Skip to the content

#OnseFees: Rakkers kan saam kom makietie

Hoeveel keer moes jy nie al ter wille van die kleingoed by ’n familierestaurant gaan sit sodat hulle op die klimrame kan baljaar nie? Teen watter koste? Terwyl jy vir die soveelste keer te gaar ribbetjies, bleek tjips en flou drankies afwurg, kom Daantjie jillend met Spiderman-gesigverf daar aan en eet met ywer sy hamburger. Mismoedig druk jy nog ’n olierige uiering in jou mond en sug.

By die ATKV se #OnseFees sal dié petalje homself nie afspeel nie. Ouers kan heerlik makietie en met ’n geruste hart weet dat die kleingoed na omgesien word en hulle ook hul dosis pret inkry. 

Dié fees word vir die eerste keer vanaf 6 tot 8 Desember by die Taalmonument in die Paarl aangebied.

Op 7 Desember word daar ’n kinderprogram aangebied.

“Ouers sal hulle kinders hier in bekwame hande kan los,” sê Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans (VVA).

Die program sal by die Taalmonument se amfiteater aangebied word.

“Ons sal hulle vermaak en interaktiewe speletjies met hulle speel,” sê sy.

Die program sal uit verhoogproduksies, ’n boekvoorlesing en verskeie opvoedkundige speletjies bestaan.

Sy sê kinders word geregistreer en elke ouer se kontakbesonderhede word geneem.

“Ons gaan heerlik legkaart bou en pret hê.”

Die kinderprogram word in samewerking met LAPA Uitgewers, Montesori-Paarl, VVA en WOW aangebied.

Kaartjies vir #OnseFees kan by Computicket gekoop word.

Vir die volledige program klik hier.

Vir meer inligting oor die kinderporgram kontak vir Chareldine van der Merwe by 072 036 5412 of per e-pos by chareldinev@vva.atkv.org.za.

comments powered by Disqus