Trust Sunni-skool leerders te brei.