Skip to the content

Beste SA skoolkore weer in die Rosestad

Vanaf 24 Julie tot 27 Julie tree die room van skoolkore in die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein op.  Veertig hoër- en laerskoolkore ding mee tydens die finaal van die 42ste aanbieding van ATKV-Applous.

ATKV-Applous is ’n landswye koorfees vir hoër- en laerskoolkore wat die Afrikaanse lied asook die vreugde van koorsang wil bevorder. Meer as 15 096 koorlede verteenwoordigend van al Suid-Afrika se taal- en kultuurgroepe het vanjaar ingeskryf. 

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW sê dat die ATKV opgewonde is oor hoe die ATKV se visie, missie deur ATKV-Applous uitgeleef word. “Deur hierdie projekte dra die ATKV by tot die ontwikkeling van individue, gemeenskappe én ons land, iets waarop ons as organisasie baie trots is. Dis ook inspirerend om te sien dat hierdie projek daagliks brûe help bou – nie net tussen mense nie, maar ook tussen taalgroepe.”

Op Woensdag 24 Julie tree die kore in die laerskool meriete-afdeling vir: Afrikaans sowel as nie-Afrikaanse kore op. In die Afrikaanse afdeling gaan kore van die  Laerskool van Riebeeckpark (Kemptonpark), Laerskool Kenridge (Durbanville), Willem Postma Primêre Skool (Bloemfontein), Laerskool Elarduspark (Pretoria), C & N Primêre Meisieskool Oranje (Bloemfontein) en Laerskool Mooirivier (Potchefstroom) sake uitspook.  In die afdeling vir nie-Afrikaanse skole kry  Curro Aurora (Randburg), Glenstantia Primary School (Pretoria), Nuwe Republiek Primêre Skool (Vryheid) en Excelsior Primary School (Bellville) die kans om hul slag te wys.

Op Donderdag 25 Julie kom kore in die laerskool prestige-afdeling asook die laerskool ope afdeling en hoërskool ope afdeling aan die beurt. In die afdeling vir prestige kore tree Laerskool Kruinsig, Laerskool Pretoria-Oos, Laerskool Durbanville, Laerskool Gene Louw (Durbanville) op. Daarna kom die laerskool ope afdeling aan die beurt, met kore van Loreto School Queenswood, Clarendon Park Primary School (Port Elizabeth), Laerskool Northmead wat sake sal uitspook. In die  hoërskool ope afdeling gaan St Anne’s Diocesan College (Hilton), Hoërskool Nico Malan (Humansdorp) en St Alban’s College mekaar die stryd aansê.

Op Vrydag 26 Julie kom kore in die hoërskool meriete-afdeling aan die beurt. Daar is drie onderafdelings (gemeng, meisies en seuns) in hierdie kategorie. Die kore wat deelneem kom van regoor Suid-Afrika en Namibië, naamlik Hoërskool Akasia (Pretoria), Hoërskool Duinesig (Walvisbaai), Cornwall Hill College (Pretoria), Hoërskool Namakwaland (Springbok), Hoërskool Hendrik Verwoerd (Pretoria), Hoër Meisieskool La Rochelle (Paarl), The High School for Girls, Potchefstroom, Hoërskool Garsfontein (Pretoria), Pietermaritzburg Girls’ High School, Hoërskool Strelitzia (Uitenhage) en Hoërskool Jeugland (Kemptonpark).

Op Saterdag 27 Julie, die laaste dag van die finaal,  sal C & N Sekondêre Meisieskool Oranje (Bloemfontein), Eunice High School (Bloemfontein), Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, Pretoria Boys High School, Hoër Jongenskool Paarl, Paul Roos Gimnasium (Stellenbosch), Helpmekaar Kollege (Johannesburg), Hoërskool Menlopark (Pretoria) en Stirling High School (Oos-Londen) meeding in die hoërskool prestige-afdeling vir  meisies, seuns en gemengde kore.

Coenie de Villiers is die gaskunstenaar en Jeannette Geldenhuÿs-Smit die programleier gedurende hierdie musikale paar dae.

Koorliefhebbers kan kaartjies by PACOFS bekom teen R100 per volwassene of R60 vir kinders en pensionarisse. Kaartjies sal ook by die PACOFS-kaartjiekantore beskikbaar wees vanaf 17:40 elke aand.