Skip to the content

ATKV opgewonde oor rieldanstoer in Gauteng

Die Griekwa Knersvlakterieldansers het derde in die o.20-afdeling gekom tydens die ATKV-Rieldansfinaal in 2018.
Die Griekwa Knersvlakterieldansers het derde in die o.20-afdeling gekom tydens die ATKV-Rieldansfinaal in 2018.

Wanneer ’n mens aan die woonbuurt Westbury dink, kom daar drogbeelde van dwelmmisbruik en bendegeweld te voorskyn, maar min mense besef hoe ryk dié woonbuurt aan kultuur en tradisie is.

Die ATKV gaan van 8 tot 13 April in Westbury en ander woonbuurte in Gauteng ’n rieldanstoer onderneem. Party van die gemeenskappe wat die ATKV gaan besoek, fokus op dans, dans en musiek, toneelspel of soos in Westbury se geval spog hulle met ’n wonderlike gemengde koor wat alles van Zoeloe, Engels en Afrikaans sing.

Volgens Morne van Staden, projekorganiseerder by die ATKV, gaan die ATKV se erfenisafdeling gemeenskappe in Alrapark, Geluksdal, Westbury, Riverlea, Bosmont, Edenpark, Reigerpark, Protea Glen, Toekomsrus, Eersterust, Ennerdale en Eldoradopark besoek.

“Tydens hierdie sessies sal die rieldanskenner Elias P. Nel by skole en gemeenskapsentrums besoek aflê en rieldans bekendstel. ’n Behoeftebepaling word gedoen om die waarde van ’n rieldansopleidingsprogram en -uitdunne hier te bepaal,” sê Morne.

Hy sê daar sal ook gesprekke tussen gemeenskapsleiers en die ATKV plaasvind om die gemeenskappe se kultuurbehoeftes te bepaal.

Fatima Abdool, koördineerder van dié program, meen die noorde is baie ingestel op hip-hop, maar daar is tog meer tradisionele kulture wat steeds deursyfer.

“Die promosie by die skole sal veral op die opleiding en ontwikkeling van kultuurerfenis onder die jeug fokus,” sê sy. 

Belangstellendes wat meer inligting oor die gesprekke wil bekom of van die gesprekke wil bywoon, is welkom om vir Morne van Staden by 074 363 3879 of mornev@atkv.org.za of vir Fatima Abdool by 071 242 9795 of fatimabibi3@gmail.com te kontak.