Skip to the content

ATKV-AbbAsorg waar elkeen saak maak

Anthony Swanepoel was een jaar oud toe hy om onverklaarbare redes ’n beroerte gehad het. Die regterkant van sy lyf was erg aangetas en hy kon nie sy regterhand gebruik nie.

Toe Anthony vier was, het sy pa besluit om hom by ATKV-AbbAsorg Estoire in Bloemfontein in te skryf. Geen ander skool wou hom aanvaar nie. Klein Anthony kon destyds nie loop en het die hele tyd by die sentrum net op een plek bly sit.

’n Jaar later – danksy die hulp, harde werk en toewyding van die personeel van AbbAsorg – het hy wonderbaarlik begin loop.

“Hy het maklike woorde soos ‘speel’ en ‘juffrou’ begin sê,” vertel Nellie Peyper, sentrumhoof. “Anthony kon naderhand ook self op die klimraam klim en by die drom-glybaan afgly. Net voordat hy weg is by AbbAsorg, kon hy self sy kos by die tafel gaan haal, na sy stoeltjie dra en sy lepeltjie vashou om te eet.”

Anthony – deesdae ‘n leerder aan die Lettie Fouché Skool in Bloemfontein – se roerende vordering is maar net een van die suksesverhale van die hierdie AbbAsorgsentrum.

“Die ATKV-AbbAsorg van Bloemfontein het voorwaar die afgelope 12 jaar ’n groot verskil in die kleuters se lewens gemaak. Dit gee aan hulle die geleentheid om te presteer en uit te styg bo hul omstandighede,” sê Nellie.

Volgens haar gee die sentrum se voorskoolse opleiding kinders wat andersins nie ‘n kans sou gehad het nie, die geleentheid om skoolgereed te wees. “Ons kleuters word holisties gestimuleer en daarom hoef hulle vir niemand terug te staan nie.”

Dit maak ook van hulle potensiële uitblinkers later in hul skoolloopbaan.   

“AbbAsorg gee aan kleuters vlerke wat hulle kan sprei om bo die winde en wolke van ‘n moeilike wêreld te kan sweef en so ook die son op hulle te kan voel skyn.”