Skip to the content

Uittreksel: Vervleg van Petro Hansen

Petro Hansen skryf sedert 2012 vir Die Burger rubrieke en was ook Beeld se Dinsdag-rubriekskrywer. In 2019 word sy deur die Cordis-trust vereer met die Orde van die Beiteltjie van die Afrikaanse Woordkunsakademie. Vervleg is ’n versameling van haar rubrieke wat die mense saam laat lag en huil het.

Afrikaans rol soos botter op my tong

Aandskemering. Rintinkel. Winternag. Hantam. Dit is woorde wat ek gebore is om te sê. Ek weet dit. My Engelsonderwyseres op hoërskool weet dit en my kinders wat lag as hul ma Engels oor die foon praat ook. Ek is een van daardie mense – sodra ek Engels praat, kan jy onmiddellik hoor ek is Afrikaans. Soos Bakkies Botha, wat in ’n onderhoud in Nieu-Seeland gesê het die haka “gives me chicken skin”.

Dalk het die blokkasie met die Engelsman se taal iets met Pa te doen. Dalk is ek onbewustelik van kleintyd af saam met hom kwaad vir daardie oorlog waarin Engelse troepe alles wat in hul pad gekom het, afgemaai het. Van kleintyd af as hy die Queen of Di en prins Charles op TV sien, sou hy sy koerant op die tafeltjie langs hom optel, diep sug en die koerant voor sy gesig druk om die beelde van die koninklikes in hul blou snyerspakkies en lang swart keile te versper. Dan sou hy verbitterd mompel: “Hulle het ons boeregesinne van hul plase af geboender en al die meubels in die plaashuise op ’n hoop gegooi om te verbrand. Hulle het ons boervroue en kinders in oorvol ossewaens geprop en aangery na konsentrasiekampe. 
Kampe wat na die eerste swart ryp in die winter soos slagvelde gelyk het.”

Later in sy se lewe het Pa darem vrede met die Queen gemaak, maar, heng, hy was nog altyd ekstra bly as die Bokke Engeland op die rugbyveld klop.

Die Engelse ding het ook gesorg dat my heel eerste rit met ’n outomatiese motor byna rampspoedig verloop het. Die ou, roomkleurige Mercedes Benz het aan ’n vriend behoort op wie ek baie verlief was, nogal ’n studenteraadsvoorsitter. Op ’n dag vra hy my om die outomatiese motor vir hom van die garage waar dit vir herstelwerk was, terug te bestuur kommune toe. Hy het ’n vriend se motor geleen en ek moes agter hom aanry. Ek het nogal so ewe vol vertroue vir hom gesê ek kan die motor bestuur. Ek’s ook nie links nie, sit die motor se rathefboom op R, en trap toe die petrol … maar toe ry die kar agteruit! Toe trap ek maar net die petrol dieper, maar vorentoe wil die motor nie … Hierdie tweede trap van die petrolpedaal was noodlottig. Ek het in die taxi agter my vasgery!

Die taxibestuurder en my vriend het albei ewe besimpeld geskrik aangehardloop gekom. Ek wys vervaard na die rathefboom. “Kyk,” sê ek vir hulle, “hier moet iets fout wees met die motor. Ek sit dit in R vir Ride, maar die motor wil nie vorentoe ry nie.”

Awendster. Pypkaneel. Kotiljons. Kalbas. Appelliefie. Ons mooie Afrikaanse taal rol soos botter op my tong. Ek weet dit. Die winkelassistent in Woolworths vir wie ek nou die dag vra om vir my twee heel gaar hoenders oor die toonbank aan te gee, weet dit ook. “Can you please give me two hot chicks?” vra ek.
“Hû?” sê sy.

Vervleg is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar of op Protea Boekwinkel.