Skip to the content

ATKV: groot fokus op gemeenskappe

Die ATKV, wat vanjaar sy 89ste bestaansjaar vier, se algemene jaarvergadering is vandeesweek by ATKV-Klein-Kariba gehou. Vanjaar se tema was Wat kan die ATKV en sy takke doen om ’n beter Suid-Afrika te bou?

Vir die ATKV is een van die maniere om dit te bewerkstellig deur middel van sy takke. Die voorsitter van die ATKV-MSW-direksie, Bridgitte Mathews, sê sy is baie trots op wat die organisasie die afgelope jaar bereik het danksy die belangrike rol wat die takke in gemeenskappe speel. “Die takke is ons hande, ons voete, ons hartklop,” sê Mathews.

Die ATKV se takke help die organisasie om aan Suid-Afrikaners erkenning te gee vir hulle harde werk. Ons het egter met heelwat uitdagings in ons land te make wat elke landsburger raak. Die ATKV se taklede laat hulle egter nie hierdeur onderkry nie en spring in om ’n verskil in mense se lewens te maak. “Elke takprojek, groot of klein, maak ’n verskil,” sê Mathews.

Die besturende direkteur van die ATKV-MSW, Sonél Brits, is dit eens oor die belangrike rol wat die ATKV se takke speel. “Takke is die kanaal waardeur die ATKV sy boodskap versprei en speel ’n noodsaaklike rol in die identifisering van behoeftes van gemeenskappe,” sê sy.

Met die organisasie wat volgende jaar sy 90ste bestaansjaar vier, is die ATKV slaggereed om deur middel van sy takke die land te help bou.

Brits sê die ATKV het die afgelope 89 jaar bewys dat hy aanpasbaar, veerkragtig en volhoubaar is, en sodoende ’n bewese bydrae kan lewer tot die uitbou van ’n suksesvolle Suid-Afrika. Sy het opnuut benadruk dat die ATKV die Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit ’n onmisbare deel wil maak van nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika. Elke vrywilliger wat by ’n tak iets ter wille van Afrikaans doen, lewer ’n bydrae om hierdie doelwit te bereik.

comments powered by Disqus