Skip to the content

Moedertaalmaand in #mytaal

moedertaalonderrig

Taal is meer as net 'n medium vir kommunikasie – dit vorm ons gedagtes, bewaar ons erfenis en vorm die basis van ons kultuur. Juis daarom beywer die ATKV hom daarvoor om Suid-Afrikaners te help om sukses in en deur hul moedertaal te behaal. Dit word gedoen deur onder andere 30 taal- en kultuurprojekte waaraan duisende elke jaar deelneem. Vandeesmaand vier ons Moedertaalmaand, en in aanloop tot Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie, wil die ATKV graag klem lê op die belangrikheid van moedertaalonderrig en die rol wat ons projekte daarin speel.

Lees lê die grondslag van alle leer, en navorsing bevestig dat kinders wat in hul moedertaal lees, ook makliker leer. Die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, beywer hulle vir die bevordering van Afrikaans op gemeenskapsvlak met die fokus op leesbevordering. Deur hul vlagskip-boektrommelprojek word trommels vol leesboeke aan verdienstelike laer- en kleuterskole beskikbaar gestel. Dié projek gee meer as 3500 kinders per jaar toegang tot splinternuwe leesboeke, wat beteken hulle kan lustig lees – en dus ook leer – in hul moedertaal.  Die VVA wil vandeesmaand opnuut die waarde van moedertaalonderrig beklemtoon. Van 5 tot 8 Februarie het hulle boektrommels oorhandig, voorleeswerkswinkels aangebied en 'n “Doen-en-Leer” demonstrasie aangebied in Vryburg in die Noordwesprovinsie. Op 21 Februarie bied die VVA die 16de jaarlikse Johan Combrinck-gedenklesing by die Togryersmuseum in Ceres in die Wes-Kaap aan. Tydens hierdie lesing sal die waarde van moedertaalonderrig en die uitdagings daarvan binne die meertalige konteks van Suid-Afrika bespreek word. Deur hierdie geleentheid wil die VVA die voordele en ekonomiese waarde van moedertaalonderrig en die verband tussen moedertaalonderrig en leerprestasies beklemtoon.

Die ATKV bied ook reeds vir etlike jare skoleprojekte aan wat kinders help om sukses te behaal in hul moedertaal. Hierdie projekte bied 'n platform vir kinders om talle nuwe vaardighede aan te leer, hul taalkennis op te skerp, leierseienskappe te ontwikkel en hul kreatiwiteit uit te leef. Deur aan die ATKV se skoleprojekte deel te neem, kan kinders hul liefde vir Afrikaans op verskeie maniere uitleef. Deur projekte in hul moedertaal word kinders bemagtig om die toekoms met selfvertroue aan te pak en hul vaardighede en talente uit te bou.

Moedertaalonderrig strek verder as net opvoeding in jou moedertaal, en beteken nie net leer in jou taal nie, maar lééf in jou taal. Die ontwikkeling van hoë vlak-denke, sosiale interaksie, speel, redeneer, talente uitleef en kreatief wees is alles deel van moedertaalonderrig, en iets waarvoor die ATKV se skoleprojekte ruim geleentheid bied.

Die ATKV glo dat moedertaalonderrig 'n sleutelfaktor in sukses is. Deur ons verskillende projekte wil ons graag alle deelnemers help om sukses te behaal. Kom dink, wees kreatief en leef in jou moedertaal deur deel te neem aan die ATKV se projekte!