Skip to the content

Taaldiversiteit onder die loep by #OnseFees

Van links is Annelise de Vries, Danneline Ramsden, Sonél Brits, kaptein John Witbooi, Anastasia de Vries, Crispin Sonn, Karien Brits en Michael Jonas.
Van links is Annelise de Vries, Danneline Ramsden, Sonél Brits, kaptein John Witbooi, Anastasia de Vries, Crispin Sonn, Karien Brits en Michael Jonas.

Taaldiversiteit het onlangs tydens die taalgesprek by die #OnseFees onder die loep gekom. Afrikaans se diverse aard is deur ’n paneel kundiges vanuit verskillende hoeke belig. Die onderwerpe wat aangeraak is, was soos volg: die rol van kunstefeeste in die skep van ’n gemeenskaplike Afrikaanse identiteit; die verhouding tussen standaardtaal, variëteite en identiteit; die opbloei van Afrikaans en moontlikhede vir jong Afrikaanse kunstenaars; en die rol van Afrikaanse kultuurorganisasies in die bevordering van die somtotaal van Afrikaans.

Daar was ’n lewendige debat oor Standaardafrikaans. Almal was dit eens dat ’n standaardtaal nodig is om goeie kommunikasie en onderrig te bewerkstellig, maar daar was uiteenlopende menings oor hoe standaardisering hanteer moet word sonder om in die slaggate van die verlede te trap. “Ons moet na ons kinders luister,” is die raad van Anastasia de Vries van die Universiteit van Wes-Kaapland oor hoe standaardisering van Afrikaans aangepak kan word.

Die jong stem van die paneel, Annelise de Vries van Solidariteit, sê jongmense dra nie meer so swaar aan die bagasie van Afrikaans se verlede nie. Danneline Ramsden, storieverteller en kunstenaar, het hierby aangesluit en gesê dat jongmense in die kunste die taal sal laat voortleef. Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk se direksie, is van mening dat jongmense meer bewus van hulle herkoms is en kunstefeeste moet seker maak dat hulle gebalanseerde programme met inhoud aanbied vir die breër publiek.

Kaptein John Witbooi sê Afrikaans is ver van ’n afgrond. Die sprekers van die verskillende variëteite hou die taal aan die gang. “Nama is my historiese taal en Afrikaans is my moedertaal. Afrikaans moet dankbaar staan teenoor Nama,” het kaptein Witbooi die verhouding tussen Nama en Afrikaans verduidelik.  

Wat gemaak met die stigmatisering van die variëteite? Volgens Anastasia de Vries moet ons nie standaardtaal gelykstel aan intelligensie nie. Standaardtaal moet deel van die kinders se arsenaal wees, maar hulle moenie bang of skaam wees om in hulle eie variëteit óók te skryf en uit te druk nie.  

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, glo dat Afrikaans in ’n meertalige konteks bevorder moet word. Afrikaans behoort ook aan niemoedertaalsprekers van die taal. Die rol van taalorganisasies soos die ATKV is om platforms vir Afrikaans in al sy vorms te skep en om brûe tussen al die sprekers te bou.

Die gespreksleiers van die paneel was Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en –monument, en Karien Brits, bestuurder: taal van die ATKV-MSW. Die paneel is in samewerking met die Afrikaanse Taalraad saamgestel. Die plan is om hierdie gesprek ’n gereelde instelling te maak om sodoende ’n gesonde diskoers oor Afrikaans se herkoms en toekoms aan die gang te hou.