Skip to the content

By ATKV-AbbAsorg Pinocchio kry kinders vlerke

Kyra Fillies van Mosselbaai het van kleins af baie talent getoon. Sy het haar skoolwerk met ywer en geesdrif gedoen, maar tuis moes sy groot armoede en baie moeilike huislike omstandighede trotseer. Sedert die ATKV-AbbAsorgsentrum Pinocchio op Brandwacht betrokke geraak het, het Kyra se lewe ingrypend verander.

Sy presteer nie net goed in die klaskamer nie, maar ook op die sportveld. By die St. Lukes Primêre Skool in Brandwacht verower sy die een na die ander medalje op die atletiekbaan. “Ons weet en vertrou dat Kyra se vlerke haar nog ver gaan dra,” sê Rene Jansen, hoof van die sentrum.

Kyra is een van vele suksesverhale van dié sentrum, geleë in een van die armste dele van Mosselbaai. Dit fokus nie net op voorskoolse ontwikkelinge nie, maar bied boonop ’n veilige heenkome vir kinders van die gemeenskap. Volgens Rene is die dagprogram ontwikkel om kinders se ontwikkeling te stimuleer.  “Ons wil kinders uit agtergeblewe gesinne skoolgereed kry deur te voorsien in hulle emosionele behoeftes en deur elke kind ‘n gevoel van eiewaarde te gee.”

Daar word byvoorbeeld gefokus op vaardighede soos lees, terwyl die kinders ook geleer word van die belangrikheid van persoonlike higiëne en gesondheid. Poppekaskonserte en kreatiewe aktiwiteit soos musiek en dans sorg vir baie pret, en die kinders kry ook kos deur die loop van die dag.

Vir die span by Pinocchio is dit ook van kardinale belang dat kinderregte seëvier.

“Elke kind moet voel hy of sy het die reg om skool te gaan en te leer, en elke kind moet veilig voel. Hulle moet respek, aanvaarding, vertroue, aanraking, aanprysing en liefde ervaar.”