Skip to the content

Uittreksel: Lira

Vywervrou is Chanette Paul se nuwe triologie wat in 2019 sal verskyn. Die eerste titel is Vywervrou: Lira. Lira kan feitlik enige gebreekte ding mooi of bruikbaar maak maar met liefdesverhoudings vaar sy minder goed. Veral waar daar kinders betrokke is. 

Vooraf
Saterdag 2 Desember, Benoni
Lira

Natgesweet, stowwerig en moerig. Dis hoe Lira voel toe die vrou en die twee meisiekinders laggend die oudhedewinkel binnegestap kom, inkopiesakke in die hand.

Natgesweet omdat dit bloedig warm buite is en sy so pas die soveelste boks uit Frank se paneelwa moes indra terwyl hy inventarisse opstel in sy lugverkoelde kantoor.

Stowwerig omdat sy elke boks se spinnerakbedekte oudhede moet uitpak, afspoel, afdroog en sorteer sodat Frank dit kan uitstal.

Moerig omdat sy al weer ingestem het om skivvy vir Frank te speel. Die voorraad moet dringend op die rak kom, het hy gesê. En sy dogter wat veronderstel is om gedurende die vakansie vir ekstra sakgeld hier te werk wou eerder saam met haar vriendin gaan fliek as haar pa help.

Debbie sal dit so waardeer, het Frank geflikflooi. Asof hy nie weet Debbie vee haar af aan enigiets wat Lira vir haar doen nie. En al weet hy sy het gister ’n bestelling vir tien kershouers gekry en brand om eerder daaraan te werk. Maar hy het darem ook aangebied om haar môre op ’n snuffelekspedisie te neem.

Debbie se lag verstil toe sy Lira sien. Die beneukte trek waarmee Frank se dogter haar altyd aankyk, terug in haar oë.

“Waar is my pa?”

“In sy kantoor.” Sy sal seker ’n poging moet aanwend. “Het julle die fliek geniet?”

“Dit was simpel, toe vat tannie Janina ons eerder om te gaan lunch en shop.”

Lira verskuif haar blik na die vrou wat “tannie Janina” moet wees. Sy is opsigtelik die ander meisiekind se ma. Modieus aangetrek, perfek gegrimeer, die hare gehoorsaam aan die byderwetse styl waarin dit geknip is.

In haar sonrok, teen dié tyd vuil en verkreukel, en met natgeswete hare sommer slordig met ’n potlood op haar kop geprakseer, voel Lira soos ’n verlepte magrietjie langs ’n vars angelier.

Die naels van die hand wat na haar toe uitgesteek word, is natuurlik so perfek soos die res. Franse manikuur. “Hallo, ek is Janina. Ek neem aan jy is Debbie se pa se assistent?”

Nee, sy is Debbie se pa se handige metgesel na funksies. Wanneer sy dogter nie wil gaan nie. En sy skivvy. Wanneer sy dogter beter dinge het om te doen. En sy lover. Wanneer hy sy dogter kan ontduik. Vir sewe jaar al.

Janina wag nie vir ’n antwoord nie. “Sal jy vir hom sê ek het nie gemaklik gevoel om die meisies alleen in die sentrum te los nie en toe maar my eie inkopies ook daar gaan doen? Toe die film hulle nie aanstaan nie, het hulle my gebel en het ek die vrymoedigheid geneem om die tweetjies bietjie te bederf. Ek hoop nie hy gee om nie.”

“Nee, genade, hoekom sal ek omgee?” Frank kom glimlaggend aangestap. “Hallo. Frank Dormehl. Jy moet Simone se ma wees.”

“Dis reg. Janina Kaufman. Aangenaam.”

Lira kan amper die ratverwisseling hoor toe Janina opkyk in Frank se oë. Haar lyftaal verander egter so subtiel dat net ’n ander vrou dit sal raaksien.

“Lieflike winkel wat jy het, Frank. Ek is juis so lief vir oudhede. My oorlede man was ook.”

Oorlede man. Noteer, asseblief, ek is beskikbaar, dekodeer Lira die kriptografie van vroulike lis.

“Hy het kosbare stukke van sy Duitse grootouers geërf. Onder meer ’n kruik waarop die syfer 1680 in reliëf aangedui is. Ons was nooit seker of dit dalk die vervaardigingsdatum is nie.”

“Sjoe, dit klink interessant. Ek sal dit baie graag wil sien.” Frank kan nie breër glimlag sonder om sy mondhoeke skade te berokken nie.

“Jy is enige tyd welkom.”

En nie net om die kruik in haar huis te besigtig nie. Janina Kaufman soek ongetwyfeld ’n man.

“Miskien sommer môre al?” stel Frank voor.

Lira kyk hom ongelowig aan, maar hy het net oë vir Janina.

“Dit sal my uitstekend pas. Ná kerk? Jy en Debbie kan dan sommer by ons kom eet ook. Ek is nog outyds in daardie opsig. Maak nog Sondagmiddagete, al is dit net die twee van ons. Dit sal lekker wees om geselskap te hê. Die meisies kan swem en ek het ’n groot versameling DVD’s waarna hulle kan kyk.”

Die saak is beklink sonder dat Frank een keer na Lira kyk. Dis asof sy ineens onsigbaar geword het.

“Pa, kan ek vanaand by Simone oorslaap? Tannie Janina het gesê dis reg as Pa ja sê.”

Frank kyk vraend na Janina.

“Dit sal ’n plesier wees om Debbie daar te hê.”

“As jy seker is?”

“Ek is. Ek kan Debbie sommer nou na julle huis toe neem om ’n oornagtassie te pak. Hoe klink pizzas vir aandete, meisies?”

Dit voel vir Lira asof sy na ’n fliek kyk terwyl hulle selfoonnommers en adresse uitruil. ’n Fliek met ’n titel soos The perfect match.


Sondag 10 Desember
Kempton Park
Lira

Die tien kershouers staan verpak, reg om versend te word, toe sy Frank se motor op die kop agtuur by die inrit hoor opry.

Sy het Frank nog nie weer gesien nadat sy ’n week gelede met net ’n verwytende kyk in sy rigting by die winkel uitgestap het ná Janina en “die meisies” daar uit is nie. Sy oproepe het sy nie beantwoord nie. Ook nie sy SMS’e nie. Nie die een waarin hy sê hy wou net graag die kruik sien nie. Ook nie die een waarin hy sê sy is kinderagtig nie. En die res het sy nie gelees nie. Sy het wel na die stemboodskap geluister waarin hy gesê het hy kom haar vanoggend om agtuur sien om die saak uit te praat. Sy het haar nie verwerdig om te laat weet hy kan later kom aangesien sy ’n dringende bestelling moet afhandel en nie vandag by die kunsmark uitstal nie.

Lira vee haar hande aan haar denimkortbroek af, trek die potlood waarmee sy haar hare op haar kop vasgebondel het uit en hark met haar vingers deur die lang stringe voor sy voordeur toe stap. Dis reeds vrek warm en sy werk al van sesuur af. Die bestelling is vir windklingels, gemaak van herwonne bottels met ou teelepels as klepels en sy wil die bottels se bodems afgesny kry voor die ergste hitte toesak. Dis warm werk.

Frank lyk skoon vreemd. Die broek is deel van ’n kerkpak, die langmouhemp skitterwit en hy het ’n das aan. Hy het intussen ’n draai by die haarkapper gemaak en sy kerkskoene blink.

“Hallo, Lira.” Hy soen haar op haar wang.

Woordeloos stap sy deur na die agterstoep waar sy aan die werk was. Dis te benoud binne. En nie net vanweë die hitte nie.

Sy vou haar arms toe sy na hom draai. “Van wanneer af het jy skielik ’n kerkganger geword?”

Hy druk sy hande in sy broeksakke. “Wat gaan aan, Lira? Ek ken jou nie so nie.”

“Nie hoe nie?”

“Dikbek. Onredelik. Jaloers.”

“Wel, miskien sou jy ook dikbek, onredelik en jaloers geraak het as ek voor jou staan en dates maak met ’n wewenaar wat na my kyk asof ek ’n klein godjie is en so duidelik soos daglig vrou soek. As jy ook op die plek gedemoveer is na ’n onsigbare assistent.”

“Jy oordryf. Ek was bloot dankbaar dat Janina na Debbie omgesien het en het belang gestel in die kruik. En dit is toe ’n ongelooflike vonds. Dis derduisende rande werd, maar Janina wil dit om sentimentele redes nie verkoop nie.”

“En het jy en Janina en ‘die meisies’ toe lekker aan haar outydse Sondagmiddagete gesmul terwyl ek en jy veronderstel was om vir die dag Cullinan toe te gaan?”

“Ons het mos nog nie vas besluit om soontoe te gaan nie? En Debbie was in elk geval nie lus daarvoor nie.”

“O. Soos ek onthou, het jy gesê as ek bereid is om in te staan vir Debbie, jou nuwe aankope uit te pak en skoon te kry, neem jy my Cullinan toe as vergoeding – met of sonder Debbie. Ons kan middagete daar eet en jy weet dis vir my lekker om daar rond te snuffel.”

“Ek is jammer as dit is hoe jy dit verstaan het.” Hy steek sy arms na haar uit en trek haar teen hom vas. “Moenie met my baklei nie, Lira. Ek sal opmaak daarvoor. Jy lyk heeltemal te sexy om soos ’n viswyf te kere te gaan.” Sy mond soek haar nek op, beweeg oor haar wang op soek na haar lippe. Eers toe hy besef sy bly stram staan en hou haar mond ferm toe, al doen hy wat, laat hy haar gaan.

“Lira, ek het gesê ek is jammer.” Sy pupille is effens vergroot.

“Nee, jy het gesê jy is jammer as ek jou verkeerd verstaan het. Ek het nie. Anders sou ek nie ter wille van jou ’n Sondag by die kunsmark opgeoffer het nie. Al waarin jy op die oomblik belang stel, is seks. En dit terwyl jy op pad is kerk toe. En daarna waarskynlik na Janina toe waar Debbie seker weer oorgeslaap het en ’n Sondagmaal op jou wag.”

“Ons het niks afgespreek nie. Ek gaan net kerk toe om Debbie te gaan haal, want ja, sy het weer daar oorgeslaap. En ek wou hê dat ek en jy gisteraand saam deurbring aangesien Debbie nie tuis was nie, maar jy het ewe kinderagtig geweier om op my SMS of oproepe te reageer.”

“Kinderagtig se gat, Frank. Ek wou nie met jou praat nie, want ek moes dinge in my kop vir myself uitwerk. Buitendien, jy weet waar ek bly. As jy my regtig gisteraand of enige tyd gedurende die week wou sien, kon jy hierheen gekom het.”

“Ek verstaan nie waarom jy so melodramaties raak nie, Lira. Net oor ’n afspraak om Cullinan toe te gaan wat ek nie nagekom het nie? As dit nie kinderagtig is nie, weet ek nie wat is nie.”

“En is dit ook kinderagtig om te verwag dat daar ná ’n verhouding van sewe jaar iets meer sal wees as skelm seks wanneer jou dogter nie tuis is nie of die afgelope twee jaar ná Oumie se dood in gesteelde tye hier by my huis? Verwag dat ek as meer beskou sal word as ’n handige versiering aan jou sy wanneer jy een nodig het? Is dit kinderagtig om te verwag dat jy ten minste een of ander tyd gaan begin praat oor trou? Ek is amper vyf en dertig, Frank. Het jy al ooit daaraan gedink dat ek dalk ook ’n kind van my eie wil hê? Binne die eg?”

Hy druk weer sy hande in sy sakke. “Hoe kan ek met jou trou as jy nie met my dogter oor die weg kom nie, Lira? Hoe kan ek nog ’n kind in die wêreld bring saam met ’n vrou wat nie die vaagste benul het hoe om ’n ma te wees nie? Wat meer belang stel in die junk wat sy maak as om saam met my dogter te gaan fliek, of inkopies doen, of haar ’n bietjie te bederf.”

“Soos die liewe moederlike Janina gedoen het. My ‘junk’ is my inkomste. En ek moet sewe dae ’n week, twaalf of meer ure per dag, werk om genoeg ‘junk’ te maak en te verkoop om te kan oorleef. En dan is dit ’n sonde in jou oë dat ek, wanneer ek wel nou en dan ’n dag asemskep, dit eerder saam met jou wil deurbring – met of sonder Debbie – as alleen saam met ’n meisiekind wat besluit het ek is nie goed genoeg vir haar pa nie. Wat vir my in die oë gekyk en gesê het sy is skaam om saam met my en haar pa gesien te word. Want enigeen kan sommer sien haar pa stel net in my belang oor die seks. Dat ek niks meer as ’n onbetaalde prostituut is nie.”

Frank kyk haar stom aan. Hy lyk egter nie verras nie.

Het dit waarskynlik ook al uit sy dogter se mond gehoor.

“Kyk, Frank, ek het in die begin probeer om Debbie se guns te wen. Sy was sewe jaar oud, maar toe al kliphardegat. Jy het haar bederf ná haar ma se dood en sy wou jou nie met my deel nie. Ek het dit verstaan. Dit is verskriklik om ’n mens se ma so vroeg te verloor. En ek verstaan ook dat jy wou vergoed daarvoor. Maar wat ek nie verstaan nie, is dat jy altyd Debbie se kant kies wanneer daar ’n probleem is. Dat jy Debbie nooit aanspreek oor haar onbeskoftheid teenoor my nie.”

Sy keer hom met haar hand in die lug toe hy wil protesteer.

“Laat ek klaar praat. Ek is dalk nie die moederlike tipe nie, maar die feit dat jy my nie respekteer vir wie ek is nie, dat jy my behandel asof ek net ’n relatief oulike troeteldier met teleurstellende streke is – dis nou behalwe wanneer jou koerasie inskop – het beslis nie die saak verbeter nie.

“Hoekom sal Debbie vir my respek hê as jy nie het nie? Jy en Debbie is net so skuldig soos ek daaraan dat ek en Debbie nie klaarkom nie. En nou is sy veertien. Oud genoeg om te kan verstaan as jy jou sou verwerdig om standpunt in te neem. As jy vir haar sê sy kan nie só met my praat nie. Dat ek nié jou onbetaalde prostituut is nie. Vir haar te sê sy moet my ’n kans gee, al sal ek nooit haar ma kan of wil vervang nie. Dat jy vir my lief is en verwag dat sy jou, en ook vir my, geluk gun.”

Lira skep vlugtig asem. “En dis oor al hierdie dinge dat ek die afgelope week wou nadink en daarom het ek nie jou oproepe beantwoord of op jou SMS’e reageer nie. Om regverdig te wees gaan ek jou nou ook ’n week kans gee om oor alles na te dink. Sonder kommunikasie. Jy kan vir my volgende Sondag kom sê wat jy besluit het.”

 “Is dit ’n ultimatum, Lira?” Sy kaak is stram.

“Dit is.”

“Met ander woorde ek moet tussen jou en my dogter kies.”

“Nee. Jy moet kies of jy my wil hê of nie. En as jy my wil hê, sal jy die moed moet hê om jou dogter te konfronteer met die nuus dat ons gaan trou en dat jy van haar verwag om my ’n billike kans te gee as jou vrou. Ek is bereid om te vergewe wat sy my alles toegesnou het en ’n middeweg te probeer vind, maar alles kan nie net van my kant af kom nie. Ons sal al drie daaraan moet werk. Ek is bereid daartoe, julle moet besluit of julle is. Maar só kan ek nie aangaan nie.”

“Jy kan my nie net ’n week gee om so ’n groot besluit te neem nie, Lira.”

“Met alle respek, Frank, jy het sewe jaar gehad om te besluit. ’n Week behoort genoeg te wees om finaal bestek op te neem. Gaan nou. Ek sien jou volgende Sondag agtuur.” Sy draai weg, stap na die pakkamer agter in die erf en kies deur ’n waas van trane ses bottels uit die verskeidenheid kiste.

Toe sy terugkom op die stoep, hoor sy Frank se motor wegtrek.

Sondag 17 Desember
Kempton Park
Lira

Haar hare is gewas, sy het vir ’n verandering grimering aan en ’n sonrok pleks van haar gewone denimkortbroeke. Selfs sandale met ’n hakkie pleks van plakkies.

Agtuur kom en gaan, geen Frank nie.

Vyf oor nege kom ’n SMS deur. Jammer.

Net dit. Per SMS. Ná sewe jaar.

Dis byna tienuur toe sy uit haar katatoniese beswyming kom.

Lira staan stokkerig op en gaan haal haar skootrekenaar. Google eiendomsagente in die omgewing en kies ’n vrou wie se gesig haar aanstaan. Bel. Maak ’n afspraak vir Maandagmiddag.

Daarna dwaal sy deur die huis. Roep herinneringe op. Eindig op die voorstoep. Onthou die dag toe sy hier afgelaai is duidelik, al was sy net vyf. Van daardie dag af was Oumie haar wêreld. Haar skans teen die lewe. Alles wat sy nodig gehad het.

Tot Frank in haar lewe gekom het. Hy was haar enigste troos toe Oumie dood is.

En nou is albei weg. Een dood, die ander verlore.

Tyd dat sy verantwoordelikheid vir haar eie lewe neem.


Een

Donderdag 15 Maart
Vywerbaai
Lira

Het sy haar hand te vinnig opgesteek? Lyk sy oorgretig?

Dis die eerste keer dat sy self by ’n veiling bie, en sy probeer ’n huis koop. Was sy betotteld of wat? Kon sy nie begin het met wyn of iets en ten minste eers ’n oefenlopie geneem het nie?

Die bieërs het stil geword ná Lira se laaste bod. Die seemeeue nie. Hulle baljaar waar die skuite so ’n rukkie terug ingekom het. Nie dat sy Vywerbaai se hawe kan sien nie, dié is aan die ander kant van die hawemuur ’n hele ent na links. Maar sy ken teen dié tyd die geluide van vissers wat hulle vangs aflaai. Asof die soutlug ’n ekstra goeie geleier is, dra die klank ver ondanks die sagte gedruis van branders hier voor haar. Veral wanneer die wind hierdie kant toe waai.

Die afgelope week het sy feitlik elke dag ure lank om en om die onbewoonde huis gestap. Gewik en geweeg, somme gemaak en haar verbeelding vrye teuels gegee. Gewonder of die hawerestaurant ’n ent links van die eiendom, ’n voor- of ’n nadeel is. Of die cul-de-sac dalk ’n probleem is, en ’n duisend ander dinge.

Alles voel nog ’n bietjie onwerklik. Oumie se huis wat vinnig verkoop het aan nog ’n pottebakker, wat baie in sy skik was met die kiln en ander toerusting wat hy kon oorkoop. Die uitsorteer en verkoop en weggee van haar en Oumie se besittings. Die dag toe sy haar bakkie en haar sleepwa gepak en die lang pad Kaap toe gevat het om vir haar ’n kusdorp te kom soek waar sy van nuuts af kan begin.

Sy het eerste by Rooiels ingedraai, maar dit was in Maanschijnbaai met al sy kuns- en snuisterywinkels waar sy gedink het sy het haar dorp gekry. Sy was oorstelp toe sy afgekom het op Casarma, die fabelagtige restaurant in Gaudi-styl met ’n asembenemende tuin waaruit die vars bestanddele kom vir die blomdisse waarin die eienaar-kok spesialiseer.

Die storie van die Calitze wat ’n kasarm geërf en toe omskep het in hierdie wonderwerk, het haar so aangegryp dat sy ’n paar dae op die dorpie gebly het. Sy het ook ’n paar keer by die kristalwinkel, die Hiërofant, ingeloer en vir haar kristalle uitgesoek vir die goed wat sy beplan om te maak.

Voor Maanschijnbaai het sy gehoop om ’n kusdorp te kry waar sy ’n winkeltjie en ’n woonplek kan huur, maar by Casarma is die droom gebore om ’n ou huis te koop en te omskep in ’n woon- en werkplek, met haar eie upcycle-winkel op dieselfde perseel.

Ongelukkig is eiendom in Maanschijnbaai onbekostigbaar. En toe sien sy die advertensie in Die Burger vir die veiling op Vywerbaai, minder as drie ure se ry verderaan.

Agt dae gelede het sy hier aangekom, en dadelik haar hart verloor. Die dorpie is klein, maar tussen Vywerbaai en die nabygeleë Vogelbaai kan mens feitlik alles kry wat nodig is. ’n Vakansiegevoel word aangewakker deur ’n surf shop en winkel met hengelgerei. Die restaurantjies is klein, dikwels rustiek en daar is ’n paar pubs.

Vakansiehuise staan gedurende die week toe, maar oor naweke kry die dorpie lewe. Veral die hawerestaurant kry baie aftrek, ook van toeriste wat die suidelikste punt van Afrika, ’n ent verder kuslangs, wil besoek. Verder is die omgewing nog relatief ongerep. Berge aan die een kant, see aan die ander.

Elke liewe ding het haar sommer uit die staanspoor aangestaan. En toe sy die uitsig van die huis af sien, was sy heeltemal verlore.

Die erf lê hoog genoeg om oorkant die straat, bo-oor ’n stuk duineplantegroei, ’n stukkie sand en rotse wat met hulle tone die see in krul, te kan sien. Ook die branders wat daarteen opspat, en daaragter die oneindige bloutes. En na regs, met laagwater, is die visvywers sigbaar wat klaarblyklik nog deur die Khoi-Khoi gebou is. Sommige bronne op die internet sê duisende jare gelede, maar dit klink ’n bietjie na oordrywing.

Vanaf die boonste verdieping is die uitsig panoramies. Net jammer van die huis self. Op foto’s van die Calitze se kasarm voor hulle dit verbou het, kon sy sien die plek met sy twee torings het selfs toe al karakter gehad. Hierdie huis het niks van die aard nie. Dis bloot vrek lelik.

Toe sy terugkyk, praat die afslaer nog sag met die man wat langs hom staan. Dié lyk baie amptelik en skud sy kop.

Twee van die vyf bieërs het al geloop. ’n Ouerige man wat ’n besonder lae openingsbod gemaak het, praat onderlangs met sy vrou. Die fris man wat hier aangekom het in ’n trokkie waarop ’n boukontrakteursfirma geadverteer word, vryf sy ken. As hy vanoggend geskeer het, was dit ’n halfhartige poging. Donker stoppels stippel sy sterk kaak. Die amper swart hare het lank laas ’n haarkapper gesien, en is deurmekaar gewaai. Sy oë is onverwags blou teen sy sonbruin vel.

Lira kyk om na die huis. Wil sy ooit regtig hierdie onaansienlike plek hê?

Oor die vyftig jaar oud. Stewig genoeg, maar verbeelding moes vir die eienaars ’n vreemde konsep gewees het. Tuinmaak ook.

Die vader weet hoe sy dit gaan regkry, laat staan bekostig, om hierdie lelike blok van ’n plek in iets aanlokliks te omskep. Iets wat mense sal nooi om in te loer. Die ligging en besigheidsregte is al wat die eiendom aantreklik maak. Dit en die systoep met ’n prieel oortrek van kanferfoelie links. Dit moet heerlik ruik wanneer dit blom, maar die lente lê nog twee seisoene ver.

Die binnekant van die huis is nog ’n groter ramp.

Toe die huis gebou is, moes daar ’n uitverkoping gewees het van die liggroen en hawermoutkleurige teëls met ’n patroon wat mens se oë deurmekaar maak. Die kombuismure is gedeeltelik daarmee geteël en albei die badkamers op die boonste verdieping, van bo tot onder. Daar voltooi ’n siekgroen bad, toilet en wasbak die prentjie. Die grillerigste is egter die gastetoilet onder. Die mure is bedek met dieselfde soort teëls, maar in lila. Natuurlik met ’n pers toilet en wasbak om daarmee saam te gaan. Dis genoeg om ’n mens ylhoofdig te maak.

“Raait.” Die afslaer het weer na hulle toe gedraai en kyk na haar. Hy het ’n goedige gesig, maar sy kan sommer sien hy het nie goeie nuus nie. “Die bank kan ongelukkig nie die bod aanvaar nie, juffrou Benade. Is daar enigeen wat ’n hoër bod wil insit?”

Die boukontrakteur vryf harder aan sy ken. Die ouerige man trek sy skouers op en skud sy kop met ’n sug. Sy vrou lyk teleurgesteld.

Die boukontrakteur lig sy hand en wys drie vingers.

“Drie of dertig duisend?” vra die afslaer.

Die fris man grinnik asof die man ’n grap gemaak het. “Drie.”

Ag, dêmmit. Lira wens amper hy het gesê dertig, dan was sy die gewroeg gespaar. Sy kan hoogstens nog tien duisend bylas. Daar kom nog hereregte en allerhande ander kostes ook by. Presies wat en hoeveel, weet sy nie. Sy het nog nooit ’n huis gekoop nie.

Die afslaer kyk vraend na haar.

Huiwerig steek sy twee vingers in die lug.

“Ek het twee duisend van juffrou Benade.”

Die boukontrakteur gee haar ’n kyk.

“Is dit die finale bod? Meneer Naudé?”

Die bouer se wysvinger gaan lug toe.

“Een duisend?”

Boeta Naudé knik.

Lira onderdruk haar frustrasie. Hulle kan die hele bleddie dag hier staan en een duisend rand op ’n slag byvoeg. “Drie duisend.”

Die bouer kyk haar op en af, swaai om en stap na sy trok toe.

Die afslaer kyk na die man van die bank. Dié knik, maar lyk maar bra ongelukkig. Die bedrag dek seker net-net die huislening.

“Ek het juffrou Benade se bod vir agt honderd drie en dertig duisend rand. Vir die eerste maal, vir die tweede maal . . .” Hy kyk rond, maar die bouer is al by sy trok en die ouer egpaar is aan die wegstap. “Vir die derde maal. Die bod word toegeslaan op juffrou L. Benade.” Hy glimlag strammerig. “Juffrou Benade, jy sal die trotse eienaar van Vywerstraat 5 wees sodra die administratiewe deel afgehandel is. Baie geluk. Dis ’n ware winskoop. Eintlik diefstal.”

Lira voel effens verdwaas toe sy die man se hand skud. Die plek is waaragtig hare. Winskoop is relatief. Dit sluk omtrent elke sent op haar naam in, maar êrens was daar tog ’n engel betrokke, want vir hierdie prys sal sy nooit ’n huis van dié grootte kon gekoop het nie, laat staan een met ’n uitsig en besigheidsregte.

Is daar dalk êrens ’n vangplek? Is dit waarom die openingsbod besonder laag was en die boukontrakteur nie verder belang gestel het nie? Dit moet tog sekerlik ’n ware winskoop in sy bedryf wees?

“Juffrou Benade, as jy wil, kan jy sommer nou agter my aanry Bredasdorp toe om die dokumentasie af te handel. My seun hanteer die boedel.”

Haar hart sit in haar keel toe sy knik. Sê nou sy maak die grootste fout van haar lewe? Sê nou sy kan dalk tog nie haar winkel hier oopmaak nie? Sê nou sy doen dit en niemand kom hierheen nie omdat sy nie in die sakedeel is nie? Sê nou . . .

Ja, sê nou die hemel val op die aarde, dan dra ons almal blou mussies. Dis wat Oumie sou gesê het.

Sandton
Fynn

“Jy verloor die bod oor drie duisend rand?” Fynn skud sy kop ongelowig, al kan die man dit sekerlik nie doer op Vywerbaai sien nie.

“Maar meneer Murray, dit was klaar oor die limiet wat jy my gegee het en ek kon nie bel nie, want daar was nie op daardie oomblik ’n selsein nie. Dit kom en gaan mos party keer hier op Vywerbaai.”

“Ek het gesê min of meer. Selfs nog dertig duisend rand ekstra sou nie die bank gebreek het nie.” Hy kyk grimmig na die mense wat by die mediese sentrum in- en uitbeweeg sonder dat enigiets werklik registreer.

“Dan het ek verkeerd verstaan, maar jy wil in elk geval nie die plek hê nie. Glo my. Die badkamers is ’n boggerop, om van die kombuis nie te praat nie. Die dak is in sy moer in. Daar is ook baie stories oor daardie huis. En dis in die bek van die suidooster.”

Fynn kners op sy tande. “Ek wou die plek in elk geval laat sloop het.” Liewe vader, verstaan die man dan nie dat ’n erf met so ’n seeuitsig veel meer werd is as die verdomde huis wat daarop staan nie?

“Om so ’n stewige huis te sloop is vermorsing. Dit kan mooi gemaak word as mens bereid is om geld te bestee.”

Fynn beteuel sy humeur net met moeite, al wil hy vir die man skree dis sy geld waarmee hy kan maak wat hy wil en – as dit sy huis sou geword het – om dit te sloop of nie. Dat dit net mooi niks met hom uit te waai het nie. Hy was net veronderstel om namens hom op die donnerse plek te bie tot min of meer . . . Fynn frons. “Wat het jy gesê is die eindbedrag waarvoor dit gegaan het?”

“Agt honderd drie en dertig duisend rand.”

“Jy bedoel seker een miljoen agt honderd . . .”

“Nee, hel, dis Vywerbaai. Hier sou daardie huis nooit soveel haal nie. En jy het dan gesê so min of meer twee honderd duisend duskant ’n miljoen.”

Fynn voel asof hy kan ontplof. “My liewe fok! Is jy waansinnig? Ek het gesê so twee honderd duisend duskant twéé miljoen, nie duskant een miljoen nie!”

“Dan het ek dit seker ook verkeerd verstaan. Sorrie, maar ek moet gaan, my mense wag vir my op die site.” Naudé mompel iets agterna wat besonder baie klink soos “donnerse ryk Transvalers”.

Fynn druk die foon ergerlik in sy broeksak. Hy kan dit verdomp nie glo nie. Daardie eiendom het waaragtig vir ’n miljoen rand minder verkoop as wat hy bereid was om te betaal omdat ’n idioot net nie die bliksemse moeite gedoen het om behoorlik te luister of die bedrag te bevestig nie. En dan moet die vent nog betaal word vir die tyd wat hy opgeoffer het ook.

Maar dis seker sy eie skuld. Hy het die advertensie vir die veiling eers twee dae gelede gesien en hy kon nie vir Fiona en Celeste op so kort kennisgewing alleen hier bo los en afvlieg nie. Boeta Naudé was die enigste persoon aan wie hy in die vinnigheid kon dink wat namens hom kon bie.

Sy selfoon begin weer geluidloos vibreer. Fiona. Die bloed in sy are vries. Gewoonlik pla dit haar nie om te wag wanneer hy ’n oproep buite neem en nie daar is wanneer haar afspraak verby is nie. Sy gesels met die mense in die wagkamer, praat hulle moed in.

Asseblief. Asseblief, laat dit tog net goeie nuus wees. Dis ’n gebed of ’n pleidooi, of wat mens dit ook al noem, wat hy die afgelope twee jaar al soveel keer herhaal het dat dit ’n mantra geword het.

Hy druk sy foon teen sy oor terwyl hy die trappe na die hospitaalingang twee-twee ophardloop.

“Ek is op pad, Fionie.” Hy skuur verby mense in die gange sonder om sy spoed te verminder. Hy moes Naudé se oproep geïgnoreer het. Bly wag het in die wagkamer.

“Fynn . . .” Haar stem is yl.

“Ek is nou daar.” Hy hoef nie meer aanwysings te volg nie, hy kan sy weg in die gange van die onkologiese afdeling van die sentrum al in sy slaap vind.

“Fynn, dis terug.”

 Vywervrou: Lira is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar of op LAPA Uitgewers.

comments powered by Disqus