Skip to the content

Uittreksel: Legkaart van 'n jong lewe

Ter viering van Dolf van Niekerk se negentigste verjaarsdag verskyn ’n versameling filosofiese essays in sy nuutste boek, ’n Legkaart van ’n jong lewe. ’n Deurleefde, wyse Van Niekerk skryf oor sy vroegste herinnerings aan sy geboortedorp, sy gesin en sy helderste herinnerings aan die plekke en mense wat hom gevorm het tot die mens wat hy geword het. Want, soos wat hy in die verhaal “Die skinkbord” skryf: Jy kan net wees wie jy is, en jy is wat jy word

Die anatomie van ’n eerste dood.

Herfs. En Sondagmiddag. Ek wag onder die peerboom dat die blare grond toe val. Die mooistes val seker maar omdat hulle ryp is.

Teen sononder gaan ek huis toe. My kapokhaan kraai. Ek loop in die lang gang kamer toe. Iewers sing iemand ’n wiegelied – dis my stiefma. Maar haar stem klink benoud. Die huis is donker en die liedjie voel onrustig. Ma sit op die bed met Maria op haar skoot. Dit lyk of Maria slaap. Haar asem ruik vreemd. My ma swyg. Ek is lief vir Maria. Dis meteens ontsettend stil en die herfsdag se einde anderkant die ruit is hard.

Maria is koorsig.

Hoekom?
Ek weet nie.

Dieselfde nag vind ek uit waarom Maria so stil lê. Teen middernag hardloop ek kaalvoet met naghemp en kort kakiebroek dokter toe. Die eerste paar kloppe is te sag.

Ek hardloop agter die dokter se motor aan huis toe en wanneer hy die voordeur oopmaak, is ek by die agterdeur. Die gang is swart tot waar die kerslig uit Maria se kamer skyn. Dis geel soos Maria se gesig. Ek luister naby die deur en hoor my hart, want die dokter praat nie. Ná ’n lang ruk sê hy die woord. Hy bêre sy gereedskap, knip sy blink leertas toe. Hy het ’n fyn snor, hy lyk netjies, sy snor en tas hoort nie hier waar Maria so vreemd … Ek gaan eenkant toe terwyl hy met Pa en Ma praat. Later stuur my pa my apteek toe om medisyne te gaan haal.

Maak gou!

Ek hardloop en ’n wysie staan uit die hardloopritme op.

Jesus min my salig lot.

Hardloop vinniger, nuwe wysies begelei my voete.

Elke nag dieselfde.

Maak gou!

Jesus min …

Maria smelt weg.

Een middag is ek alleen by haar terwyl my ma saam met vriende voordeur toe loop. Ek kielie Maria se wang. Ek praat met haar. Haar oë is oop en pap en vlak, ek raak benoud en dink aan God. Ek kyk lank in haar oë, maar sy steur haar nie aan my nie. My ma keer terug en ek hardloop tuin toe.

Ek dink: Die onderwyseres het gesê die dood is die mense se straf vir hulle sondes. Maria is onskuldig, want sy is te jonk om sonde te hê.

Wie dan? Wie is skuldig?

Die peerboom is swart, die blare is swart. Die herfs is yskoud.

Ek bid om vergiffenis.

Maria ken my nie meer nie. Elke nag hardloop ek vinniger, ek wil nie slaap of eet nie, maar niemand weet dis omdat ek vir my sondes wil ly nie. Die dood hardloop saam met my en solank ek voor hom by die dokter aankom, sal hy nie na Maria kyk nie.

Die hoeveelste dag besluit ek om my kapokhaan aan die Here te offer. Ek gaan sit by die hok en verduidelik die saak aan hom. Ná ’n lang gesprek maak ek die hek oop, vang hom en hou hom vas.

En nou, Here?

Die haan draai sy kop skuins en kyk na my.

Iemand roep hard en ek los die haan soos ek skrik.

En nou, Here?

Die dokter is nie tuis nie. My pa verlaat sy kleremakery en kom huis toe. Al die oudste vrouens van die dorp daag met hulle rate op. Die huis word ’n vreemde plek, en die mense wat fluister en op hulle tone loop, maak my benoud. Ek kan nie naby Maria kom nie en ek móét met haar praat. Ek raak iewers aan die slaap en voel nie die koue nag nie.

Vieruur maak my pa my wakker.

Maak gou!

Sy gesig is spierwit en ek hardloop my hemp se knope los. Ek klop en skree tegelyk. My pa was so wit, ek weet nie of ek die dood voorgespring het nie. Die dokter ken al my stem, hy trek ’n jas oor sy slaapklere aan en jaag na ons huis toe.

Ek hardloop ontsettend vinnig agterna.

Jesus min Jesus lot salig my salig min … ek het die sin vergeet. ’n Skerp klip steek in my voet ek skuur dit op die straat uit.

Die lang gang is leeg. Ek wag in die donker, is bang die dokter hoor my asemhaling. Ná ’n rukkie kom ’n man uit Maria se kamer. Hy loop en skuur teen die muur, dis of hy nie kyk waar hy loop nie. My oë makeer iets – die man is ’n kol wat bewe. Hy loop tot naby my, leun teen die muur. Hy maak geluide.

Dis my pa.

Die dag breek. My kapokhaan kraai; ek ken sy dun stem.

Ek het nog nooit my pa gesien huil nie.

Ek kry die Bybel en hardloop tuin toe. Dis nog donker onder die peerboom. Daar is ’n geritsel tussen die blare en ’n swart kat hardloop deur ’n skuiwergat in die tuinmuur. Ek skrik van oumensstories. Ná ’n rukkie gaan sit ek op ’n wal en soek Psalm 23. Terwyl ek in die swak lig rondblaai, sê ek dit op sodat God my solank kan hoor.

Naby die peerboom en die muur lê die grys katjie begrawe wat ek maande gelede gedurende ’n speletjie verongeluk het.

Ek spoor Psalm 23 op en lees dit aan die kluite en blare voor. Die vrugtebome vermeerder, die tuin word ’n woud en al die bome kyk na my. Die kapokhaan kraai in sy hok. ’n Ontsettende angs laat my opspring en huis toe hardloop.

Twee vrouens in die kombuis wat net die dag se lig in hom het. Ek soek ’n beker, skep uit die wateremmer en drink. My mond is dadelik weer droog.

Die deur van Maria se kamer is toe. Die huis wemel meteens van mense maar ek herken niemand nie. Daar is ’n eienaardige geur in die gang en dis of die stilte ook ’n reuk het. ’n Vrou lei my ma uit Maria se kamer. Ek druk my teen die muur.
My ma huil sonder snikke. Sy lyk verlore en hulpeloos, maar dis die klank wat my aan haar wil laat raak. Sy kan my nie sien nie.

My pa kom verby en vat aan my kop. Sy vingers gryp ’n oomblik aan my hare, dan los hy hulle en gaan weg. Ek is alleen in die gang.

Maria lê alleen.

Sy is nog nie twee jaar oud nie en sewe jaar jonger as haar boodskapper.

Die vyeboom se blare hang jou toe wanneer jy onder hulle lê.

Legkaart van ’n jong lewe is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar of op http://bit.ly/2tFURSR.