Skip to the content

Askoek weer in 2019 getrap

Die Prins Albert Vastrappers was in 2018 die wenners in die o.14-afdeling.
Die Prins Albert Vastrappers was in 2018 die wenners in die o.14-afdeling.

Rieldansers hoef nie te vrees dat die askoek nie in 2019 getrap sal word nie. Daar sal vanjaar behóórlik vlerkgesleep en gebokspring word en die ATKV is trots om vir die 14de jaar by die ATKV-Rieldanskompetisie betrokke te wees.

Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW, sê die ATKV is baie positief oor die toekoms van die rieldans. “Die rieldans is ’n belangrike kultuurerfenis en die ATKV wil sy betrokkenheid en toewyding beklemtoon.

“Daar gaan in 2019 definitief ’n kompetisie wees en ons sien uit om binnekort met rieldansleiers en ander belanghebbendes te ontmoet om ook te luister wat hul behoeftes is.

“Soos met enige projek is ons in die proses om na die formaat van die kompetisie te kyk om uiteindelik te verseker dat die kompetisie van krag tot krag gaan.

Sonél sê die rol wat die rieldans in die gemeenskap speel, kan nie ontken word nie. “Die ATKV besef dat hierdie projek al ’n reuse-verskil in baie mense se lewens gemaak het.”

Die riel is ’n baie ou dansvorm waarvan die wortels teruggespoor kan word na die danse van die Khoi en die San. Tussen die 1940s en 1960s is dit veral deur plaaswerkers gedans, en hedendaagse rieldansers probeer om iets van daardie era in hul kostuums vas te vang. Weens onder meer verstedeliking en die aanhang van die Amerikaanse popkultuur het die riel byna uitgesterf, maar danksy die ATKV se ingryping en veral die werk van Elias P. Nel, het dié tradisionele dansvorm weer herleef.

Die eerste ATKV-Rieldanskompetisie is in 2006 aangebied.

Hou die ATKV se webwerf dop vir meer inligting, datums en ander rielnuus.