Skip to the content

Kleuters leer binne én buite klaskamer

In die plattelandse dorpie Ruiterbos – geleë tussen Oudtshoorn en Mosselbaai – vier armoede en werkloosheid hoogty. Dis uiteraard nie ideale omstandighede vir ‘n kind nie, maar danksy die ATKV-AbbAsorgsentrum Boskabouters kry kinders voorskoolse onderrig én twee gebalanseerde etes.

“Omdat ons gemeenskap ver van stede is, is daar hier min tot geen geleenthede vir die ouers. Kinders hier is bang vir die toekoms, en ons wil hulle ondersteun en aanmoedig om nie bang te wees nie,” sê Nicolette Oerson, sentrumhoof. “By AbbAsorg wil ons kinders die geleentheid gee om ’n positiewe uitkyk op die lewe te ontwikkel terwyl ons hulle ook voorberei op die toekoms.”

Volgens Nicolette is drie van die sentrum se oudleerders die top-presteerders in graad ses by Ruiterbos Laerskool. “Al drie is topleerders wat elke jaar vir amper al hulle vakke diplomas kry.”

Net soos wat die sentrum gehelp het om dié drie presteerders toe te rus met vaardighede vir hul toekoms, wil Nicolette en haar span ook die 21 kinders wat tans by die sentrum voorskoolse opvoeding ontvang, toerus om ook vorentoe te presteer.

“Ons fokus veral daarop om vir die kinders kwaliteit onderrig in ’n veilige omgewing te bied. Ons fokus op die fisiese, emosionele, kognitiewe en kreatiewe aspekte van elke kind.”

Boskabouters spog met sy eie biblioteek waar mense uit die gemeenskap elke week voorlees vir die kinders. “Ons wil hê die gemeenskap moet betrokke raak en probeer ook op hierdie manier vir mense geleenthede skep.”

Die AbbAsorgsentrum het ook ‘n eie groentetuin waar die kleuters leer hoe om hulle eie groente te kweek en in die kombuis voor te berei.

“Dit is ’n voorreg vir ons om met hierdie kinders te werk en ‘n verskil in hulle lewe te maak,” sê Nicolette.