Skip to the content

"Kulturele diplomasie kan die uitdagings van die samelewing oplos"

Ambassadeur van die Koninkryk van Nederland vir Suid-Afrika, Sy Eksellensie meneer Han Peters.

Hedendaagse uitdagings soos klimaatsverandering en die vlugtelingkrisis in Europa kan deur kuns en kultuur aangespreek word.

Só meen die Nederlandse ambassadeur vir Suid-Afrika, Sy Eksellensie mnr. Han Peters.  

Peters het gisteraand (5 Junie) ’n aandlesing oor kulturele diplomasie by die ATKV se hoofkantoor in Randburg gegee. Die geleentheid is bygewoon deur verteenwoordigers van verskeie Afrikaanse kultuurorganisasies en staatsdepartemente sowel as  akademici.

“Ons moenie mure bou nie, maar eerder ons gedagtes laat gaan en dialoog skep. Ons moet bereid wees om te luister. Maak nie saak hoe uitdagend en sensitief ’n onderwerp is nie, ons moet luister. ’n Dialoog gaan oor gee en neem.”

Die ATKV sien homself as ’n nie-staatlike rolspeler in kultuur op nasionale sowel as internasionale vlak, sê dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur van korporatiewe aangeleenthede van die ATKV.

Volgens Peters kan kuns en kultuur perspektiewe transformeer en mense herenig.

“Diplomasie handel oor meer as net politieke kwessies. Daar moet ook gesonde kulturele diplomasie wees om sosiale kohesie te verseker.”

Peters het kortliks verwys na wat die Nederlandse ambassade op kulturele diplomatieke front doen om sosiale kohesie tussen Suid-Afrika en Nederland te skep. Die ambassade ondersteun byvoorbeeld die Afrikaanse kunste, en het onder andere verlede jaar die KKNK se Uitkampteater en vroeër vanjaar die Kunstekaap-toneelstuk Krotoa: Eva van die Kaap geborg.  

“Die kunste bied ’n gesonde dialoog waarby ons almal kan luister en leer. Dit is soveel beter as om ons probleme met konflik te probeer oplos.”

Peters meen ’n jong demokrasie soos Suid-Afrika s’n moet geduldig wees.

“Daar is nog baie armoede en nog baie probleme en die grootste uitdaging is om sosiale enigheid te skep. Vyf-en-twintig jaar is ‘n baie kort tyd, maar die narratief van ’n land moet voortdurend aanpas en verander soos wat die samelewing verander.”

Peters het benadruk dat daar geluister moet word na verskillende perspektiewe. “Eers dan kan diversiteit seëvier en gerespekteer word.”

comments powered by Disqus