Skip to the content

Roerende produksie ten bate van ATKV-leesprojekte

Die Garage Dance Ensemble is eersdaags in Upington te sien met "Mooi Genoeg om Engels te Praat".
Die Garage Dance Ensemble is eersdaags in Upington te sien met "Mooi Genoeg om Engels te Praat".

Digkuns word deesdae nie meer net tot die blaaie van 'n bundel beperk nie. Deesdae kry woorde met behulp van musiek, beweging, dans en teater nuwe lewe.

Die Garage Dance Ensemble, onder leiding van Alfred Hinckle en John Linden, se Mooi Genoeg om Engels te Praat is só 'n produksie waar digkuns deur middel van teater versinnebeeld word.

Die produksie sal 22 Februarie 2019 om 19:00 in die Hoërskool Upington se skoolsaal te sien wees.

Dit is Garage se eerste optrede in Upington en die opbrengs uit kaartjieverkope is ten bate van die ATKV se leesprojekte wat reeds sedert 2013 in die Noord-Kaap lees bevorder. Die geld wat ingesamel word, sal gebruik word om te help om 'n leesprogram by kleuterskole in Raaswater, Augrabies en Kalksloot te stig.

Die groep is in 2011 op die been gebring, nadat Alfred Hinckle reeds 24 jaar suksesvol aan die stuur van suksesvolle dansproduksies was.

Ronelda Kamfer, wenner van die Jan Rabie Rapportprys, se gedigte sal in Mooi Genoeg om Engels te Praat uitgebeeld word.

"Ek is lief vir haar gebruik van die taal. Ons titels is altyd in Afrikaans, want dit is die gemeenskap wat ons dien en ons hou daarvan om stories te vertel," sê Alfred.

"Ronelda se werk is besonders, want 'n deel daarvan is pragtige, persoonlike verhale en nog 'n deel daarvan is hewig polities, donker, vol pyn en erg ontstellend." 

Alfred was baie selektief in die choreografie wat hy saam met Ronelda se skryfwerk gebruik.

"Ek stel nie belang in dans wat eenvoudig daaroor gaan om 'n danspassie uit te voer nie – die opleiding lê baie dieper as dit.

"As 'n mens net werk vir erkenning (soos in klassieke ballet) versterk dit die vooroordeel dat dit is hoe dinge behoort te wees. Maar as ek die dansers sover kan kry om 'n skuif te beleef weet ek dat die gehoor dit ook sal ervaar. Die dansers se plig is om uit te daag, nie om te paai nie."

Die aktrise Esme Marthinus lewer die monoloog in die produksie.

"Dit is nie suiwer vermaak nie," verduidelik Alfred.

"Daar moet 'n spanning, 'n onderliggende hartseer en 'n gevoel van pyn wees."

Kaartjies kos R80 per persoon en is by Anzil Kulsen by 083 704 0221 beskikbaar.