Skip to the content

ATKV laat lid se groot droom ’n werklikheid word

As dogtertjie wou Ruzanne von Beulen op ’n vliegtuig klim en vlug, weg van haar neerdrukkende huislike omstandighede. Weg van die bloedstrepe teen haar ouerhuis se mure soos wat haar stiefpa haar ma geslaan het. Weg van die neerhalende uitdrukkings en kyke wat sy gekry het as sy na skool in vullisdromme vir kos moes aas.

Ruzanne onthou veral die smaak van sigaretstompies in die kos wat sy uitgevis het. Elke keer as sy ’n vliegtuig iewers hoog bo in die lug oor haar sien vlieg het, het sy gewens sy was een van die passasiers op daardie vlug, net sodat sy kon ontsnap van haar lewe.  

Al het Ruzanne se kleintyd-wense nooit waar geword nie, het sy wel onlangs die kans gekry om die wêreld vanuit ’n vliegtuig te bekyk toe sy van George tot in Johannesburg gevlieg het om die ATKV se Algemene Jaarvergadering (AJV) by ATKV-Klein-Kariba by te woon. Ruzanne is lid van die ATKV-tak Sommer net ons, en het die AJV namens die tak bygewoon.  

Ruzanne kan nie uitgepraat raak oor die avontuur nie, maar beskryf die opstyg as “vreesaanjaend”.

“Toe die vliegtuig skielik begin spoed optel het ek my oë toegeknyp en eers weer oopgemaak toe ons in die lug was, maar die landskap van daar bo het my asem weggeslaan.”

Sy is spyt sy het so laat in haar lewe eers by die ATKV aangesluit. “Die ATKV help ons om te glo dat ons meer as oorwinnaars is deur die Here wat ons versterk en krag gee. Die organisasie  het my geleer dat ek nie nodig het om my vuiste te bal teen die onreg of onregverdigheid van die verlede nie, maar dat ons in staat is om ‘n groter impak en verskil te maak deur ons hande uit te strek en oop te maak en te help bou aan ’n veranderde en verbeterde Suid-Afrika. Die ATKV gee ons vlerke om weg te vlieg van die verlede na ‘n toekoms vol hoop en nuwe moontlikhede,” sê Ruzanne.

Volgens Ruzanne wou sy nog altyd met taal werk. “Ek wou ’n skrywer of ’n joernalis word, maar my ma was die enigste broodwinner met sewe kinders. Daar was nie geld om te gaan studeer nie. Deur die ATKV kan ek my nou uitleef en hoog vlieg in my taal.”