Skip to the content

Streeksbyeenkomste 2019 skop af

Die eerste ATKV-streeksbyeenkoms vir 2019 het op Saterdag 13 Julie by die prentjiemooi ATKV-Drakensville plaasgevind. Daar het ATKV-taklede van so ver as Johannesburg en Durban gereis om dié geleentheid by te woon. Baie lede het Sonél Brits, die besturende direkteur van die ATKV-MSW, vir die eerste keer ontmoet en die geleentheid gekry om hulle vrae en idees met haar te deel. Sonél Brits het klem gelê op die belangrikheid van takke se bydra tot die sukses van die organisasie.

Pastoor Abrie Erasmus het die verrigtinge geopen en uitgestippel hoe belangrik klein, goeie dade is vir die samelewing en dat die takke nooit moet voel wat hulle doen is te klein om ’n verskil te maak nie. Dominic Paris, bestuurder: produkontwikkeling het meer agtergrond oor die ATKV-Instituut gegee. Daar was baie belangstelling vanaf die takke ten opsigte van hul betrokkenheid by AbbAsorg wat deel van die ATKV-Instituut uitmaak. Seymour Bothman, senior bestuurder: onderwys het op sy beurt oor ander geakkrediteerde kursusse gesels wat deur die ATKV-Instituut aangebied sal word. Die lede het kans gekry om oor opleiding en ontwikkeling binne ATKV-verband asook spesifiek die ATKV-takverband te gesels.

Daar is nie net ernstig gesels nie, maar Liani Reynolds en haar musiekgroep van Bloemfontein het die gaste met vars Afrikaanse klanke vermaak. Celeste Rossouw van Amafa (https://www.heritagekzn.co.za/) het die aand ’n kultuurhistoriese praatjie gegee oor Drakensville se ontstaan, rotskuns in die omgewing en die Voortrekkers se roete oor Drakensberge. Celeste het die ATKV bedank vir hulle ondersteuning aan Amafa.

Hierdie byeenkomste dien nie net as platforms vir die ATKV-lede en -personeel om oor sake van belang te gesels nie, maar ook om lekker saam in Afrikaans te kuier. Hou die ATKV se kommunikasiekanale dop vir die volgende streeksbyeenkoms en kom kuier saam. Kyk video vir hoogtepunte van die byeenkoms en onderhoude.