Skip to the content

Kom moker ’n paar balle vir liefdadigheid

Die meeste vroue gee ’n weemoedige sug wanneer hulle mans die gholfstokke op ’n Saterdagoggend in die kar se kattebak laai. Dán weet hulle die gras kan maar hemelhoog staan, daar gaan nie vandag gras gesny word nie. Dit is hy, die 18 putjies en na die tyd ’n lang glas bier by die klubhuis.

Maar vir eens kan jy jou wederhelfte met ’n ligte hart gholfbaan toe stuur, want hierdie keer gaan hy die balle vir liefdadigheid moker.

Die ATKV-tak Vuurwarm vir Charity bied op 15 Augustus 2019 ’n gholfdag by die Blue Valley Gholflandgoed in Midrand aan.

“Al die inkomste gaan aangewend word om gesinne en veral kinders te help,” sê Anzelle Louw, takvoorsitter.

Dit is die sewende jaar dat dié tak die gholfdag aanbied om kleuterskole en minderbevoorregte gesinne by te staan.

“Ons hooffokus is veral op babas en ons samel tans geld in vir formulemelk en klere.”

Hulle help ook gereeld om kleuterskole op te knap en is tans besig met ’n projek waar hulle in Centurion ’n kleuterskool oorverf.

Louw vertel dat sy in 2009 besluit het om die tak te stig nadat sy jare lank liefdadigheidwerk gedoen het.

“Dit help altyd om ’n organisasie soos die ATKV te betrek as jy ’n verskil wil maak.”

By die tak se gholfdag kan jy ook daarna uitsien om ’n paar glanspersoonlikhede te ontmoet.

“Angelique Gerber gaan die seremoniemeester by die gholfdag wees,” verklap Louw.

Angelique se rugbyspelerman, Jacques Potgieter, en die Getroud met Rugby-sterre Dawid Louw en Altus Theart gaan ook op die dag deelneem.

“Dit beloof om ’n baie opwindende dag te wees en dit alles vir liefdadigheid.”

Vir meer inligting oor inskrywingsfooi, kontak vir Anzelle by 082 958 7425.