Skip to the content

’n Hand met ’n plant jou voorland

groentetuin

Met die eerste oogopslag dink jy dalk: “Ag nee! Nie nog ’n doen-dit-jouself-boek nie!” Maar, hokaai! Begin jou eie groentetuin deur die redakteurs van die tydskrif Platteland, Johan van Zyl en Peter van Noord, is in ’n klas van sy eie. Jy het dalk gedink daai paar tamatieplantjies wat yl daar in jou agtertuin groei wys dat jy ’n hand met ’n plant het, maar blaai jy deur hierdie boek, kom jy met ’n sidderende skok agter jy is eintlik ’n leek.

Jy het ook nie ’n hektaar se grond nodig om ’n geil oes op te lewer. Jy kan danksy dié boek met goeie raad en hulp in ’n japtrap jou eie groentetuin op jou balkon, vensterbank of in potte begin.

“’n Organiese groentetuin is in wese ’n romantiese terugkeer na oeroue gebaande weë, maar foeitog, waar kennis en basiese lewensvaardighede vanmelewe se dae van een geslag na ’n volgende oorgedra is en gifstowwe nie bestaan het nie, moet voornemende amateur-groentekwekers deesdae omtrent ’n kursus doen om die basiese organiese beginsels onder die knie te kry...

“Die eerste goeie nuus is dat ’n kostuin een van daardie romantiese fantasieë is wat jy ongeag geslag, inkomste, ouderdom of beskikbare ruimte relatief maklik ’n werklikheid kan maak – ieder geval veel makliker (en bekostigbaarder) as byvoorbeeld daardie huisie by die see of Lotto-boerpot wat almal begeer,” lui hierdie groentetuin-bybel.

Stap-vir-stap neem Johan en Pieter jou hande. Dit is nie net ’n geval van ’n saadjie of ’n plantjie in die grond druk nie; een van die belangrikste faktore van ’n weelderige groentetuin is goeie grond. Hiermee help die skrywers jou ook.

Verder is daar ook raad oor hoe om jou eie warm en koue komposhope voor te berei, hoe om ’n insekhotel te begin om klein helpers soos bidsprinkane, bye en skoenlappers na jou tuin te lok, asook watter blomme pestilensies soos plantluise weghou.

Wat selfs ’n ou hand dalk nie sal weet nie, is die soort groente wat die beste metgeselle maak. Byvoorbeeld: Beet, uie, broccoli, Brussel spruite, spinasiebeet en kool gaan soos koffie en beskuit saam. Basilie tussen tamaties help om die smaak van die tamaties te bevorder en knoffel langs blaarslaai help om luise af te skrik.

“Metgeselplante is die organiese boer se geheime wapen.”

 En wat is die skrywers se beste raad?

“Deel jou kennis met mekaar en leer uit mekaar se foute. Dit maak die eerste groente-oes soveel lekkerder!”

* Begin jou eie groentetuin is by toonaangewende boekwinkels teen R325 beskikbaar.