Skip to the content

VVA-Leeskonferensie fokus op kinders se leeservaring

“Elke kind wil lees!”

Dit was die tema van vanjaar se Vriende Van Afrikaans (VVA) se Leeskonferensie in Eersterivier wat op 11 Mei 2019 plaasgevind het. Chareldine van der Merwe, projekbestuurder by die VVA, sê sy het op hierdie tema besluit omdat sy ervaar dat alle kinders graag wil lees.

Vanjaar se konferensie, wat aangebied is by die Eersterivier Sekondêre Skool, is bygewoon deur 45 onderwysers en ouers. Mandie Ehlers, hulporganiseerder: taal by die ATKV, was die programleier.

Die VVA poog om ʼn liefde vir lees onder kleuters te kweek en kinders so vroeg as moontlik aan boeke bloot te stel juis om ʼn liefde vir lees en boeke te bevorder. ‘n Liefde vir lees begin egter by ouers en onderwysers wat vir kinders lees, en daarom is dit belangrik om volwassenes toe te rus met die nodige kennis oor die onderwerp.  

Daar is besluit om vanjaar se VVA-Leeskonferensie in Elsiesrivier aan te bied na gesprekke met Lukas Hanekom en David Jantjies. Hulle het gevoel dat die mense van Eersterivier nie altyd toegang het tot die kennis en hulpbronne wat hul nodig het om hul werk te vergemaklik nie.

Christien Neser, ‘n gewilde jeugverhaalskrywer, spraakterapeut en leeskundige, was die gasspreker by vanjaar se leeskonferensie. Neser het in haar gesprek oor die inklusiewe klaskamer raad gegee vir onderwysers wat ʼn kind in die klas het met outisme, ouditiewe versteurings en ander leeruitdagings. Haar gesprek het daarop gefokus om onderwysers te help om al hul leerders tot sy of haar reg te laat kom.  

Nog sprekers en vennote was onder andere LAPA Uitgewers, Afrikaans.com, die AON en die SAOOT. Marita Nel van LAPA Uitgewers het met konferensiegangers gesels oor LAPA se fantastiese kinder- en jeugboeke. René Arendse van Afrikaans.com het oor dié inisiatief se projekte en die belangrikheid van moedertaalonderrig gesels.

Maar wanneer behoort ‘n mens vir ‘n kind te begin voorlees, en hoe weet jy of ‘n kind gereed is om self te begin lees? Wilna van Rooyen, vroeë kinderontwikkelingspesialis van AON, het hierdie en ander vrae beantwoord in haar interessante aanbieding oor die belangrike mylpale wat babas en kleuters moet bereik om lees moontlik te maak.

Rozeldi Trollip van die ATKV het met konferensiegangers gepraat oor die ATKV en moedertaalonderrig, en Melinda van der Molen, ‘n afgetrede bibliotekaresse, het die gehoor op die punte van hulle stoele gehad met haar voorleesvernuf.

By die ATKV en VVA is die kwessie van moedertaalonderrig van kardinale belang. David Jantjies en Lukas Hanekom (albei van SAOOT) het sterk standpunte oor hierdie kwessie en het hul ervaring met die gehoor gedeel.  

Dokka Swart het die Doen en Leer-program aan konferensiegangers verduidelik deur middel van ‘n demonstrasie, en die gehoor was verras oor die resultate en moontlikhede van dié program.

Die organiseerders bedank graag alle vennote wat die Leeskonferensie moontlik gemaak het.

comments powered by Disqus