Skip to the content

“Afrikaans se grootste bedreiging is isolasie”

Dr. Christa van Louw, destydse voorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans, tydens die 14de Johan Combrink-gedenklesing in Ceres, in die Wes-Kaap.
Dr. Christa van Louw, destydse voorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans, tydens die 14de Johan Combrink-gedenklesing in Ceres, in die Wes-Kaap.

Afrikaans moet hande met ander Afrikatale vat om te verseker dat die sprekers van die taal nie geïsoleer word nie.

Dít was die boodskap van dr. Christa van Louw, destydse voorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans, tydens die 14de Johan Combrink-gedenklesing in Ceres, in die Wes-Kaap.

Dié lesing word jaarliks deur die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, aangebied. Vanjaar se gedenklesing het saam met die viering van Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) geval.

“Ons moenie Afrikaans as ’n minderheidstaal sien nie, want dan dink ons ons het minder mag.”

Johan Combrink was ’n taalkundige, professor in taalkunde aan die Universiteit Stellenbosch, voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en skrywer van verskeie taalkundige boeke. Christa was ook een van die laaste studente om haar doktorale studie onder hom te doen.

Volgens Christa deel Afrikaans en ander Afrikatale ’n slegte posisie teenoor Engels, maar daar is tog hoop vir dié tale.

“Ons moet ons eie hulpmiddels inspan om almal se tale te laat uitstyg, want so skep ons ’n diverse meerderheid, nie geïsoleerde minderhede nie,” sê sy.

“Afrikaanse kinders doen steeds goed, want daar is ondersteuning vir hulle; maar hoe kan ’n Xhosasprekende kind in Xhosa geleer word, as daar nie geleenthede vir hom/haar geskep word nie? Afrikaans moet dus hande vat met ander tale en Afrikaanssprekendes moet die voorlopers word om ander tale te help bemagtig.”

Christa gaan verder om te verduidelik dat die meerderheid Afrikaanssprekende mense onder die broodlyn leef.

“As ons niks daaraan doen nie, mors ons ons tyd, want ’n honger mens soek brood, die taal waarin die brood gevra of gegee word, is van min belang.”

Sy sê die oplossing vir dié uitdagings is opheffingswerk.

“Ons moet ander mense ook leer glo hulle kan suksesvol wees, eers dan kan ons hulle weer help om suksesvol in hul onderskeie moedertale te wees.”

Volgens Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV, poog dié organisasie om juis brûe met ander moedertaalsprekers te bou.

“Die ATKV gebruik taal om nasiebou te bevorder en reik daarom ook uit na ander taalgemeenskappe met sy Afrikaans vir Almal-projek.”

Vir meer inligting oor die VVA se werksaamhede klik hier. Om betrokke by die Afrikaans vir Almal-projek te raak klik hier. – Izak de Vries