Skip to the content

ATKV-Crescendofinalis stel CD bekend

Die ATKV kondig met trots aan dat Whaden Johannes se CD, Mamre, op 31 Julie 2019 in Kaapstad by die House of H bekendgestel word.

Daar, op die 7de verdieping van ’n gebou in Loopstraat, sal Whaden Johannes die land vir ’n wyle aan sy voete hê ... Maar dit was ’n bitter lang en moeilike pad tot by hierdie oomblik van glorie en die ATKV is breëbors om vandag te kan sê: Ons het hom daardie pad help stap.

Dit het alles op 21 November 2014 by die Cedar Sekondêre Skool in Rocklands, Mitchells Plein, begin toe Whaden ’n oudisie gedoen het om deel te kon word van die ATKV se mentorprogram.

Whaden is gekeur en gedurende Februarie 2015 is hy en ’n aantal ander aspirantkunstenaars deur HemelBesem, Olga Leonard, Babette Viljoen en Sean de Vries in Atlantis onder hande geneem.

Weer het Whaden uitgeblink en hy is na die ATKV-Crescendoslypskool van 17 tot 22 Mei 2015 by die Slanghoek-konferensiesentrum genooi. Die aanbieders van hierdie intensiewe werkswinkel was Pedro Kruger, HemelBesem, Anna Davel, Olga Leonard, Babette Viljoen, Jaconell Mouton en Douw Steyn. Tydens die Crescendofinaal, wat ook bygewoon is deur finaliste van kykNET-AfriVisie, het Whaden sy lied, Mosselbaaipunt, gesing, terwyl sangers soos Jak de Priester in die gehoor was.

Anders as by so baie ander kompetisies, stop die ATKV se betrokkenheid nie by die finaal nie, en ons het verder saamgestap.

Ons het Whaden genooi om jaarliks deel te wees van ATKV-Crescendo se produksiespanne en mentorprogramme, ook om op te tree by die ATKV-Rieldansfinale. Optredes by die Afrikaanse Taalraad, die ATKV se Algemene Jaarvergadering, die Fleur du Cap-toekennings, die Kimberley Gariepfees, Aardklop, KKNK, die Suidoosterfees, die US Woordfees, die Vrystaat Kunstefees, en by kykNET se Buite-Ekspo het gevolg.

Whaden word ook deel van die ATKV-oorde se minireeks, Die Koekemoers, hy speel van 2016 tot 2018 elke jaar in Adam Small se Krismis van Map Jacobs in die Kunstekaap, word in 2018 deel van die ATKV-gesteunde produksie, God Praat Afrikaans, in die Kunstekaap, neem deel aan die teaterproduksie, Die song wil my nie los nie, en in 2018 en 2019 reis hy ook saam met ’n internasionale geselskap na Doha.

Ook met die ATKV se hulp, neem hy sy eie teaterproduksie, Mamre, met Nico Scheepers as regisseur, na Aardklop, die Suidoosterfees, die Cederbergfees en na verskeie skole.

Nou kan ons nie wag vir die bekendstelling van Mamre nie; die CD waarvoor Whaden so hard gewerk het en wat deur Besembos Productions vervaardig is.

Die ATKV sal weer daar wees, net soos tevore.