Skip to the content

Tienertoneelskryfskool ’n moet

Die Hoër Meisieskool Bloemhof in aksie met hul produksie "tot stof / tot stilte – ’n paniekreaksie". Foto: Annemarie Wichmann
Die Hoër Meisieskool Bloemhof in aksie met hul produksie "tot stof / tot stilte – ’n paniekreaksie". Foto: Annemarie Wichmann

Jy hoor die klank van voetstappe op die stowwerige planke van die verhoog. Die karakter in die kollig lewer ’n roerende monoloog. Dan is alles pikdonker, en die gehoor snak na hul asem voordat ’n dawerende applous losbars… En dan skrik jy wakker en besef dit was net ’n droom, en daardie dramateks waaraan jy nou al maande lank werk, gaan dalk net ’n droom bly.  

Voordat jy mismoedig raak, die ATKV is hier om jou by te staan en met die nodige gereedskap en vaardighede toe te rus om ’n wentoneelstuk te kan skryf. Vanjaar word die ATKV-Tienertoneelskryfskool weer van 7 tot 9 Maart 2019 by die 26° South Hotel in Muldersdrift in Gauteng aangebied. Die kursusformaat van interaktiewe lesings, gesprekke en skryfoefeninge sal deelnemers help om krities na die skep van ’n toneelstuk te kyk en te delf tot by die kern van ’n teks.

Dr. André Gerber, die kursussamesteller en -aanbieder, neem al sedert skooldae aan ATKV-Tienertoneelkompetisies deel. Gerber het verlede jaar met die Hoër Meisieskool Bloemhof se tot stof / tot stilte – ’n paniekreaksie die kompetisie gewen. Hy is ook ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement, waar hy spesialiseer in regie, teaterskepping en kreatiewe skryfkuns.

Volgens Gerber is een van die belangrikste elemente van ’n goeie dramateks die kuns om ’n onderwerp te bespreek sonder om dit noodwendig vir jou gehoor te wys. “Die onderwerp moet altyd op die periferie bly, en dit is die gehoor se werk om dit af te lei. Dit is ’n groot uitdaging vir ’n skrywer om dit reg te kry. Om ’n dramateks te skryf verg baie stamina en geduld.”

Perdita van Dijk du Bois, wat die kursus aan die begin van 2018 bygewoon het, is een van die suksesverhale van dié skryfkursus. Haar teks, Mister M en sy Mense, het verlede jaar gehelp dat die Hoërskool Tygerberg die sewende plek tydens die nasionale ATKV-Tienertoneelfinaal behaal het. “Ek dink die wonderlikste ding vir ’n skrywer is om te sien hoe jou teks lewe kry. Jou skryfwerk is eintlik dood totdat iemand dit gelees het of opgevoer het. Dit is amper soos toor,” vertel sy. “Toe ek by die skryfskool was, het iemand gesê Tienertoneel is soos ’n gimnasium vir empatie. Ek het dadelik geweet ek is op die regte plek. Vir my moet ’n teks altyd hoop gee en inspireer.”

Die sluitingsdatum vir die skryfskool is 25 Februarie 2019. ’n Deposito van R1 000 is betaalbaar wanneer ingeskryf word. Registreer so gou as moontlik, aangesien slegs ’n beperkte aantal kursusgangers geakkommodeer kan word. Let wel: maak asseblief seker dat daar nog plek is voordat jy jou deposito betaal! Stuur asseblief (indien moontlik) ’n teks wat jy geskryf het of waaraan jy tans werk, saam met jou inskrywingsvorm en bewys van deposito. Die kursusaanbieder sal dit deurlees en advies tydens die skryfskool verskaf. As jy egter nog nie ’n teks geskryf het nie, is jy steeds welkom!

Skakel vir Lizané Basson by 011 919 9078 of stuur ’n e-pos aan lizaneb@atkv.org.za om jou plek te bespreek.

Vir meer inligting klik hier