Skip to the content

Ontdek ’n nuwe fantasiewêreld saam met jou kinders

Die derde Kinderstorie-krôl by Innibos bied vanjaar weer ’n kreatiewe ruimte vir kinders om te speel, te lees en te leer in hul moedertaal. Kinders en ouers word uitgenooi om die storiedorp te kom ontdek by die ATKV-Boeke-oase by Hoërskool Nelspruit se Kultuursentrum. Kinders sal op 'n verbeeldingsreis geneem word waar hulle tussen vier storietente kan "krôl". Elke storietent is gebaseer op 'n kinderboek of -storie en skep 'n unieke fantasiewêreld waar kinders na voorleesstories kan luister. By elke tent word daar ook 'n verrassinkie uitgedeel vir die kinders se #MyTaal-goeterssakkies (“goody-bags”).

Die Kinderstorie-krôl word aangebied deur Marlene du Toit van Mosaïek Opvoedkundige Sentrum. “Ek wil ’n liefde vir lees by kinders kweek,” vertel Marlene. “Ek het by my kleuterskool en as ’n ouer gesien dat kinders se taalvaardighede begin agteruitgaan en dat dit deur lees verbeter kan word". Die doel van die storiedorp is om 'n liefde vir lees by kinders te kweek en om ouers te motiveer om saam met hul kinders in hul moedertaal te lees.

Die #MyTaal-inisiatief, wat deel is van die ATKV se moedertaalonderrigprojek, is vanjaar weer een van die borge van die Kinderstorie-krôl. Hierdie inisiatief is daarop gerig om die voordele en belangrikheid van moedertaalonderrig aan ouers te kommunikeer. Om te lees en te leer in jou moedertaal vanaf 'n vroeë ouderdom lei tot beter kognitiewe ontwikkeling, akademiese prestasie, kreatiwiteit en selfvertroue. Moedertaalonderrig strek egter verder as net opvoeding in jou moedertaal, en beteken nie net leer in jou taal nie, maar lééf in jou taal. Die ontwikkeling van hoëvlakdenke, sosiale interaksie, speel, redeneer, talente uitleef en kreatief wees – dit is alles deel van moedertaalonderrig. Daarom wil die ATKV betrokke te wees by produksies soos die Kinderstorie-krôl waar lees binne 'n kreatiewe ruimte te bevorder word. Kinders se verbeelding en kreatiwiteit word gestimuleer terwyl die fokus op boeke en stories bly.

Die Kinderstorie-krôl is gemik op die 2- tot 8-jariges en word van Woensdag 26 Junie tot Vrydag 28 Junie om 09:00 en 11:00 en op Saterdag 29 Junie om 09:00 aangebied. Mammas en pappas kan die kleingoed begelei (gratis) of ontspan by die koffiewinkel by die ATKV-Boeke-oase terwyl die kleuters meegevoer word na ’n wêreld vol stories.