Skip to the content

Leesuitdaging 2019: Hier is ’n paar idees

leesuitdaging

Lees is ’n luilekker tydverdryf wat enige boekwurm se tone laat omkrul van plesier, maar dit is ook maklik om in ’n gewoonte te verval en slegs ’n uitgesoekte paar skrywers se werk te lees.

Hulle sê mos ’n verandering is so goed soos ’n vakansie en met Taalgenoot se leesuitdaging sal jy sommer maklik nuwe boeke en skrywers ontdek.

Hier is ’n paar boekvoorstelle vir van die uitdagings.

Vir ’n speurverhaal kan jy Deon Meyer se nuwe misdaadroman Prooi lees. Bennie Griessel moet weer ’n hoëprofielsaak aanpak en terselfdertyd is daar trouklokke wat vir die geliefde speurder in die verte lui. Prooi sal ook in die kategorie van ’n boek met ’n enkele woord as titel val.

Daggaboer is Jean-Pierre de Kock se debuutroman en met dié boek kan jy die uitdaging ’n boek deur ’n nuwe skrywer ook aftiek. Die karakter Lennet Loots is ’n alleenloper wat woon op ’n lappie grond in Baardskeerdersbos waar hy boer met groente en vrugte, en dagga. Die roerende debuutroman is die relaas van ’n jong man wat verkies om eerder in ’n woonwa van hand tot mond te lewe as om die waarheid te konfronteer.

Indien jy ’n nie-fiksieboek soek, is 1 Recce: Die nag behoort aan ons deur Alexander Strachan ’n kragtoer wat jy nie sommer sal kan neersit nie. Dié boek gee ’n totaal nuwe blik op die recces en die werk wat hulle onsigbaar agter die skerms gedoen het.

Pieter Odendaal se bundel Asof berge nooit hier gewoon het nie sal jou diep roer en nie net sal jy met hierdie bundel kan sê jy het ’n digbundel gelees nie, maar jy kan ook sê jy het ’n boek deur ’n nuwe skrywer gelees aangesien dit Pieter se debuutwerk is.

Laat die hart ’n bietjie vinniger klop met een van LAPA Uitgewers se Romanzas. Toe vind ek jou deur Ilze Beukes of Perfek vir my deur Marilé Cloete val in die kategorie romanse/ liefdesverhaal.

Indien jy op soek is na ’n kortpad kan jy Triomf deur Marlene van Niekerk lees. Dié boek is meer as 15 jaar terug geskryf en is ook met die Hertzogprys bekroon. Twee vlieë met een klap!

Stof deur Alette van den Heever is die skrywer se eerste boek en handel oor ’n distopiese Suid-Afrika. Dié boek kan as die wetenskapfantasiekategorie val.

Met so ’n bietjie navorsing kan jy maklik hierdie uitdaging kafdraf. Lekker lees!