Skip to the content

Uittreksel: Gedeeltelik bewolk deur Ruan Kemp

"Heilige koeie word hier links en regs geslag. En anders as die meeste Afrikaanse boeke het dit nie ’n bang haar op die kop nie. Kom wat wil." - Toast Coetzer. Gedeeltelik Bewolk is Ruan Kemp se pittige, aweregse debuutroman wat vir seker jou wind gaan uitslaan.

Dis ’n ry jong dogters met boepense op ’n klipmuurtjie. Dis ’n ry jong dogters met boepense op die trap. Dis ’n ry jong dogters met boepense op plastiektuinstoele in die wagkamer wat wag om die suster te sien. Die suster is besig, George moet wag.
“Maar dis my ouma se kliniek,” maak George beswaar.
“Maria Moore?”
“Ja, sy was my ouma.”
“Ek sal vir Suster sê. Meneer kan solank ’n rukkie wag.”
George staan in die koeltekolletjie van ’n enkele palmboom en rook. ’n Nama-man met ’n plastiekgieter loop ’n sirkel om hom, gooi die gousblomme tussen die klippe in die rotstuintjie nat. Dan sit hy die gieter neer en begin die stof van die stoep afvee. Môre vee hy weer. George glimlag vir die boepensstofmensies. Daai enetjie met die plakkies is skaam. George tel haar tone. Tien. Daai tweetjies giggel. Die res is te dik. George blaas kringe terwyl hy rook. Steek nog een brand terwyl hy wag. Hy ken van wag voor hierdie kliniek. Hy en Daniël in die Ford F100 terwyl sy pa vergadering hou. Sy pa was op die bestuur. Belangrike ses uur lange vergaderings. Hy en Daniël in die bakkie in die laaste stuiptrekkings van ’n laatmiddagwintersonnetjie. George lees die handleiding, hou die ingeboude horlosie op die paneelbord dop. Daniël maak of hy bestuur, die langpad vat. Wanneer dit te donker raak om die handleiding weer te lees, te koud raak om verder te bestuur, dan sit hulle en bibber, sit en wonder wat op dees aarde so belangrik kan wees, en dit maak hulle bang om so te wag, bang vir die koue en die donker en die grootmenslewe met sy lang vergaderings wat voorlê.
“Is dit al my beurt?”
“Jammer, Meneer, Suster is besig, Meneer moet wag.”
George staan in die wagkamer en wieg. Teen die muur is die kliniek se leuse Hinc Spes Affulget in kursief uitgedruk en met wondergom vasgeplak. Langsaan hang ’n kaart van die dorp met plakkers op. Groen vir kindersiektes. Rooi vir tuberkulose. Oranje vir diarree. Twaalf plakkers op die kaart. Twaalf kerke in die dorp. Is daar ’n oorsaaklike verband? Toe die een wat sê hy moet wag, opstaan vir ’n pis, gaan George by die kraamsaal in. Die kraamsaal is leeg. Daar is twee beddens oorkant mekaar, ’n deur met ’n stewige slot, allerhande argeologiese opgrawingsapparate, boorpunte, laaigrawe, ruspertrekkers, en ’n kolletjie aan die oorkantste muur. George gaan lê wydsbeen op ’n bed, kyk na die kolletjie. Kreun.
“Waar’s my man?” vra hy die denkbeeldige suster met haar hande tussen sy bene. “Ek soek my man!” skreeu hy en beleef ’n besonder pynlike kontraksie, rol op sy sy, kreun, maar die denkbeeldige suster rol hom terug op sy rug, maak sy bene oop. 
“Jou man is op pad,” sê die denkbeeldige suster, maar sy lieg, want sy man sit in Kaapstad, drink tee saam met Leila Reitz en 32
Joseph Goebbels. Die tee is Ceylon. Leila is die eerste vrou in die parlement. Goebbels is op datum met sy maandelikse lidmaatskapfooi by die plaaslike gym.
“Some of us feel that we’re going to have the greatest difficulty in upholding our white civilisation in this country, and this is a point upon which we must concentrate if we’re going to pull through,” sê Leila.
“Druk,” sê die denkbeeldige suster.
“Politics is the highest and most comprehensive art there is, and we who shape modern German policy feel ourselves to be artists,” sê Goebbels.
George se man wat nie teenwoordig by die kraam is nie vat ’n slukkie tee. Dis te sterk na sy smaak. 
“There is the problem of the Native population,”sê Leila, en dan trek ’n zoembeweging in haar teetuin haar aandag af. Dis ’n by by ’n blom. Sy hou die by vir ’n oomblikkie dop voordat sy voortgaan: “A white healthy life is of great value in this country.”
“The task of art and the artist is to form, to give shape, to remove the diseased and create freedom for the healthy,” beaam Goebbels.
“Ons gee jou geld,” sê Leila, “as jy hulle draadjies knip.”
George se man wat nie teenwoordig by die kraam is nie staar na die teeblare onderin sy koppie. Hy kan nie die toekoms daarin lees nie.
“Verskoon my,” sê Goebbels toe hy opstaan en koekkrummels met ’n slap gewrig van sy leerskoot afstof.
“Ek moet nog by die gym uitkom.”
George uiter ’n onuitsterfbare oerklank toe hy geboorte gee aan ’n artisjok. Dan lê hy rustig terug en steek ’n sigaret brand. Die bed lê nogal lekker. So dit moet hier wees waar my pa vergadering gehou het, dink George toe hy sy skoene uitskop.
“Meneer!” skreeu die suster. “Meneer kan nie hier rook nie.”
George spring regop, die suster spring ’n tree terug en steek die lug in sy rigting met ’n spuitnaald vol Depo-Provera. George vou die sigaret toe in sy vuis. Die suster verdedig haar persoonlike ruimte met die spuitnaald asof dit ’n piel is wat mens kan afskroef en rondswaai soos ’n wapen.
“Dis my ouma se hotel,” glimlag George.
Sy glimlag ontwapen haar. Sy sit die spuitnaald neer.
“Ek is hier gebore,” sê George.
“O,” sê sy.
“En my halfbroer is hier gemaak.”
“So?”
“Weet jy van ’n suster Lourens wat hier gewerk het? 1955 rond?”
“Ek was nog nie gebore nie.”
“Ek was vyf.”
“So?”
“Ek moes in die kar sit.”
“Ek’s jammer.”
“Ek sien jy’s ’n Smal,” sê George en druk met sy wysvinger die naamspeldjie op haar bors mis.
“Almal hier is Smals,” sê sy.
“Het julle rekords van daai tyd?”
“Nee.”
“Het julle foto’s?”
“Nee.”
“Lees jy?”
“Nee.”
“Dan het jy seker nog nie Sluipmoord gelees nie?”
“Nee.”
“Markus Lourens het die CNA-prys daarvoor gekry. Hy is my halfbroer.”
“O.”
“Wat weet jy van minerale?”
“Nie veel nie.”

Gedeeltelik Bewolk is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar of op NB-uitgewers.

comments powered by Disqus