Skip to the content

Leer om te lees; lees om te leer

lees

Die kinders van Suid-Afrika kan nie lees nie. Op 1 Februarie vier ons Wêreldhardopleesdag en die waarde van volwassenes se betrokkenheid by kinders se leesreis kan nie genoeg onderstreep word nie.

Om ’n boek oop te slaan, jou oë oor die woorde te laat dans en te verstaan wat daar staan, word deur baie mense as vanselfsprekend aanvaar. Almal kan mos lees, nie waar nie? Almal verstaan mos wat hulle lees, of hoe?
Lees ’n mens egter die verslag van PIRLS (Progress in International Reading Literacy Study) 2016 besef jy baie vinnig dat bogenoemde stelling nie noodwendig vir die kinders van Suid-Afrika geld nie.
Volgens PIRLS 2016 kan 78% van Suid-Afrikaanse graad 4-kinders nie met begrip lees nie. Vergelyk dit met Amerika waar die syfer net 4% is, is dit duidelik dat ons ’n groot probleem het. Suid-Afrika was heel laaste van die 50 lande wat deelgeneem het.
Nic Spaull, ’n senior navorser aan die Universiteit Stellenbosch, skryf op sy webwerf kort nadat die verslag bekend gemaak is dat bogenoemde resultate nie net skrikwekkend is nie, maar ’n leeskrisis is.

Moedertaalonderrig
Daar is baie faktore wat kan lei tot swak leesvaardighede, maar volgens Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV, bied die uitslae van PIRLS 2016 die geleentheid om opnuut na die rol van moedertaalonderrig in die ontwikkeling van goeie leesvaardighede te kyk.
Dr. Surette van Staden, waarnemende direkteur van die Sentrum vir Evaluering en Assessering aan die Universiteit van Pretoria, stem saam dat moedertaalonderrig beslis ’n rol speel om van ’n kind ’n goeie leser te maak.
“Ek dink wat ons in PIRLS 2006, prePIRLS 2011 en nou weer in PIRLS 2016 sien, is bewyse vir die waarde van moedertaalonderrig. Telkens wanneer kinders onderrig in hul moedertaal ontvang en daarin getoets is, was hulle prestasie in die PIRLS-toetse aansienlik beter.
“Maar (en dis ’n groot maar), dit het in PIRLS 2016 alle tale behalwe Engels en Tshivenda gegeld.”
Volgens dr. Surette kan ’n mens wat Engels betref, aanneem dat baie ouers hulle kinders eerder na ’n Engelse skool as na byvoorbeeld ’n townshipskool stuur omdat die onderrig in Engels van ’n beter gehalte is. Daarom dat hierdie kinders beter doen in Engels, al praat hulle dit nie by die huis nie.
Oor die redes hoekom kinders beter in Tshivenda gevaar het, al praat hulle dit nie by die huis nie, word daar nog kopgekrap.
Volgens Karien is Afrikaanse ouers dikwels bekommerd oor die toekoms van hul kinders in ’n wêreld waarin Engels ’n dominante rol speel.
“Hulle voel dat hulle eerder hulle kinders na skole sal stuur waar Engels die onderrigmedium is. Die aanname is dat hulle kinders beter Engels sal leer praat en lees as hulle in Engels skoolgaan. Dit is ongelukkig ’n drogredenasie. Die aanleer van ’n tweede taal is suksesvoller as die moedertaal goed gevestig is en ontwikkel word. Dit beteken dat die kanse beter is dat die kinders goeie Engels sal leer praat en lees as hulle in hulle moedertaal skoolgaan,” sê sy.

Moedertaalonderrig en wiskunde
Hanrie Bezuidenhout, wat tans besig is met haar doktorsgraad oor hoe taal die wiskundeontwikkeling van jong kinders beïnvloed, sê hoewel daar baie redes is hoekom kinders nie met begrip kan lees nie, sy elke dag die verskil sien wat moedertaalonderrig maak.
Hanrie is verbonde aan die Universiteit van Johannesburg se Centre for Education Practice Research.
Hanrie verduidelik dat mense van alles prentjies vorm en die woorde (in jou moedertaal) vir die prentjies word dan soos plekhouers. “Ons moet onthou dat kinders van graad R tot graad 3 leer om te lees. Van graad 4 af lees hulle om te leer.”
Sy verwys na die 2017-artikel, Getting Reading Right, waarin Nic Spaull en Ursula Hoadley van die Skool vir Opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad skryf dat 70% van leerders in graad R tot graad 3 in ’n Afrikataal skoolgaan. In graad 4 slaan hulle oor na Engels as onderrigtaal.
“Wanneer die kind nou in graad 4 lees en op ’n onbekende woord in byvoorbeeld Engels afkom, moet hy/sy eers die woord ontsyfer. As al die woorde egter vir hom/haar onbekend is, word die werkende geheue (korttermyngeheue) oorlaai en kan daar nie begrip of betekenis gevorm word nie,” verduidelik Hanrie.
Dit is dus nie ’n verrassing dat kinders dan sukkel om met begrip te lees nie.
Om alles te kroon moet hierdie kinders wiskunde ook baasraak.
“Wiskunde is soveel meer as net syfers en formules, dis ook taal. ’n Kind moet weet wat woorde soos ‘groter as’, ‘meer as’, ‘minder’, ‘voor’ en ‘na’ beteken.
“As ’n kind dus in die nie-moedertaal waarin hy/sy skoolgaan, nie weet wat bogenoemde woorde beteken nie, gaan hy/sy beslis nie die regte antwoord kan gee nie.”
Hanrie het ook ’n broertjie dood aan ouers wat spog as hul kleuter van een tot tien kan tel. “Ouers dink hul kind is geniaal, maar eintlik ken hulle net die woorde en het geen begrip van hoeveel bv. vyf eintlik is nie.”
Daarom glo Hanrie dat dit goed is om kinders te leer om wiskunde en wetenskap ook te lees, in plaas van net storieboekies.

Lees begin by die huis
Indien jou kind egter in sy/haar moedertaal skoolgaan, beteken dit nie ouers is daarvan vrygeskeld om moeite te doen as dit by lees kom nie.
Spaull en Hoadley meen lees begin by die huis. “Hoe meer kinders met die gesproke en geskrewe woord in aanraking kom, hoe beter sal hulle lees.”
Hul artikel stel dit egter duidelik dat tot 27% van kinders in Suid-Afrika in huishoudings bly waar daar geen boeke is nie. Die skool is dus nie net die primêre plek waar geleer word om te lees nie, maar ook die enigste plek.
Dit is ook nie net kinders in swak sosio-ekonomiese toestande nie wat nie genoeg blootstelling aan boeke kry nie.
“Baie mammas werk tot laat in die aand en kom doodmoeg by die huis aan. Dan is dit soms net makliker om die kind voor die televisie neer te sit of ’n tablet in die hand te stop,” sê Hanrie.
Volgens Amanda de Stadler van die Vriende van Afrikaans het navorsing bewys dat die gemiddelde kontaktyd wat ouers in Suid-Afrika met hulle kinders het, net 11 minute per dag is.
“Die Nederlanders het bereken dat as jy elke dag net tien minute vir jou kind voorlees, hy of sy 1 000 nuwe woorde per jaar aanleer. En dit kos niks nie, net tyd, kontaktyd met jou kind.”
Taalgenoot het vir Amanda gevra om ’n paar wenke te gee hoe om ’n liefde vir lees van babatyd af by jou kind(ers) te kweek.

  • Nul tot drie jaar
    Kinders leer van die ouderdom nul tot en met ses jaar meer as wat hulle ooit weer in hul lewe sal leer. Jy hoef dus nie te wag dat hulle ouer word om vir hulle stories voor te lees nie.
    Begin by babas. As ons in die woorde van Johan van Lill van RSG se Groeipyne-program glo dat luister die suiwerste vorm van leer is, is dit baie belangrik om vroeër eerder as later ’n kindjie aan luister gewoond te maak.
    As jy jou baba borsvoed of bottel gee, kan jy netso wel die tyd saam benut, ’n boek vat en vir die kleintjie voorlees. Al verstaan hulle nie die storie of die woorde nie, hoor hulle jou stem en die ritme van die taal. So versterk jy van kleins af jou verhouding met jou kind (there’s nou app for a lap). Die kind voel die warmte van jou stem en jou nabyheid. Jy kyk in daardie ogies en daar vind julle mekaar. Tim Vreugdenhil, ’n dominee van die Oosterkerk in Amsterdam, skryf soos volg oor daardie kyk in mekaar se oë: “Hoe wij kijken, onze gelaatsuitdrukking: het zou wel eens ons grootste geschenk aan elkaar kunnen zijn (Het Parool, 25 Desember 2017).” Daar is niks waardevoller op hierdie aarde nie.
  • Drie tot vyf jaar
    Maak jou kind in ’n woordryke wêreld groot. Alles het ’n naam. Plak byvoorbeeld die woorde “yskas”, “stoof”, “kas”, “stoel” en “tafel” op hierdie voorwerpe. Wys vir jou kind dat ’n mens van links na regs lees. Laat hulle luister en hoor met watter letter ’n woord begin. Klap die lettergrepe van ’n woord saam met hulle. Só leer jy jou kind speel-speel pre-leesvaardighede aan.
    Gesels met jou kind oor die alledaagshede in sy of haar lewe. Praat in volsinne en verwag ’n volsin terug. Dit leer hulle om hul gedagtes agtermekaar te kry en te formuleer. Daarvoor het hulle egter ’n woordeskat nodig wat net jy en boeke hulle kan gee.
    As dit moontlik is, sorg dat daar boeke vir hulle in die huis is. So nie, sluit by die biblioteek aan en gaan neem saam met hulle boeke uit.
  • Vyf tot agt jaar
    Lees op ’n interaktiewe manier vir hulle voor. Laat hulle raai wat gaan gebeur voordat jy omblaai. Dit leer hulle om te voorspel – ’n vaardigheid wat belangrik is vir die verwerwing van syfervaardigheid.

Boekfluisteraar
“Hierdie mooi woord [boekfluisteraar] leen ek by Donalyn Miller wat die boek, The Book Whisperer, geskryf het. Word jou groter kind, kleinkind of leerder se boekfluisteraar. Let op waarin hy of sy belang stel en koop boeke wat hom of haar sal aanmoedig om te lees (of neem by die biblioteek uit). Om van jou kind ’n lewenslange leser te maak is ’n geskenk waarvan die waarde nie gemeet kan word nie,” sê Amanda.
“Onthou, kinders aap grootmense na. Hou jou dus besig met boeke. Lees, sodat jou kind ook sal wil lees.
“Daar is talle leesprogramme en instansies wat hulle besig hou met lees. Vra vir Google en kies een wat by jou lewenstyl pas en help jou kind, jou buurkind en jou peetkind om goed te leer lees sodat hulle sal kan leer en so toegang verkry tot die groot, wye wêreld daarbuite.”

Nuttige webwerwe om te besoek:
www.earlychildhoodnews.com
www.shine.co.za
www.doandlearn.co.za
http://storiewerf.co.za
http://www.depicta.co.za
http://www.litnet.co.za/aspekte-wat-kinders-se-leesmotivering-beinvloed/
https://lapa.co.za/klaskamerhulp/klasgids

– Reza Clifford