Skip to the content

ATKV, KKNK en Artéma wil kunste-liefhebbers bemagtig

Om ’n kunstefees van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se kaliber aan te bied is nie ’n maklike taak nie.

Daarom wil die ATKV, die Instituut vir Kunstebestuur en Ontwikkeling van die Noordwes-Universiteit (Artéma) en die KKNK mense wat ’n passie vir die kunste het, oplei en met die nodige gereedskap toerus om ’n sukses van hul loopbaan te maak.

Op 21 tot 23 Maart 2019 word ’n inleidende kortkursus tot entrepreneurskap in die kunste by die kunstefees aangebied.

Die KKNK het 20 mense van Oudtshoorn geïdentifiseer wat dié kursus gaan bywoon.

“Die kunste is die hart van gemeenskapsontwikkeling,” sê Chris de Bruyn, bestuurder van Artéma.

Artéma is enig in sy soort en fokus op opleiding in kuns- en kultuurbestuur en administrasie.

Volgens Chris het die afgelope 15 jaar opwindende sinergie-ontsluiting tussen die ATKV, Aardklop, KKNK en Artéma meegebring wat ’n verskil in mense se lewens maak.

“Daar is sowat 38 kursusse en werkswinkels aangebied waarin ongeveer 640 mense opgelei en bemagtig is.”

Dié kursus vind ook jaarliks by Aardklop in Potchefstroom plaas.

Dié omvattende kursus kyk na verskeie aspekte soos hoe om as ’n kunste-entrepreneur inisiatief te neem en suksesvol te wees, basiese boekhouding en die elemente van kuns en kultuur.

“Daar is baie uitdagings vir kunstefeeste,” sê Chris.

“Maar hulle het beslis ’n plek in Suid-Afrika en hoewel hulpbronne al hoe skaarser word, kan kunstefeeste met die regte houding en uithouvermoë oorleef. Dit is van kardinale belang om kunste-entrepreneurs te bemagtig om die toekoms van kunstefeeste te verseker.”