Skip to the content

Koffie, beskuit, heerlike kos en kuns by SPAR Kirkwood Wildsfees

Die ATKV-tak Kirkwood is oudergewoonte vanjaar weer betrokke by die SPAR Kirkwood Wildsfees, en vanjaar gaan die tak ’n snoesige tuiste vir feesgangers skep. Volgens Elda Kruger, streeksbestuurder vir ATKV-takke, sal daar heeldag koffie, tee, beskuit en ander heerlike tuisgebak en wildsvleisgeregte beskikbaar wees by die ATKV/Die Burger se Koek-op-die-Stoep kuierplek by die Hoërskool Kirkwood se ondersteunersklub. En dis nie sommer sulke koffie en beskuit nie! Die plaaslike koffiemeesters, Peacock koffie- en tee-verskaffers se boeretroos sal jou laat vra na meer, en wat beskuit betref, kan feesgangers kies en keur uit tradisionele karringmelk, karringmelk-en-anys, cranberry-en-witsjokolade, mosbolletjie- of gesondheidsbeskuit. Kom geniet ’n koppie ATKV-stasiekoffie, en koop sommer ’n pak om saam te neem huis toe. Heerlike koek sal ook te koop wees. “Ons gebruik altyd plaaslike bakkers en kokke om sodoende ook die gemeenskap direk te ondersteun,” sê Kruger. Sitrusvrugte soos lemoene, suurlemoene en nartjies en selfs sitrusbome sal ook te koop wees by die stalletjie.

Willie Rossouw, voorsitter van die ATKV-tak Kirkwood, sê die tak is met trots betrokke by die Wildsfees. “Dis ’n gemeenskapsfees, en by ons stalletjie gee ons die entrepreneurs van die gemeenskap kans om hul produkte te kom verkoop. Sodoende gee ons nie net ekstra blootstelling aan hulle en hul produkte nie, maar help ons hulle ook om ’n groter inkomste te genereer

Die tak, wat vanjaar 21 jaar oud is, is volgens Rossouw baie bedrywig in die dorp, en deur betrokke te wees by die fees, wil die ATKV-tak Kirkwood wys dat hulle onwrikbaar in Afrikaans en die taal se plek in die gemeenskap glo. “Dis vir ons ’n voorreg om direk by die gemeenskap betrokke te fees terwyl ons ook die Afrikaanse taal en kultuur en die kunste bevorder.” 

Soos altyd sorg die ATKV vir meer as net die innerlike. Daar sal eksemplare van die TG (Taalgenoot), Die Burger en ander tydskrifte wees om te lees terwyl jy ontspan. Die Burger se spinwiel bied ook aan feesgangers die geleentheid om lekker pryse los te slaan!

Die kunste vorm ’n belangrike deel van die ATKV se werk, en by hierdie geleentheid gaan dit ook behoorlik gevier word. ’n Uitstalling van die skilder Hilde-Alet Malan van Patensie sal te sien wees, en besoekers sal haar ook in aksie kan sien. Jakoos Scheepers van Patensie gaan sorg vir musiek. Scheepers sal fokus op musiek uit die pen van Suid-Afrikaanse digters. Hulde gaan ook gebring word aan die plaaslike digters Stef Delport en Dulcie Ehlers, wat self ook hul werk gaan kom voordra. Die bekende radio-persoonlikheid Jacques Arendt gaan met beide digters gesels op Saterdag 29 Junie. Hy gaan ook gesels met Ziggy Ekron, inhoudsredakteur van Die Burger Oos-Kaap, en Ernie Roworth, algemene bestuurder: Afrikaans Digitaal by Netwerk24.

Feesgangers kan boonop drie bekende kykNET-akteurs kom ontmoet by Koek-op-die-stoep. Clint Brink (Binnelanders se Dr. Steve), Gantane Kusch (Suidooster se Dr. Siya) en David Louw (Simonstertjie van Getroud met Rugby) kom maak Saterdag om 12h00 en weer Sondag om 13h00 ’n draai om met aanhangers te kom bladskud.

Die geestelike gaan ook gevoed word met ‘n lofprysingsdiens op Sondag 30 Junie. Dit vind plaas by Koek-op-die-stoep, en Ds. Jacques Grobler en Dr. Deon Els sal sorg vir pitkos vir die siel. Musikale begeleiding sal verskaf word deur die NG Kerk Kirkwood se orkes.  

Die ATKV-span is vol lof vir Die Burger. “Dis vir ons ’n ongelooflike pluspunt om elke jaar saam met hulle te kan werk. Ons dien dieselfde gemeenskappe en gehore, en dit is wonderlik om by SPAR Kirkwood Wildsfees die geleentheid te hê om in die hartjie van die fees ’n Afrikaanse kultuurtuiste te kan skep,” sê Kruger. Volgens haar is dit vir die ATKV ook ’n voorreg om die plaaslike Kirkwood-tak te ondersteun. “Die tak het beslis al ’n duidelike stempel afgedruk op die fees.”

*Nog nie ‘n lid van die ATKV nie? As jy by die fees as lid kom aansluit, staan jy kans om ‘n vakansie vir 6 ter waarde van R5000 te wen by enige van die ATKV-oorde landswyd. Sien jou by Koek-op-die-stoep!