Skip to the content

Die ATKV onthou tannie Katriena

Die foto is geneem tydens tannie Katriena se 100ste verjaardagpartytjie. Hier is Tannie Katriena saam met Japie Gouws.

Tannie Katriena van Loggerenberg, van Huis Karee (die tehuis vir bejaardes op Middelburg) was nie net die oudste inwoner nie, maar ook die oudste langslewende lid van die ATKV in Suid-Afrika. 

Op Vrydag 31 Mei 2019 is die hartseer nuus ontvang dat tannie Katriena in die ouderdom van 102 jaar oorlede is. ’n Spesiale ruiker van die ATKV-tak Rhenosterberg tesame met van haar sertifikate wat sy deur die jare van die ATKV ontvang het, is in ’n uitstalling in die voorportaal van Huis Karee geplaas ter nagedagtenis aan haar betrokkenheid en getroue ondersteuning aan die ATKV.

Tannie Katriena (of Catharina soos op haar geboortesertifikaat)  is op 26 September 1916 in Krugersdorp gebore en het ook daar skoolgegaan. Haar man Gerhardus van Loggerenberg, bekend as Gert, was ’n ambagsman by Transnet.  As gesin was hulle sedert 1939 aktiewe ATKV-lede. Vir 73 jaar kon daar enige tyd op haar nommer gedruk word, veral om fondse in te samel vir die ATKV. Vakansies het hulle gereeld na die ATKV-oord by Hartenbos gegaan.

In haar leeftyd het sy heelwat plekke in Suid-Afrika besoek as lid van ’n toergroep of per trein of met bustoere gereis. Tot Oktober 2012 het sy haar eie huis en tuin behartig. Daarna het sy na Huis Karee verhuis waar sy baie gelukkig was en goeie versorging van die personeel ontvang het. Sy het verkies om self elke dag haar eie bed op te maak en haar kamer netjies te maak. Tot die einde het sy haar eie finansies hanteer en haar inkopies op Donderdae self gaan doen. 

Die ATKV groet haar met ’n swaar hart, maar sal haar betrokkenheid, geselsies en grappies altyd koester.

comments powered by Disqus